Meer as 3,3 miljoen misdade word elke jaar gepleeg, maar slegs die helfte daarvan word aangemeld, het ‘n opname deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) aangetoon.
Die SAIRR het gesê volgens inligting van Statistiek Suid-Afrika is sowat 1,7 miljoen (52%) nie in 2011 by die polisie aangemeld nie.
“Die syfers sluit in 82 000 sake van huisroof en 8 000 kapings wat nie aangemeld is nie.”
“Eenduisend moordsake – drie elke dag – is nie daardie jaar aangemeld nie.”
Kerwin Lebone, van die instituut se navorsingsdepartement, het gesê die besteding op privaatsekuriteit het van R2 miljard in die 1990’s gestyg tot sowat R50 miljard in 2011.
“Al die feite saam dui daarop dat sekere groepe van die bevolking ‘n gebrek aan vertroue in die polisie het.”
Lebone het gesê die opname is ‘n belangrike dokument wat jaarlikse polisiesyfers reflekteer.
