Strenger anti-rookmaatreëls

Die regering sal dié week strenger regulasies vir rokers bekendmaak, het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.

“Die nuwe regulasies sal onder meer die rook van tabak buite geboue verbied,” het hy op ‘n vergadering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes in Boksburg gesê.

Motsoaledi het gesê rokers wat buite geboue staan, waar die gebruik van tabak verbied word, het ‘n bekende gesig geword. Hulle staan by die ingang van geboue en besoedel net die lug buite, het die minister gesê.

“Mense wat uit of in die gebou gaan moet nou tot die nadeel van ons gesondheid deur ‘n rookwolk stap. Dit is onaanvaarbaar en die nuwe regulasies sal die praktyk verbied.”

Die regulasies teen rook in openbare plekke en sekere buiteluggebiede het ook kritiek ontlok.

Sommige organisasies glo dat dit ook sal inbreuk maak op die outonomie van individue binne hul eie ruimte.

Dit het Motsoaledi egter nie afgeskrik nie.

“Ons het nie die reguleringsproses gestaak nie en sal nie ophou terwyl mense steeds kies om te rook nie.”

Joe Maila, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die regulasies sal aangekondig word voor dit later in die week in die Staatskoerant gepubliseer word.

Miljoene misdade word nooit aangemeld nie

Meer as 3,3 miljoen misdade word elke jaar gepleeg, maar slegs die helfte daarvan word aangemeld, het ‘n opname deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) aangetoon.

Die SAIRR het gesê volgens inligting van Statistiek Suid-Afrika is sowat 1,7 miljoen (52%) nie in 2011 by die polisie aangemeld nie.

“Die syfers sluit in 82 000 sake van huisroof en 8 000 kapings wat nie aangemeld is nie.”

“Eenduisend moordsake – drie elke dag – is nie daardie jaar aangemeld nie.”

Kerwin Lebone, van die instituut se navorsingsdepartement, het gesê die besteding op privaatsekuriteit het van R2 miljard in die 1990’s gestyg tot sowat R50 miljard in 2011.

“Al die feite saam dui daarop dat sekere groepe van die bevolking ‘n gebrek aan vertroue in die polisie het.”

Lebone het gesê die opname is ‘n belangrike dokument wat jaarlikse polisiesyfers reflekteer.

Staatsdepartemente betaal nie dienstegelde in Matlosana nie

Plaaslike regering in Suid-Afrika is besig om in duie te stort. Agterstallige dienstegelde van munisipaliteite beloop al R86 miljard. Ek het reeds in 1997 gewaarsku dat die regeringsvlak wat gaan inplof, plaaslike regering gaan wees omdat dienstegelde nie betaal word nie. Dit is nou 16 jaar later en dit is besig om te gebeur.

Behalwe swak dienslewering weens onkundigheid en onbevoegdheid as gevolg van kaderontplooiing, bestaan daar ‘n kultuur van nie-betaling van dienstegelde. Hierdie kultuur is geskep deur die ANC se Civic-organisasies in die aanloop tot 1994. Die ANC-regering kon sedertdien nie daarin slaag om hierdie kultuur te omskep in ‘n verantwoordelike betalingskultuur nie.

Die regering self stel die swakste voorbeeld van wanbetaling. In die Matlosana-munisipaliteit wat Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein insluit, is die uitstaande gelde vir elektrisiteit van staatsdepartemente tot einde Februarie amper R49 miljoen. Eskom wil nou die krag afsit vir Klerksdorp want hy betaal nie sy elektrisiteitsrekening nie. Die departemente van Openbare werke, Gesondheid, Onderwys en Vervoer betaal net eenvoudig nie. As die staat so swak voorbeeld stel, hoekom sal ander wanbetalers skielik besluit om te betaal.

Die werklikheid is dat getroue betalers en die ekonomie van ‘n plek soos Klerksdorp tot stilstand kan kom as gevolg van die traag-my-nieagtige houding van die regering se staatsdepartemente.

Ek doen hiermee ‘n beroep op elke verantwoordelike minister om hulle departement ernstig aan te spreek om dadelik hulle rekeninge te betaal. Indien Eskom die kragtoevoer na Klerksdorp en sy omliggende woonbuurtes afsny, moet die mense weet dit is weens die laksheid van hierdie agbare ministers wat hier sit en niks doen nie.

Toordokter kook boer

‘n Toordokter van Lesotho was druk besig om liggaamsdele van ‘n boer te kook toe hy in hegtenis geneem is, het die Vrystaatse hooggeregshof gehoor.

Die verhoor van Moeketsi Hopolong Mokoena (34) is Maandag voor regter A. Kruger tot 22 April uitgestel, berig die Volksblad.

Luidens die klagstaat teen hom was hy besig om liggaamsdele van Jan van Wyk (82) van die plaas Jakkalsfontein te kook.

Die swart man het na bewering vir Basie Venter (65) van die plaas Biesiesvlei die aand van 30 Maart 2009 voor sy vrou buite hul plaashuis doodgeslaan.

Die staat voer aan Mary Venter het gesien hoe Mokoena haar man met ‘n stuk yster doodslaan. Mokoena het daarna gevlug, vermoedelik na Van Wyk se plaas. Dit is sowat 5 km verder.

Die staat sê toe hulle by Van Wyk se plaas opdaag, het Mokoena homself, bebloed, op die stoep tuisgemaak.

Van Wyk se erg geskende lyk is in die sitkamer gekry. Hy is dood weens ‘n snywond aan die nek.

Van sy liggaamsdele is in ‘n pan gekry waar Mokoena besig was om dit gaar te maak.

Mokoena is ‘n jaar ná dié moorde tot pasiënt van die president verklaar.

Die staat voer nou aan dat hy, ná suksesvolle behandeling, verhoorbaar is.

Zoeloes, Afrikaners se menings oor Zuma

Al hoe meer Suid-Afrikaners is ongelukkig met pres. Jacob Zuma, en sy goedkeuringsvlak in stedelike gebiede is op die laagste vlak sedert die laaste algemene verkiesing, het ‘n nuwe peiling getoon.

Zuma se goedkeuringsvlak het in middel-Februarie op slegs 41% te staan gekom, het die navorsingsgroep TNS South Africa gesê.

Sy goedkeuringsvlak was in Februarie verlede jaar op 55% en in Augustus op 48%.

Die persentasie mense wat nie tevrede is met die manier waarop hy sy werk doen nie, het gestyg tot 51%.

Dit is die eerste keer wat dit die 50%-merk oorskry, het TNS gesê.

Altesaam 2 000 volwassenes van sewe groot metropolitaanse gebiede het aan die peiling deelgeneem.

TNS het gesê die goedkeuringsvlak het gewissel tussen die verskillende bevolkingsgroepe. Altesaam 54% van swart mense was tevrede met Zuma, teenoor slegs 13% van wittes, 22% van bruin mense, en 14% van die Indiese bevolking.

“Hierdie verteenwoordig almal dalings van ‘n gemiddeld van nege persentasiepunte sedert Augustus 2012,” het die maatskappy gesê.

Mense wie se huistaal Zoeloe is, het die hoogste waardering van 64 persent gehad, ‘n effense daling van 71 persent in Augustus.

Afrikaans en Engels was gemiddeld 17 persent, af van 24 persent. Daar is nie onderskei tussen die twee taalgroepe nie, maar die Engelse respondente is waarskynlik meer negatief oor die president.

Ander taalgroepe se gemiddeld is 47 persent, af van 55 persent, wat die Engelse negatiewe sentiment jeens die president beklemtoon.

Die respondente is ook gevra of hulle dink die ANC se adjunk-president Cyril Ramaphosa sal ‘n goeie president maak.

TNS het gesê dat ‘n derde van die respondente gesê het hulle “weet nie”. Maar 41 persent het gesê hy sal, terwyl 25 persent nie so gedink het nie.

Geweld breek uit by steenkoolmyn

Geweld het uitgebreek te midde van die onbeskermde staking by Exxaro se Grootgeluk steenkoolmyn naby Lephalale in Limpopo.

Meer as 15 mense is beseer en sowat tien mynwerkers is in hegtenis geneem. Die polisie het rubberkoeëls en pepersproei gebruik om die mynwerkers wat buite die myn betoog het, onder beheer te bring.

Sommige van die beseerde mynwerkers is na ‘n hospitaal in Marapong geneem. Die tien wat in hegtenis geneem is, is leiers van die vakbond die NUM.

Hulle sal na verwagting aangekla word van openbare geweld. Die staking oor bonusse by vyf van Exxaro se steenkoolmyne in Limpopo en Mpumalanga, duur reeds tien dae lank.

ANC veroordeel plaasmoord

Die premier van Noordwes, Thandi Modise, sê mense wat boere aanval moet permanent uit die gemeenskap verwyder word.

Sy het gereageer op die moord op die 64-jarige Johan Stiglingh op sy plaas by Ventersdorp die naweek. Stighling is buite sy huis op die plaas Sterkstroom vermoor en sy 64-jarige vrou, Cora aangeval en na bewering ook verkrag.

Die polisie ondersoek ‘n saak van moord, poging tot moord, huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer en het reeds een persoon in hegtenis geneem.

Modise sê oortreders van geweld teen die boeregemeenskap, en veral bejaardes het geen plek in die gemeenskap nie. Sy het haar skok oor die voorval uitgespreek en ‘n beroep op inwoners gedoen om die polisie te help om die saak af te handel.

ANC-Jeugliga ontbind

Die ANC sal die Limpopo provinsiale uitvoerende komitee asook die nasionale leierskap van die ANC-jeugliga ontbind.

Die twee strukture het adjunk-president Kgalema Motlanthe se mislukte poging om president Jacob Zuma by die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in Desember uit die kussings te lig, ondersteun.

By die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering het Zuma-lojaliste aangevoer dat die jeugliga ‘n nuwe nasionale leierskap moet vorm.

Hulle wou ook die liga se hele provinsiale leierskap ontbind, maar daar is besluit dat slegs die nasionale uitvoerende komitee van die liga, gelei deur die waarnemende president Ronald Lamola, ontbind moet word.

Lamola het by Julius Malema, wat uit die regerende party geskors is, oorgeneem.

Die afdanking van die liga se leierskap kom ten spyte van Lamola se olyftak aan die ANC.

Die voormalige Reserwebankbaas, Tito Mboweni sal glo die span vorm om te help om die party in Limpopo te herbou.

Die party se nasionale werkkomitee sal met jeugliga-leiers ontmoet om die taakspan te bespreek.

Die ANC se besluit beteken dat Cassel Mathale, premier van Limpopo, afgedank kan word.

Sy provinsiale regering is aan flarde, met vyf van sy departemente onder administrasie as gevolg van wanbestuur.

Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe sal na verwagting die besluite van die nasionale uitvoerende komitee vandag aankondig.

Boer by Ventersdorp doodgeslaan

In die jongste  plaasaanval by Sterkstroom, naby Ventersdorp is ‘n boer dood geslaan en sy vrou erg beseer nadat sy met ‘n bofbalkolf geslaan is, berig Beeld.

Cora Stighlingh (63) het met ‘n gebreekte arm na ‘n buurplaas bestuur om hulp te ontbied. Haar man, Johan (65), is doodgeslaan in dieselfde aanval.

Die Stighlinghs wou kerk toe gaan toe twee swart mans hulle net ná 09:00 op hul plaas, oorval het, sê hul skoonseun, Deon Vosloo.

Cora is in die Wilmedpark-hospitaal in Klerksdorp waar haar arm geopereer is. Sy het ook kop- en rugbeserings opgedoen.

Die aanvallers het met twee selfone en vermoedelik nog items, waaronder wapens, gevlug.

Brig. Thulani Ngubane, kommunikasiehoof van die polisie in Noordwes, het gesê die polisie ondersoek ‘n saak van moord, poging tot moord en huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Winnie geskok oor aantygings

Winnie Madikizela-Mandela is glo geskok oor aanmerkings van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat sy moontlik vir die moord op twee mans vervolg gaan word.

Die voormalige presidentsvrou se prokureur, Pops Templeton Mageza, het in ‘n verklaring gesê dat sover sy kliënt se kennis strek, is hierdie saak reeds ten tyde van uitgesaaide openbare verhore van die Waarheid- en Versoeningskommissie afgehandel.

Jerry Richardson is destyds vir die moorde gevonnis en lewenslank tronkstraf opgelê. Hy is intussen in die gevangenis dood.

Richardson se bewerings dat hy deur Madikizela-Mandela genader is om die mans te vermoor, kon nie bewys word nie.

Mageza het gesê hy kan nie dink dat nuwe bewyse na vore gekom het nie.

Die NVG se departement vir vermistes het gewaarsku dat dit maande kan neem voordat die twee lyke wat vroeër die week opgegrawe is, geïdentifiseer kan word.

Die oorskot is na bewering dié van twee jong aktiviste, Corlett “Lolo” Sono en Siboniso Anthony Shabalala. Hulle het onder die vorige bewind  as koeriers vir die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, gedien.

Madikizela-Mandela het hulle na bewering in 1988 daarvan verdink dat hulle inligting aan die polisie gelek het. Hulle het dieselfde jaar spoorloos verdwyn.

Die Waarheid- en Versoeningskommissie het later in ‘n verslag bevind Madikizela-Mandela en haar omstrede Mandela United Football Club, was die laaste om Sono en Shabalala lewend te sien.