Strenger anti-rookmaatreëls

Die regering sal dié week strenger regulasies vir rokers bekendmaak, het Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.

“Die nuwe regulasies sal onder meer die rook van tabak buite geboue verbied,” het hy op ‘n vergadering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes in Boksburg gesê.

Motsoaledi het gesê rokers wat buite geboue staan, waar die gebruik van tabak verbied word, het ‘n bekende gesig geword. Hulle staan by die ingang van geboue en besoedel net die lug buite, het die minister gesê.

“Mense wat uit of in die gebou gaan moet nou tot die nadeel van ons gesondheid deur ‘n rookwolk stap. Dit is onaanvaarbaar en die nuwe regulasies sal die praktyk verbied.”

Die regulasies teen rook in openbare plekke en sekere buiteluggebiede het ook kritiek ontlok.

Sommige organisasies glo dat dit ook sal inbreuk maak op die outonomie van individue binne hul eie ruimte.

Dit het Motsoaledi egter nie afgeskrik nie.

“Ons het nie die reguleringsproses gestaak nie en sal nie ophou terwyl mense steeds kies om te rook nie.”

Joe Maila, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die regulasies sal aangekondig word voor dit later in die week in die Staatskoerant gepubliseer word.

Maak 'n opvolg-bydrae