Protes of straatoorlog?

Kort na die ANC-jeugliga die Egiptiese opstand tot die suksesse van die peperduur en hoogs omstrede wêreldjeugfees verklaar het, en pres. Jacob Zuma aldus die ANC se uitleg gesê het die land onder ANC-bewind kan met die hemel vergelyk word, het mense hul lewens in protesoptredes verloor.

Op verskeie plekke woed diensleweringsproteste, en ‘n groep joernaliste het volgens berigte baie amper self in die slag gebly. Volgens berigte het die polisie in een geval skerppunt-ammunisie aangewend.

Dit sal binnekort blyk of dit die aanbreek van ‘n nuwe seisoen van stedelike onluste inlui, en of dit weer na groot dele van die land gaan uitbrei.

Boonop vind dit saam met die vervoerstaking plaas, wat ook nie oral ewe vreedsaam verloop nie.

Bykans onafhanklik hiervan word daar in sekere kringe ontleed wat die kanse is dat Suid-Afrika ‘n soortgelyke lot as Egipte te beurt sal val. In teorie is die kanse goed.

Dit is geen geheim nie dat die ANC deurlopend hemelhoë verwagtinge aanblaas. Trouens, kort-kort verskyn daar syfers, soos onlangs deur die Instituut vir Rassebetrekkinge, wat daarop dui dat daar inderdaad groot vordering gemaak is met water- en kragvoorsiening, asook spoel-toilette.

Dit is egter duidelik dat ‘n groot deel van die publiek nie dieselfde persepsies koester nie. En mense reageer op hul persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid self.

Maar wat is die werklikheid in elk geval.? Die ouditeur-generaal se verslae vertel jaar vir jaar ander verhale as die suksesverhale. Koerantberigte lig die publiek in oor sake soos babasterftes as gevolg van besoedelde water, rou riool wat weens die verwaarlosing of oorbelading van rioolstelsels in riviere beland, van munisipaliteite wat nie hul kragrekenings aan Eskom kan vereffen nie – ‘n bitter ironie omdat munisipaliteite die krag teen ‘n wins aan verbruikers verkoop. Of veronderstel is om dit te doen, en waar die armes gehelp word, las die staat daarvoor by.

Intussen is die strate die ene slaggate. Vullis word dae lank nie verwyder van die sypaadjies waar dit volgens ‘n skedule uitgeplaas is nie en nie ‘n woord oor probleme daarmee word aan die inwoners gekommunikeer nie.

Werkloosheid werk armoede en die onbekostigbaarheid van dienste in die hand. Tog, toe amptenare van ‘n metroraad krag van wanbetalers gaan ontkoppel het, is hulle deur ‘n groot skare gekonfronteer en gedwing om weer die opkoppelings te doen. Volgens die amptenare was so te sê die hele skare dronk. Geld vir drank het hulle, maar nie om krag te betaal nie.

Politieke sosioloë se modelle van relatiewe deprivasie word weer afgestof. Hiervolgens ontstaan daar ‘n rewolusionêre gees wanneer die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid te groot word.

Wanneer die politici hul kiesers ‘n hemel op aarde beloof, maar hulle kry iets wat hulle hel op aarde gee, is die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid groot.

Dan het konflik die potensiaal om soos ‘n veldbrand landswyd te versprei. Of dit nou oor dienslewering gaan, of dit gaan oor stakers wat woedend is vir ander wat nie staak nie, of dit woede vir onwettige immigrante is wat om skaars werksgeleenthede meeding met die buitelanders wat nie sulke hoë eise stel nie – enigiets deug om die vonk in die kruitvat te wees.

En dan is daar plaasaanvalle en plaasmoorde.

Daar is gewelddadige stedelike misdaad.

Daar is politici wat ‘n permissiewe voorbeeld op die morele terrein plaas.

Of dit die potensiaal het om die regering te laat val is waarskynlik ‘n vergesogte gedagte. Dit het wel die potensiaal om die regering nog wilder beloftes te laat maak, en beleggers oorsee koue rillings te gee. En dus nog minder middele om die beloofde hemel op aarde te skep.

Kyk ook na PRAAG se nuwe peiling op die tuisblad: 

Gaan swak dienslewering lei tot massa-opstande?торцевые головки,лобановский политик

Maak 'n opvolg-bydrae