“‘n Wonderlike einde aan die sage,” noem Jansen dit. Die man het kennelik goeie advies van sy regsspan gehad oor sy kanse om die studente te vervolg.
Elke tranetrekker-cliché wat Jansen kon oprakel is aangewend in die hoop dat die swart rassistiese berg terug sal verander in ‘n molshoop. Dit sal interessant wees om te weet of die vier werklik ‘n pot lensiesop aangebied is om ‘n skadevergoedingeis te laat vaar.
Die Reitz-vier kry Donderdag ‘n private ete, danksy die vrygewige rektor, en les bes, die geleentheid om die vyf laggende werkers, wat met die maak van die Reitz-video “verneder” is, om verskoning te vra.
Dit sal die eerste keer wees dat die voormalige wit studente en die swart werkers saam in een vertrek sal wees, volgens die rektor. Wel ja, dis nou as die prof gerieflikheidshalwe vergeet het daar was ‘n video iewers ter sprake en ons woon in Suid-Afrika.
Die videomakers, R.C. Malherbe, Johnny Roberts, Schalk van der Merwe en Danie Grobler, sal Vrydag in die genoemde versoeningseremonie ‘n verklaring voorlees waarin hulle Emmah Koko, Rebecca Adams, Naomi Phororo, Mittah Ntlatseng en David Molete om verskoning vra dat hulle die voorblaaie van koerante regoor die wêreld versier het dmv valse beweringe, onwaarhede en kwade wil.
En nee, nog is het einde niet. Die hiperboliese opeenstapeling van welwillendheid teenoor die “wit rassiste” het ‘n oortreffende trap.
Belangrike aankondigings sal ook uit oudpres. Nelson Mandela se kantoor en die presidensie gedoen word oor die paar minute se studentikose kykgenot waarmee die vier ‘n eerste prys op ‘n Reitz-kultuuraand losgeslaan het.
