Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sê hy sal ondersoek instel na bewerings deur die gemeenskap van Kommagas in die Noord-Kaap wat betref die De Beersmyn se versuim om die gebied te rehabiliteer.
Dit het tydens openbare sittings aan die lig gekom waar besprekings gehou is oor onwettige mynbedrywighede wat tot die dood van 19 onwettige myners by die Bontekoemyn gelei het.
‘n Woordvoerder van die kommissie, Chantelle Williams, sê hulle sal die gemeenskap se kwellings ontleed om te sien wat gedoen moet word. De Beers het die gemeenskap se bewerings verwerp.
Die mynmaatskappy sê hy het ‘n dokument saamgestel oor al sy projekte wat daarop gemik is om die omgewing te ontwikkel.
‘n Woordvoerder sê die gemeenskap het reuse behoeftes en van die projekte is deel van De Beers se plaaslike ekonomiese ontwikkeling wat hulle onderneem bo en behalwe hulle maatskaplike en arbeidsverpligtinge.
