Die land is egter geheel en al sonder minerale hulpbronne en moet elke metaal en die energie om dit te verwerk, invoer. Vanselfsprekend hou die land voorraad aan van wat hulle nodig het, maar as dit opraak, hou Japan op om ‘n industriële mag te wees, kort en klaar.
Japan voer metale van verskillende bronne in, maar olie slegs uit die Persiese Golf en dit is, soos die afgelope weke getoon het, ‘n kwesbare bron. Spanning tussen Iran en Saoedi-Arabië, asook die VSA, kan verdoemende gevolge hê vir volgehoue olietoevoer. Die bepalende faktor is natuurlik die Golf se besonderse geografie: Die nou kanaal bekend as die Straat van Hormuz. As daardie klein kanaaltjie sluit, is dit nag vir die wêreldekonomie.
Vir Japan sal dit meer as hoër pryse beteken. Dit kan beteken dat olie net eenvoudig nie bekombaar is nie, selfs nie teen enige prys nie. Dit sal noodlottig wees vir Japan se ekonomie. Om nie van die globale ekonomie te praat nie.
Toe die Golfstate in 1973 ‘n olie-embargo uitgeroep het, het Japan dieselfde dilemma gehad. Omdat die land aangewese was op die VSA om hulle olietoevoer te beskerm, het die besef dat Amerika dit nie kan waarborg nie, ‘n politieke sowel as ekonomiese krisis geskep. Die olieskok het Japannese laat besef hoe kwesbaar hulle is, want hulle voer 100% van hulle olie in.
Om die skok wat ‘n oliedroogte kan veroorsaak te versag, voer hulle steenkool in en het Japan in kernkrag belê. Die eiland is die wêreld se grootste invoerder van oorsese steenkool en die derde groostste produsent van kernkrag, net ná die VSA en Frankryk. ‘n Derde van Japan se elektrisiteit kom van kernkrag. Daarom is Australië ‘n onontbeerlike vennoot vir Japan, vanweë die steenkool en uraan wat hulle verskaf.
Die Tweede Wêreldoorlog het ook met ‘n energiekrisis begin. Die Japannese het China binnegeval en na die val van Nederland en Frankryk in Indonesië en Indochina onderskeidelik, was Japan bekommerd oor tin, rubber en olie-invoere. Om Japan se olietoevoer af te sny nadat hulle Indochina ingeval het, het die VSA al die olie van Indonesië opgekoop. Die Japannese het totale ekonomiese ineenstorting in die gesig gestaar en besluit dat hulle sal moet optree. Pearl Harbour was die noodlottige uitvloeisel daarvan.
Dit is nog nie duidelik hoe ernstig die kernkrisis is nie, maar die vooruitsigte lyk al hoe donkerder. Olieprobleme in die Golf, verlies aan kernkrag en radio-aktiewe uitstraling vanweë ‘n beskadigde kernkragsentrale, kan die Japannese volk knak. Kernkrag was Japan se veiligheidsnet en dis weg.
Die kwesbaarheid van die land is blootgelê: Japan beheer nie sy energiebronne of die toevoerroetes daarvan nie. En die aarde se wipspelturigheid het dié keer nie saamgespeel nie. Die vraag is nou hoe die politieke stelsel daarmee gaan handel. Die wêreld wag in spanning…
