Suid-Afrika het uitendelik ‘n tree gegee om tot die “elite” groepering van Bric-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China) te tel, nadat ondersteuning deur China en Rusland vir Pretoria se toetrede gekom het. Daar word verwag dat Suid-Afrika formeel aanvaar sal word as ‘n nuwe lid in April. Bric sal dan Brics word.
Maar wat behels die inskakeling by die nuwe “boustene”, Brics?
Die Bric-lande oefen ongetwyfeld belangrike diplomatieke en ekonomiese invloed uit in wat nou as ‘n multi-polêre wêreldorde beskou kan word.
Die Bric-lande is die vier grootste ekonomieë in die ontwikkelende wêreld en Goldman Sachs het voorspel dat, danksy die vinnige groeikoerse, hulle gekombineerde ekonomieë dié van die huidige rykste lande binne die volgende vier dekades kan inhaal.
Byna 40% van die wêreld se totale buitelandse valutareserwes is in dié vier gekonsentreer. Hulle verteenwoordig meer as 40% van die wêreld se bevolking en meer as ‘n kwart van die wêreld se grondgebied.
Anders as die meeste Westerse lande, hanteer die Brics (met die uitsondering van Rusland) die wêreldwye ekonomiese resessie relatief goed. Dit was deels as gevolg van hul onortodokse ekonomiese beleidsrigtings, wat afgewyk het van die sogenaamde Washington-konsensus. Die Brics, veral China, het ‘n sleutelrol gespeel in onlangse globale groei gedurende die resessie en het aktief ‘n rol gespeel in die hervorming van die internasionale finansiële stelsel in die G20.
Kortom, maak die besluit om toe te tree op papier baie goeie sin, maar te midde van Suid-Afrika se skynbare diplomatieke triomf bly ‘n aantal vrae onbeantwoord oor die politieke implikasies van die besluit.
Daar is munt uit die herposisionering van Suid-Afrika se toetrede tot ‘n diplomatieke blok te slaan, ongetwyfeld. Maar wat? Hoe pas dit by die land se breër globale strategie in?
Een ooglopende kwessie is die feit dat menseregte nie in een van die lidlande hoog aangeslaan word nie. Gaan hierdie gebrek uiteindelik binnelandse politieke sake beïnvloed?
Ander kwessies, soos mededinging tussen China en Indië, China se historiese alliansie met Pakistan, Beijing se veldtog teen Indië se (en Japan se) bod vir die Verenigde Nasies Veiligheidsraad van permanente lidmaatskap en onopgeloste grens geskille tussen Beijing en Delhi, gaan Suid-Afrika se aandag ook opeis. Dis ‘n ver tree weg van Westerse politieke aangeleenthede wat voorheen Suid-Afrika ingesluit het.
Die sogenaamde “demokratisering” van globale besluitnemingsliggame, soos die VN, en internasionale finansiële instellings, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds, pryk hoog op die Bric-lande se agenda.
Benewens die noord-suid en ryk-arm diskoers, het Suid-Afrika Bric minder nodig as voorkeurhandelsvennoot as andersom. Die Wêreldbank het aangetoon dat dit baie makliker in Suid-Afrika is om sake te doen as in enige van die Bric-lande aangesien hulle gebuk gaan onder tariefstruikelblokke sowel as komplekse en beperkende binnelandse regulasies. As sodanig, is dit onvrugbare grond vir opbrengs en belangrike handels-en beleggingsgeleenthede.
Suid-Afrika se posisie as leier van die Afrika-kontinent het aan die land ‘n sekere internasionale gewig verleen. Ons land se toetrede tot Brics het egter aan China die trofee oorhandig as Afrikaleier. Daardie bakstene gaan dalk swaar begin weeg in ons bagasie…
