Die onvoltooide nuusverklaring oor plaasaanvalle

Hier sit ek op ‘n Saterdagaand en slaan weer die toetse oor plaasaanvalle en plaasmoorde.

Ek het al bitter baie oor plaasmoorde en plaasaanvalle geskryf – selfs gedigte, en ‘n paar is gepubliseer. Plaasaanvalle het al dikwels naby aan my gekom. Ons kindertydse vakansiebuurseun by Kleinbrak is saam met sy swaer met masjiengewere afgemaai, my skoonma is al aangeval, en so ook my skoonpa se broer op die plaas langsaan en onder meer met ‘n mes gesteek. ‘n Kollega se pa is aangeval, en so ook my universiteitskoshuismaat se grootmaakpa.

Maar die afgelope dag of twee was daar tog ‘n nuutjie vir my.

As vryskutskrywer skryf ek onder meer nuusverklarings vir ‘n politieke party.

Moderne tegnologie maak dit moontlik dat ek die konsepverklaring in Bloemfontein kan skryf, en dit per e-pos na die partyleier in Pretoria kan stuur, en dan die finale soms baie gou terug te kry om landswyd uit te stuur.

Maar dié keer was dit anders. Nog voor die plaasaanval of plaasmoord se nuusverklaring reg was om uitgestuur te word, was daar weer ‘n plaasmoord of ‘n plaasaanval, en weer een en weer een.

Uiteindelik, so lyk dit, het ons neuse voorgekry en die verklaring uitgestuur. Kort daarna kom die nuus – die boer wat die laaste aangeval en gewond is, het aan sy kopwond beswyk.

En dan maar weer ‘n nota uitstuur.

Ironies is die laaste nuusverklaring juis uitgestuur met ‘n vorige, waarvan die ink nog skaars droog was, daaraan vasgeheg.

Môre, iewers na Nagmaal, moet ek weer op my voete wees om my weeklikse humorrubriek, Herrie se kerrie te skryf.

Dit gebeur dikwels dat ek dit weens die grusame aard van die nuus waarmee ek soms – dalk selfs dikwels – werk, soos hierdie naweek uitstel en uitstel aan die skryf van die rubriek.

Maar môre se rubriek …dit gaan swaar gaan.

Dit word nie makliker en minder ontstellend om oor plaasaanvalle te skryf nie. ‘n Stukkie van ‘n mens se siel sterf nie elke keer nie. Nee, die rou wond word net al pynliker en pynliker, soms kloppend pynlik soos wanneer Willemientjie en Anri kleintyd slagoffers van die wrede werklikheid word.

Anri, die kind wat die land geruk het om vir ‘n salfie teen die eina te vra. Nee, geen pleistertjie, geen salfie, help teen dié pyn nie.

Die syfer waarvan die tellertjie onverbiddelik aantik, word nooit net syfers nie. Agter elke syfer is ‘n hartverskeurde gesin, familie, geskokte bure, ‘n gedemoraliseerde gemeenskap, plaaswerkers sonder heenkome…

Die sielkundiges sê die omstandighede, die afgesonderdheid, magteloosheid …werk saam dat dit erger as trauma is – dit is viktiminlogie.

Dit help ook nie dat sommiges hof toe wil gaan om hul “reg” te verdedig om liedjies te sing oor hoe boere doodgemaak moet word nie.

Syfers, so erg soos dit mag wees, sal nooit die ingrepe vertel – die trauma van ‘n ou man wie se voetsole afgeskil word om te vertel waar sy kluis is wat nie bestaan nie.

Interpol se syfer van 300 boere per 100 000 per jaar wat in Suid-Afrika vermoor word, teenoor die land se gemiddeld van sowat 35 per 100 000 per jaar vertel ‘n kliniese, verdoemende syferverhaal. Maar dit kan nie die emosie vasvang van ‘n dogter wat bel en vertel hoe haar pa gemartel is nie.

Dit kan nie die rou hartseer tydens so ‘n begrafnisdiens uitdruk nie.

En dit word nie makliker om hieroor te skryf nie. Nooit nie.

Ons, wat darem op ‘n afstand staan – bid ons vir genoeg vir troos, vir bewaring?

Of is dit lekkerder ontsnapping om die “geestelike” sy “gevoed” te hou deur in briewekolomme of internet-geriewe ander Christene te veroordeel omdat hulle hul Christenskap effens anders beleef en uitleef?

как мыть саунуtopcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae