Talle sterftes word in Nieu-Seeland gevrees nadat ‘n aardbewing wat 6.3 op die Richterskaal geregistreer het, Christchurch getref het.
Geboue het ineengestort en voertuie is onder puin begrawe nadat die aardbewing Dinsdag die stad geskud het.
Berigte oor slagoffers en skade is nog skraps. Volgens die polisie is daar verskeie ongevalle. Premier John Key sê detail oor die sterftes kan nog nie bevestig word nie.
Verskeie geboue is erg beskadig en talle mense is vasgekeer.
Ooggetuies sê die aardbewing het Christchurch se ikoniese katedraal verwoes.
