Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag gesê dié aansoek sal Dinsdag in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor word.
“Ja, ons tree tussenbeide, omdat liedere van bevryding nie ‘n Malema-kwessie is nie,” het Mantashe gesê.
“Die liedere is die hart van waarvoor ons [die ANC]gestaan het en waarvoor ons baklei het. Dit sal wees om ons erfenis te onteer. Ons kan nie maak of dit ‘n Malema-kwessie is nie – die liedere is ouer as hy.”
Afriforum het Maandag gesê hulle is verras deur die ANC se besluit om aansoek te doen om verlof om tussenbeide te tree.
“Dit is skokkend dat die ANC dieselfde week waarin hoëprofiel-plaasmoorde wyd woede ontlok het, kies om hul stukke ter ondersteuning van dié haat-liedjie in te dien,” het die organisasie se prokureur, Willie Spies, in ‘n verklaring gesê.
Volgens Spies het Mantashe in sy beëdigde verklaring aangevoer die omstrede liedjie “Dubula iBhunu” (Skiet die boer) is ‘n “ANC-lied” wat deel uitmaak van die “geskiedenis van die bevryding van Suid-Afrika van Apartheid”.
Mense is gefrustreerd met die ANC-regering se onvermoë om gewelddadige misdaad, en veral plaasmoorde, aan te spreek, het Spies gesê.
Die ANC het hierop geantwoord met ‘n pleit om “haat-liedjies” uit die struggle-era as deel van hul erfenis en eiendom te beskerm.
“Met haat-liedjies as ‘erfenis’ is dit geen verrassing dat die ANC se enigste nalatenskap anargie, wanadministrasie, korrupsie en geweld is nie,” het Spies gesê.
Die saak hou verband met Malema se herhaaldelike gebruik van die term “Skiet die boer”.
