Stroom-op?

Nou die dag ‘n baie interessante Stroomop, die program op KykNet, gesien. Baie, baie interessant.

Dat Ton Vosloo en Koos Bekker knap sakemanne is, en innemende en gawe persone is, is nie te betwyfel nie. Maar wat hulle vermag het is net te goed om waar te wees. Ek meen, hier kom hulle van die Kaap af Transvaal toe en binne ‘n ommesientjie is Beeld die enigste koerant.

Ton vertel hy was vir ‘n jaar Harvard toe om, soos ek dit verstaan, bloot ‘blootgestel’ te wees aan allerlei heilsame invloede. Dit kos ‘n klomp geld om (met sy gesin?) te gaan staan en blootgestel wees en op die manier lyk dit vir my na ‘n stap in ‘n plan. Die feit dat Ton teruggekom het as ‘n ‘veranderde man’, soos hy dit stel, wys daardie stap van die plan was suksesvol.

Terloops, dis altyd vir my goed dat reis aanbeveel word om horisonne te verbreed. Die reisiger kom dan in aanraking met vreemdelinge waarvan die meeste nog nooit gereis het nie. Hierdie vreemdelinge wat nog nooit gereis het nie deel dan hulle sienings, uit hulle koerante verkry, met die reisiger en die reisiger keer terug met verbreedte horisonne. Hy sien nou dinge net soos die non-reisigers daar anderkant se koerante wil hê hulle dinge moet sien.

Evenwel, Ton kom toe daar anderkant tot die gevolgtrekking dat “ons kan nie so aangaan soos ons aangaan nie” en hy kom toe terug en verander dit. Merkwaardig, selfs vir ‘n buitengewoon bekwame man soos Ton Vosloo, is dit nie? Dink net, wat Helen Suzman en Van Zyl Slabbert en Colin Eglin en wie weet wie nog almal jare mee gesukkel het kom Ton-hulle uit die Kaap (en Harvard) uit hier aan en nie lank nie en ons gaan nie meer aan soos ons aangegaan het nie EN vra nog verskoning vir die manier waarop ons aangegaan het. ‘n “Far-king miracle”, verskoon my Engels. Daar is ‘n klankie in die staat Denemarke.

Wat dink Ton-hulle van die uiteinde van hulle storie? “Helen was toe al die tyd reg” reken Ton maar Helen het op ‘n kol gesê wat nou aangaan is nie wat sy in gedagte gehad het nie en nie waarvoor sy haar beywer het nie (en dit was meer as 4 jaar terug, dinge is nou nóg erger). Pik Botha het ook op ‘n kol gesê mens kon nie hierdie “gemors” destyds voorspel het nie (natuurlik verkeerd; die “dommes” het vir hom gesê dit gaan gebeur).

Dit word al hoe duideliker dat, hoe slegter dit gaan, hoe meer dokkies word gemaak om die oorgawe te regverdig. Die idee wat oorgedra word is dat, alhoewel plaasmoorde, korrupsie en wegholmisdaad nie mooi is nie, “apartheid” sleg genoeg was om die huidige gemors te regverdig. Ek sit “apartheid” in aanhalingstekens want niemand verduidelik eintlik wat hierdie apartheid nou eintlik was nie.

Ten slotte, hoe kan mens ‘n program “Stroomop” noem as hy handel oor mense wat stroomaf beweeg?

 

Maak 'n opvolg-bydrae