Al-Sjabaab slaan weer in Kenia toe

Al-Sjabaab het weer in Kenia toegeslaan. Drie vroue in boerkas het ‘n polisiekantoor in Mombasa in Kenia al kletsend binnegdring, waar hulle een polisieman met ‘n mes aangeval het voordat hulle die gebou met behulp van ‘n petrolbom aan die brand gesteek het.

Die drie is op die toneel doodgeskiet.

Die polisie het ook ‘n selfmoord­gordel gevind wat nie ontplof het nie, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

Die stad Mombasa aan Kenia se kus het ‘n groot Moslembevolking en het die afgelope jare gereeld onder aanvalle deur Islamitiese militante deurgeloop.

Die vroue het onder die voorwendsel dat hulle ’n gesteelde telefoon wou aanmeld, Saterdagoggend by die polisiekantoor ingestap. ’n Petrolbom en ’n mes was in hul boerkas, ook bekend as boei-boei, versteek.

Twee polisiebeamptes is in die hospitaal opgeneem en word vir hul beserings behandel.

‘n Vrou by wie die drie vroue die nag vantevore tuis gegaan het, word aangehou. Drie ander mense is by die huis van een van die aanvallers aangekeer.

Die polisie het nie gesê aan watter militante groep die vroue verbind word nie, maar ’n ooggetuie op die toneel het gesê die vroue het gesê hulle is lojaal aan Al-Sjabaab.

Hulle het ook Arabiese slagspreuke soos “Alla uAkbar” tydens die aanval geskree.

Die Somaliese groep Al-Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het, het aanspreeklikheid vir die aanval in Mombasa aanvaar en sê die aanval is ter vergelding vir die troepe wat Kenia na Somalië gestuur het.

Duitse regering gebruik amptelik ‘volksmoord’ vir Herero-slagting

Die Duitse regering se spesiale gesant vir onderhandelinge oor die 1904-1908 Duitse koloniale volksmoord in Namibië, Ruprecht Polenz, en sy Namibiese eweknie, Zed Ngavirue, het vanaf 5 tot 7 September in die Duitse hoofstad, Berlyn, vergader.

Dit is die vierde rondte van onderhandelinge tussen die twee lande.

Die Namibiese afvaardiging het verteenwoordigers van die geraakte gemeenskappe en hooggeplaaste regeringsamptenare ingesluit.

Volgens ’n kort verklaring deur die Duitse ambassade in Windhoek, het die samesprekinge in ’n “goeie en konstruktiewe atmosfeer” plaasgevind.

Die volgende rondte sal later vanjaar in Namibië plaasvind waar die Namibiërs waarskynlik sal probeer om geld uit die Duitsers te pers.

Maar die Duitse regering weier om “vergoeding” te betaal aan Namibië. Daar word gesê dat hulle “ontwikkelingshulp” sal gee.

Die dryfkrag agter die Duitse inskiklikheid om die Armeense volksmoord verlede maand te erken het gesê dat hy nou sal druk toepas in die Bundestag om te stem oor die Herero-volksmoord.

“Ek dink dit is ons plig om vinnig hierdie volksmoord ook te erken,” het Cem Özdemir (foto) van die opposisie Groen Party gesê.

Die Herero-volksmoord is “baie belangriker” vir die Duitse parlement omdat dit Duitse troepe was wat “die vernaamste sondebok was,” het hy gesê.

Erdogan, die Turkse president, het die Duitse parlement van skynheiligheid beskuldig om die moord op Armeniërs deur Ottomaanse soldate as volksmoord te beskryf, maar nie die uitwissing van die Herero deur Duitsers nie.

Dit is egter nou reggestel, en Angela Merkel het erken dat die Duitse regering voortaan amptelik na die Herero-slagting as “volksmoord” sal verwys. Dit is bevestig in ‘n skriftelike verklaring in die Bundestag na ‘n parlementêre vraag.

Die Duitsers het dus vir die eerste keer in die geskiedenis historiese skuld erken vir wat tussen 1904 en 1908 in Namibië gebeur het.

Na Nkandla wag moeilike vrae oor kredietgraderings

President Jacob Zuma sal Dinsdag in die Nasionale Vergadering vrae van parlementslede beantwoord.

Dit volg ‘n dag nadat hy verklaar het dat hy die geld vir Nkandla gaan terugbetaal.

Die Grondwethof se beslissing dat Zuma byna agt miljoen rand moet opdok wat aan nie-veiligheidsopgraderings aan sy huis op Nkandla bestee is, het hom genoop tot die stap.

Die meeste bevindings van ‘n verslag van die Openbare Beskermer is deur die Hof bekragtig.

Die Presidensie en die Tesourie het vroeër bevestig dat Zuma die geld betaal het. Hy het ‘n huislening by die VBS Mutual Bank, ‘n Vendabank, bekom.

Die vrae aan die president sal glo handel oor besonderhede van die nuwe presidensiële koordineringsraad vir staatsbeheerde maatskappye, waarvan die president die voorsitter is.

Moontlike oplossings vir kredietafgraderings om te verseker dat arm mense so min as moontlik geraak word, sal ook behandel word, meen ontleders.

Beleggers moet Suid-Afrika as ‘n veilige beleggingsbestemming kan oorweeg, sê hulle.

Die ANC parlementslede sal ook vrae aan die president stel.

SA uitgedaag om Moslemveelwywery te erken

Die Vroueregsentrum gaan die Suid-Afrikaanse regering in die Wes-Kaapse Hooggeregshof uitdaag om Moslemveelwywery te erken.

Moslemvroue is glo ongelukkig oor die versuim om Moslemhuwelike amptelik te aanvaar.

Verskeie regeringsdepartemente insluitende Binnelandse Sake staan die aansoek teen.

‘n Prokureur, Hoodah Abrahams-Fayker, sê wanneer burgerlike of gewoontereghuwelike misluk, tree die reg in om regverdigheid tussen die eggenote te verseker en kinders te beskerm.

Abrahams-Fayker sê dit is nie die geval met Moslemhuwelike nie.

Sy sê hulle dien die aansoek in in die openbare belang omdat die gebrek aan erkenning vroue en kinders raak.

Mosambiekse magte val Renamo-basis aan

Die Mosambiekse weermag het ‘n basis wat gebruik word deur Renamo-rebelle, die hoof opposisie in die land, vernietig, het die polisie Sondag gesê.

Renamo (foto), wat voorheen ‘n 16-jaar lange burgeroorlog gevoer het tot en met 1992, het geweier om die resultate van 2014-verkiesing te aanvaar.

Hulle beweer die regerende Frelimo-party wat sedert onafhanklikheid 40 jaar regeer, bly deur korrupsie aan bewind.

Die basis in die sentrale distrik Morrumbala is gebruik om vragmotors vol goedere, busse en ander teikens aan te val, het die polisie gesê.

Renamo het in afgelope paar jaar ‘n reeks dodelike aanvalle in die land geloods om sy stem te laat hoor.

“Verdediging- en veiligheidsmagte het die hoofkwartier van Renamo in Zambezia (in distrik Morrumbala) Saterdagoggend bestorm en daarin geslaag om goedere wat gesteel is in die gebied terug te vind,” het die polisiewoordvoerder Jacinto Felix aan AFP gesê.

‘n Onafhanklike uitsaaier STV berig dat agt mense gedood is in Saterdag se botsing, maar nie die polisie of Renamo kon die dodetal bevestig nie.

Maandag sal vredesgesprekke tussen die regering en Renamo voortgaan in die hoofstad Maputo in die teenwoordigheid van internasionale bemiddelaars.

Die vredesgesprekke is in Augustus gestaak toe die partye nie kon ooreenkom oor ‘n skietstilstand nie.

Taxi-staking lei tot geweld in Diepsloot

Honderde pendelaars is in Diepsloot, noord van Johannesburg, gestrand gelaat weens ‘n taxi-staking in die gebied.

Die polisie patrolleer tans die lokasie na berigte van geweld.

Die stasiebevelvoerder van die Diepsloot Polisiestasie, Kwena Moitshela, sê die situasie is steeds gespanne.

Pendelaars probeer alternatiewe vervoerreëlings tref soos saamry-geleenthede na hulle werkplekke, maar daar was reeds voorvalle waar mense uit van dié voertuie geruk is.

Hy sê die polisie sal die situasie monitor, hoewel geen geweld tot dusver aangemeld is nie.

Fourways Review berig dat swaar verkeer op die R511 opgemerk is na gewelddadige protes deur taxibestuurders omdat pendelaars nie toegelaat word om privaatmotors te gebruik as vervoer nie.

Daar is bewerings deur die oproeriges dat drie bestuurders dood is in beweerde geweld in die afgelope week.

Aardskudding tref Tanzanië

Minstens 13 mense is dood en 203 beseer toe ’n ­aardbewing van 5,7 op die Richterskaal die ­noordweste van ­Tanzanië getref het, het plaaslike owerhede Saterdag aan die nuusagentskap AFP gesê.

Deodatus Kinawilo, ­distrikskommissaris van Bukoba, ’n dorp naby die middelpunt van die aardbewing, het gesê die situasie is tans kalm en onder beheer.

Sommige mense is reeds uit die hospitaal ­ontslaan.

Inwoners van Bukoba het vroeër gesê ­sommige ­huise het ingestort, en ­Augustinus ­Ollomi, die ­Kagera provinsie ­polisiehoof in beheer van die distrik Bukoba, het gesê “reddingsoperasies is aan die gang”.

Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname was die middelpunt van die aardbewing sowat 25 kilometer oos van die noordwestelike stad van Nsunga op die grens van die Victoriameer.

Die skudding is in Rwanda, Uganda en Kenia ook gevoel.

UKZN eis dat wit visekanselier bedank

Swart studenteleiers by die Universiteit van KwaZulu-Natal eis dat die visekanselier, dr Albert van Jaarsveld (foto) en die res van die senior bestuur bedank.

Die studenteraad se sekretaris-generaal, Sifiso Memela, sê die uitvoerende bestuur is “wanfunksioneel” met ooreenkomste met studente wat nie in werking gestel word nie.

Die jongste anti-wit krete kom nadat swartes die regsbiblioteek op die universiteit se Howard-kampus afgebrand het.

Die regsbiblioteek was 85 jaar oud en kosbare boeke is vernietig.

Hulle sê egter hulle is nie bereid om kompromieë aan te gaan oor hulle eis vir verteenwoordiging op die uitvoerende bestuur van die instelling nie.

Hulle eis ook dat klasgelde onmiddellik afgeskaf word sodat hulle gratis onderwys kan geniet.

Volgens Memela en ander swart leiers het die studente nou reeds geruime tyd probeer om al die beskikbare kanale te volg om die probleme by die instelling op te los.

Die studenteleiers het intussen ook gesê hulle is bereid om vreedsaam na hulle klasse terug te keer wanneer die vierde semester op die 20 ste van die maand begin.

Klasgeldverhogings en fooie bly steeds ‘n netelige kwessie waar die privaatsektor die universiteite sal moet bystaan indien hulle steeds wil inkoop by die heersende ideologie van swart uitnemendheid.

Vir die befondsing van universiteite is die regering tans die enigste bron van finansiële steun.

Swart sowel as wit studente sukkel om te betaal, en hoewel die privaatsektor kan help, is hulle traag om swart studente te ondersteun, en flink om wittes af te takel.

Daar steek ook geen waarheid in berigte ‘n student verkrag tydens die oproer nie, het die Universiteit van KwaZulu-Natal intussen in ‘n amptelike verklaring gesê.

“Dit is heeltemal onwaar, ons weet dit vir ‘n feit,” het UKZN se woordvoerder, Lesiba Seshoka aan eNCA gesê.

“Daar was ‘n berig van seksuele aanranding wat nie op die kampus plaasgevind het nie. Die persoon beweer dit is een van ons studente wat betrokke was, en as sodanig is ons ‘n belanghebbende party.”

Die EFF het die skuld vir die huidige krisis by die land se universiteite op die regering gepak.

‘n EFF-parlementslid, Leigh-Ann Mathys, sê ‘n regering wat omgee vir sy jeug sal hulle help om toegang te kry tot gratis, hoë kwaliteit onderrig.

Heersende droogte aan apartheid toegeskryf

Die regering het Suid-Afrikaners versoek om water te bespaar, weens droogtevooruitsigte wat nie binne die afsienbare toekoms gaan verander nie.

Apartheid is intussen weer blameer vir die heersende droogtetoestand. In die Oos-Kaap het ANC-lede gesê die waterskaarste is te wyte aan die ou wit regering.

Gedurende ‘n raadsvergadering in Queenstown, wou ‘n wit raadslid weet, waarom die watervoorraad in die Oos-Kaap so swak bestuur word.

‘n Swart raadslid het hom toe as volg geantwoord: “Dit is die skuld van die ou apartheidsregime. Julle het die damme te groot gebou en nou sukkel ons om die damme vol te kry wanneer dit reën. Julle moes die damme kleiner gemaak het, dan het dit gouer vol geword en dan het ons genoeg water gehad voor die dam weer leeg word.”

Die Interministeriële Taakspan oor Droogte sê die damvlakke in die land is op hulle laagste vlakke in jare.

Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Des van Rooyen, het in die Parlement op ‘n nuuskonferensie gesê die gemiddelde damvlakke teen die vyfde September was 53 persent teenoor 63 persent verlede jaar.

Die Mogale City-munisipaliteit wat Krugersdorp aan die Wes-Rand insluit, het intussen inwoners gevra om dringend water te bespaar.

Dit volg na ‘n riglyn van die Departement van Water en Sanitasie dat munisipaliteite in Gauteng onmiddellik hulle waterverbruik met 15 persent moet verminder.

Dit is weens die daling in die watervlakke in die Vaalrivier wat die hele Gauteng van water voorsien.

‘n Woordvoerder van die munisipaliteit, Nkosana Zali, sê mense behoort nie hulle motors met tuinslange te was nie, behoort korter te stort en krane toe te draai wanneer hulle tande borsel.

Die Nelson Mandelabaai munisipaliteit in die Oos-Kaap het reeds daarin gelaag om meer as ‘n duisend lekkasies in die Uitenhagegebied reg te maak.

Daar is reeds vierduisend lekkasies aangemeld omdat die talle lekplekke in die Uitenhage en Despatchgebiede nie herstel word nie.

Munisipale amptenare van Port Elizabeth het intussen opdrag gekry om naweke in die gebiede te werk om die lekplekke te herstel.

Cosas steun brand van klaskamer deur swart Kaapse skoliere

Die Congress of South African Students (Cosas) steun die betogings deur leerlinge van die Joe Slovo-skool in Khayelitsha wat reeds die skool gevandaliseer sodat dit tans tot stilstand gekom het. Leerlinge verwerp die skoolreëls oor laatkom, wat onder andere behels dat ‘n boete van R2 deur laatkommers betaal moet word.

Gister was die skool verlate (foto hier bo) nadat ‘n klaskamer aan die brand gesteek en onderwysers se motors beskadig is.

Volgens die provinsiale sekretaris van Cosas, Michael Malayo, beplan hulle om leerlinge van ander skole in Khayelitsha te vra om saam met Joe Slovo-leerlinge te betoog.

“Teen Vrydag (môre) wil ons al die leerlinge van die 21 skole (in die lokasie) gaan haal en na die LUR vir onderwys toe opruk,” sê hy.

Benewens die R2-boetes vir laatkommers, word die skoolhoof Majiet Parker, daarvan beskuldig dat hy lyfstraf toepas en boonop swanger meisies beboet.

Gister het leerlinge ‘n memorandum aan amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement oorhandig. Die betogende leerlinge wil hê dat Parker van die skool verwyder moet word.

Die skoolhoof ontken egter dat hy swanger meisies beboet, maar erken dat hy laatkommers met R2 elke beboet.

Gister was daar ‘n groot polisiemag by die skool nadat die klaskamer deur betogende leerlinge aan die brand gesteek is, asook motors van onderwysers beskadig is.