Winnie Madikizela-Mandela is glo geskok oor aanmerkings van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat sy moontlik vir die moord op twee mans vervolg gaan word.
Die voormalige presidentsvrou se prokureur, Pops Templeton Mageza, het in ‘n verklaring gesê dat sover sy kliënt se kennis strek, is hierdie saak reeds ten tyde van uitgesaaide openbare verhore van die Waarheid- en Versoeningskommissie afgehandel.
Jerry Richardson is destyds vir die moorde gevonnis en lewenslank tronkstraf opgelê. Hy is intussen in die gevangenis dood.
Richardson se bewerings dat hy deur Madikizela-Mandela genader is om die mans te vermoor, kon nie bewys word nie.
Mageza het gesê hy kan nie dink dat nuwe bewyse na vore gekom het nie.
Die NVG se departement vir vermistes het gewaarsku dat dit maande kan neem voordat die twee lyke wat vroeër die week opgegrawe is, geïdentifiseer kan word.
Die oorskot is na bewering dié van twee jong aktiviste, Corlett “Lolo” Sono en Siboniso Anthony Shabalala. Hulle het onder die vorige bewind as koeriers vir die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, gedien.
Madikizela-Mandela het hulle na bewering in 1988 daarvan verdink dat hulle inligting aan die polisie gelek het. Hulle het dieselfde jaar spoorloos verdwyn.
Die Waarheid- en Versoeningskommissie het later in ‘n verslag bevind Madikizela-Mandela en haar omstrede Mandela United Football Club, was die laaste om Sono en Shabalala lewend te sien.
