ANC blameer DA vir brand

Die brand waarin twee mense gesterf het en meer as 4 000 mense in Kayamandi, Stellenbosch, dakloos gelaat is, is die Demokratiese Alliansie se skuld, volgens die ANC.

“Die DA moet volle verantwoordelikheid neem vir hierdie ramp asook sy patetiese pogings om inwoners ná die brand by te staan,” het Marius Fransman, Wes-Kaapse voorsitter van die regerende party, gesê.

Hy sê dié tragedie kon vermy gewees het as die opposisieparty se provinsiale regering toegespits was om dienste behoorlik te lewer en armes van huise te voorsien.

“Die realiteit is dat hierdie regering van wit bevoorregting min, indien enigiets vir hierdie inwoners voel…”

Mmusi Maimane, ‘n woordvoerder van die DA, het die uitlatings as “goedkoop politiekery” afgemaak.

“Dit is walglik dat hy hierdie tragedie wil verpolitiseer…”

Maimane sê die Stad Kaapstad, die stadsraad en die provinsie se departement van sosiale ontwikkeling het reeds omvattende ondersteuning verskaf.

Hy sê 200 tydelike strukture is reeds gebou om die brandslagoffers skuiling te bied.

Luidens die jongste verslag is 1 250 wonings afgebrand en die totale aantal dakloses is 4 500.

Maak 'n opvolg-bydrae