Al hoe meer Suid-Afrikaners is ongelukkig met pres. Jacob Zuma, en sy goedkeuringsvlak in stedelike gebiede is op die laagste vlak sedert die laaste algemene verkiesing, het ‘n nuwe peiling getoon.
Zuma se goedkeuringsvlak het in middel-Februarie op slegs 41% te staan gekom, het die navorsingsgroep TNS South Africa gesê.
Sy goedkeuringsvlak was in Februarie verlede jaar op 55% en in Augustus op 48%.
Die persentasie mense wat nie tevrede is met die manier waarop hy sy werk doen nie, het gestyg tot 51%.
Dit is die eerste keer wat dit die 50%-merk oorskry, het TNS gesê.
Altesaam 2 000 volwassenes van sewe groot metropolitaanse gebiede het aan die peiling deelgeneem.
TNS het gesê die goedkeuringsvlak het gewissel tussen die verskillende bevolkingsgroepe. Altesaam 54% van swart mense was tevrede met Zuma, teenoor slegs 13% van wittes, 22% van bruin mense, en 14% van die Indiese bevolking.
“Hierdie verteenwoordig almal dalings van ‘n gemiddeld van nege persentasiepunte sedert Augustus 2012,” het die maatskappy gesê.
Mense wie se huistaal Zoeloe is, het die hoogste waardering van 64 persent gehad, ‘n effense daling van 71 persent in Augustus.
Afrikaans en Engels was gemiddeld 17 persent, af van 24 persent. Daar is nie onderskei tussen die twee taalgroepe nie, maar die Engelse respondente is waarskynlik meer negatief oor die president.
Ander taalgroepe se gemiddeld is 47 persent, af van 55 persent, wat die Engelse negatiewe sentiment jeens die president beklemtoon.
Die respondente is ook gevra of hulle dink die ANC se adjunk-president Cyril Ramaphosa sal ‘n goeie president maak.
TNS het gesê dat ‘n derde van die respondente gesê het hulle “weet nie”. Maar 41 persent het gesê hy sal, terwyl 25 persent nie so gedink het nie.
