Mangaung eis sy tol in Pretoria

“Die ANC Mangaung kongres van Desember 2012 is besig om sy tol in Pretoria te eis”. So sê die streeksleier en leier in die raad van die VF Plus, raadslid Philip Van Staden.

Dit volg nadat die burgemeester se stadsrede, wat gister sou plaasvind, skielik verlede week in die raadsvergadering uitgestel is na 04 April 2013 en na verskeie berigte in die media dat die uitvoerende burgemeester, Kgosientso Ramokgopa, op pad uit is nadat hy openlik die Motlanthe-kamp by Mangaung ondersteun het.

Van Staden meen dat Ramakgopa eerder oop kaarte met die inwoners van Pretoria moet speel oor sy moontlike vertrek en dat sy volgehoue ontkenning in die verband dui op swak leierskap.

“Die VF Plus is van mening dat hierdie situasie tot gevolg kan hê dat die stad se bestuur erg daaronder kan lei en dat politieke kampe binne die ANC kan veroorsaak dat dienslewering nog net verder hierdeur belemmer kan word”.

Van Staden sê dat Ramakgopa net ‘n proporsionele aanstelling is en dat sy onguns by die Zuma-kamp die einde van sy politieke loopbaan kan beteken ten koste van die stad se inwoners.

“Geen stad kan voldoende bestuur word indien daar in die administrasie politieke verdeling voorkom nie. So ‘n situasie kan tot gevolg hê dat die twee kampe mekaar wil vernietig en kommunikasie binne departemente heeltemal gaan vernietig wat tot gevolg gaan hê dat die stad se administrasie tot ‘n stilstand geruk gaan word”.

Die VF Plus dring daarop aan dat die burgemeester dadelik moet bekend maak wat die stand van sake is en wanneer hy sy nuwe moontlike pos by MTN sal aanvaar.

Maak 'n opvolg-bydrae