‘n Vergete saak

Af en toe gebeur dit dat die oorlog verby is voor die verloorders mooi besef hulle was in ‘n oorlog betrokke. Volgens oorlewering het ‘n kabinet so lank getob oor die vraag of hulle oorlog moet verklaar, dat, toe die vergadering verdaag, hul land klaar oorgeneem was.

Oud-Kovsies, studente en dosente is skynbaar ewe verdwaas om te ontdek die UV se leuse is verander om God weg te laat. Die UV gee die versekering daar is wyd oorleg gepleeg, maar tot dusver het niemand skynbaar in die openbare media of op die internet na vore gekom en verklaar hy of sy is geraadpleeg nie. Toe die bugerregte-organisasie, Afriforum, ‘n peiling hou om die gevoel te probeer bepaal, het die studentedekaan na berig word uit sy kassie gespring en die betrokkenes glo selfs gedreig dat hulle toegesluit sal word as hulle met die media praat. Die peiling het bykans eenparige teenkanting teen die UV-besluit getoon.

Die wyse waarop die proses hanteer is het baie skade, ook aan onskuldige partye, aangerig. Selfs van die media wat min aandag aan die protes gegee het, is in die gerugte wat soos veldbrande geloop het van medepligtigheid, of agter die skerms inbinding beskuldig. Die internet-reaksie op Rapport se berig wat die storie na die oopte geruk het, dui daarop dat die kwessie hoogs emosioneel is. In privaat gesprekke gee dosente te kenne dat dit ‘n hoogs emosionele kwessie is, en dat hulle bang is om openlik standpunt in te neem.

Dit is ook vreemd dat dosente wie se name in die aanvanklike berig as ongelukkig oor die saak genoem word, onder andere die moderator van die NG Kerk, prof. Piet Strauss, sedertdien skynbaar stil oor die kwessie geraak het. Dit verhoog die persepsie van erge intimidasie.

Benewens Afriforum het die FAK ‘n sterk bewoorde, maar ellelange en akademies gelaaide “mediaverklaring” uitgereik, wat nie sonder baie harde skaafwerk en inkorting vir publikasie geskik sou wees nie. Nogtans, as die nuuswaarde gekoppel aan die FAK se statuur beoordeel word, is dit vreemd dat dit nie buite die internet beduidend die media in gehaal het nie. Die FAK is immers die sambreelliggaam vir instansies soos die ATKV, die Voortrekkers, die Afrikanerbond en vele meer. Die mediaverklaring het dus nie in ‘n lugleegte gestaan nie.

Ook ander instansies het by navraag laat blyk dat “die geveg nog gaan begin.”

Vandag plaas Volksblad ‘n lang artikel deur die afgetrede teoloog en Kovsie-dosent, prof. Johan Janse van Rensburg. In breë trekke wys hy daarop dat die redes wat die UV-owerhede voorhou vir die besluit, nie water hou nie. Hy vra ook die vraag oor hoe dit moontlik is dat die naam van God in die leuse problematies in ‘n moderne Suid-Afrika kan wees, terwyl dit in die grondwet, onder meer deur die sing van die Volkslied, nie aanstoot gee nie? Hy gebruik verskeie ander internasionale voorbeelde.

Is prof. Janse van Rensburg se artikel nou die vonk by die kruitvat?

Die vraag bly steeds hoe dit moontlik is dat so iets kon gebeur sonder dat daar ‘n groter storm was? Was dit die produk van knap strategiese kommunikasie aan die kant van die UV, of naakte intimidasie om ontevredenheid in die doofpot te hou.

Of…was Christene oor ander kwessies te op mekaar gekeer om behoorlik aandag aan ‘n gemeenskaplike probleem te skenk? Dit het immers saamgeval met die verskyning van die Trojaanse perd-boek, wat op sy beurt saamgeval het met die debatte rondom ‘n fundamentalistiese of gereformeerde benadering tot Skrifverstaan. Ander gewilde hoede wat Christene vir mekaar opsig is post-moderniste en perdebouers. Dit woed ook in die ander Afrikaanse susterkerke. Die tipe goed wat Christene in veral internetrubrieke oor ander Christene skryf, is skokkend skandalig. Van die koerante het internet-kommentare ontkoppel by briewe wat ‘n godsdiensstrekking het, ander het streng plasingskeuring toegepas, en Volksblad het twee keer in die gedrukte weergawe die debat gestaak.

Die geheelbeeld is een van opperste onverdraagsaamheid en veroordeling, en stoot die meeste mense af. Dan is dit nie so moeilik om ‘n werklik saakmakende saak stil-stil deur te voer nie, want selfs al word dit bemerk en aangeval, raak die kritiek onsigbaar en onhoorbaar teen die oorverdowende kritiek wat Christene op mekaar neerwerp.

справки 086-уОлександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae