Die ANC sal die Limpopo provinsiale uitvoerende komitee asook die nasionale leierskap van die ANC-jeugliga ontbind.
Die twee strukture het adjunk-president Kgalema Motlanthe se mislukte poging om president Jacob Zuma by die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in Desember uit die kussings te lig, ondersteun.
By die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering het Zuma-lojaliste aangevoer dat die jeugliga ‘n nuwe nasionale leierskap moet vorm.
Hulle wou ook die liga se hele provinsiale leierskap ontbind, maar daar is besluit dat slegs die nasionale uitvoerende komitee van die liga, gelei deur die waarnemende president Ronald Lamola, ontbind moet word.
Lamola het by Julius Malema, wat uit die regerende party geskors is, oorgeneem.
Die afdanking van die liga se leierskap kom ten spyte van Lamola se olyftak aan die ANC.
Die voormalige Reserwebankbaas, Tito Mboweni sal glo die span vorm om te help om die party in Limpopo te herbou.
Die party se nasionale werkkomitee sal met jeugliga-leiers ontmoet om die taakspan te bespreek.
Die ANC se besluit beteken dat Cassel Mathale, premier van Limpopo, afgedank kan word.
Sy provinsiale regering is aan flarde, met vyf van sy departemente onder administrasie as gevolg van wanbestuur.
Die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe sal na verwagting die besluite van die nasionale uitvoerende komitee vandag aankondig.
