Tog meen die Wêreldgesondheidsorganisasie dat Suid-Afrika nou die vyfde plek ter wêreld beklee as dit kom by die inspan van tiermelk.
Afrika is een van die twee wêreldstreke waar die gebruik styg.
Suid-Afrikaners verorber elk jaarliks die ekwivalent van sowat tien liter skoon alkohol. As in gedagte gehou word dat sowat die helfte van die bevolking geen alkohol gebruik nie, en nog ‘n groot groep matig drink of geleentheidsdrinkers is, dan dui dit daarop dat sommige burgers hul alkohol behoorlik by die vat kafdraf. Alkoholgebruik verskil per provinsie, met die Wes-Kaap wat met die jongste beskikbare syfers die toon aangee, en die Noord-Kaap waar die grootste persentasie vroue te diep in die bottel loer.
Hierdie “prestasie” kom teen ‘n prys. Enkele jare gelede is bereken dat alkohol-misbruik die land minstens R9 miljard per jaar kos. Dit word oor ‘n wye spektrum soos ongelukke, gestremdheid as gevolg van ongelukke, hospitalisering, fetale alkoholsindroom en vele meer gemeet.
Bykans elke verslag wat oor die probleem handel, verwys ook daarop dat dié probleem MIV-positiewe mense gou-gou na die graf help. Ook in lande waar MIV – Vigs nie so ;n groot probleem nie hou die gemiddelde lewensverwagting in ‘n mate van die per capita alkoholgebruik verband.
Talle wesies het hul ouers verloor weens die feit dat die bestuurder van ‘n ander motor aangeklam agter die stuurwiel was.
Predikante en ander terapeute voer ‘n daaglikse stryd waar Oom Tas die derde party in huwelike geword het.
Alkohol is ook ‘n depressant – nogal misleidend omdat mense dit juis gebruik om vir ‘n kort tydjie beter te voel. Die probleem is dat daar elke keer dieper in die bottel gekyk moet word om die gevolglike depressie deur die kortstondige euforie te vervang.
Die CDP se munisipale raadslid in Pretoria, Richard Botha, vertel hoe die Tshwane-munisipaliteit probeer het om wanbetalers se krag te ontkoppel. Kort voor lank is hulle deur ‘n groot beskonke, dreigende skare omring wat hulle gedwing het om die ontkoppelde huishoudings weer op te koppel. Op die oog af – geld om aan Bacchus te offer is daar skynbaar wel, maar nie om vir gebruikte krag te betaal nie.
Kombineer die omvang van daggagebruik op straat met die tonne dagga wat die polisie gereeld vernietig, en ander dwelms soos Tik en Crack, gom en oor die toonbank medikasie wat misbruik word, en die prentjie is nie baie mooi nie.
Suid-Afrika is die verkragting-hoofsetel in die wêreld, en wat moordkoers betref, het Suid-Afrika volgens sommige aansprake ook dié titel onlangs bygevoeg.
Dit alles is ‘n swak advertensie vir ‘n land wat statisties een van die grootste persentasies selfverklaarde Christenbevolkings huisves. Die pastorale impak hiervan is so groot dat kerke en predikante baie tyd aan interne pastorale krisisse moet spandeer en die res van hul gemeentes ook nog regverdig moet bedien. Dit het tot gevolg het dat kerke nie altyd by hul profetiese roeping, veral die tot orde roep van die regering, uitkom nie.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.