Honderde Ethiopiese soldate het gister Mogadisjoe, hoofstad van Somalië, binnegestroom. Dit volg op vier dae van hewige gevegte met Moslem-rebelle waarin honderde mense dood is en duisende ander gevlug het. Water- en kostekorte dra tot die burgerlike bevolking se ellende by.
Die afgelope paar dae se konflik was die ergste wat Mogadisjoe die afgelope vyftien jaar beleef het. ’n Ethiopiese aanslag verlede week teen vegters van die Moslem-beweging (wat in Desember verdryf is) het tot die hernieude geweld aanleiding gegee.
Volgens ooggetuies is die strate in die Somaliese hoofstad vol ontbindende lyke en baie inwoners het hulle huise inderhaas ontruim. Die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap meen dat sowat 10 000 mense Mogadisjoe die afgelope paar dae verlaat het, wat die aantal vlugtelinge sedert Februarie vanjaar op 100 000 te staan bring.
Ethiopiese troepe staan die Somaliese regering tans by om van Moslem-vegters uit die suide en sentrale gedeeltes van Somalië ontslae te raak. Daar word vermoed dat die Moslem-rebelle bande met Al-Kaida het. Die Ethiopiese soldate is veronderstel om met ’n vredesmag van die Afrika-unie (AU)vervang te word. Tot dusver het die AU egter net daarin geslaag om sowat 1 500 Oegandese soldate na Somalië te stuur. Suid-Afrika het aangekondig dat die land weens beperkte kapasiteit nie tot die vredesmag kan bydra nie.
Ethiopië se aartsvyand, Eritrea, het Oeganda intussen gewaarsku om sy vredestroepe aan Somalië te onttrek en gewaarsku dat daar ”ernstige gevolge“ gaan wees as Oegandese soldate nie onmiddellik die land verlaat nie.
Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, hoop dat ’n nuwe prys van vyf miljoen dollar vir goeie leierskap Afrika-staatshoofde sal aanspoor om hulle lande beter te regeer. Annan sal aan die hoof staan van die komitee wat die toekenning gaan maak.
Die toekenning staan bekend as die Mo Ibrahim-prys en is veronderstel om Afrika-leiers meer bewus te maak van menseregte en demokrasie. Die ses lede van die komitee het die afgelope naweek vir die eerste keer in Genève vergader. Hulle is, benewens Annan, Mary Robinson, voormalige president van Ierland, Salim Salim, gewese eerste minister van Tanzanië, Ngozi Okonjo-Iweala, voormalige minister van finansies van Nigerië, Martti Ahtisaari, voormalige president van Finland en Aicha Bah Diallo, gewese minister van onderwys van Guinee.
Annan meen swak regering is ’n probleem in die grootste deel van Afrika. Die vasteland is ook die armste streek in die wêreld met ’n hoë voorkoms van allerlei siektes.
Annan het geen Afrika-leier by die naam genoem nie. Hy het verder geweier om vrae oor Zimbabwe te beantwoord. Hy het wel die rol van die burgerlike samelewing in Afrika geprys en meen dat hierdie burgerlike bewegings staatshoofde deesdae dwing om meer aandag aan menseregtekwessies te gee. ”Daar is ’n jonger generasie van slim, geskoolde Afrikane wat hopelik ook die politiek sal betree en hierdie druk sal volhou.“
Die jaarlikse toekenning word deur die Soedanese sakeman, Mo Ibrahim, geborg. Die prys sal gaan aan oudpresidente en gewese eerste ministers van Afrikalande suid van die Sahara wat in die drie jaar wat die toekenning voorafgaan, uitgetree het en bewys van bekwame leierskap gelewer het terwyl hulle nog aan bewind was. Wenners sal vyf miljoen dollar oor ’n periode van tien jaar ontvang en daarna 200 000 dollar per jaar vir die res van hulle lewens, met ’n verder 200 000 dollar per jaar aan die liefdadigheidsorganisasie van hul keuse. In vergelyking hiermee beloop die Nobelvredesprys maar 1,5 miljoen dollar.
Die naam van die eerste wenner sal in Oktober vanjaar bekendgemaak word.
Dat rooftogte al hoe meer soos militêre aanvalle begin lyk, is gewis. Gister het tien persone gepoog om ’n geldwa in Linbropark, ’n kantoorpark in Johannesburg, te beroof. Een veiligheidswag is volgens die polisie doodgeskiet.
Volgens die polisie se skakelbeampte, Cheryl Engelbrecht, het die rowers om 16.15 op ’n Coin-geldwa wat binne die kantoorpark geparkeer was, begin skiet.
Hierna het ’n grootskaalse skietery gevolg.
’n Veiligheidswag van ’n ander maatskappy wat op die skietery gereageer het, is gedood en sy wapen en selfoon is gesteel.
Volgens Nick Dollman van Netcare 911 het ’n vlieënde dokter van ’n noodhelikopter gepoog om noodchirurgie op die toneel toe te pas maar die wag het aan sy beserings beswyk.
Engelbrecht sê die twee Coin-veiligheidswagte binne die geldwa is in die hospitaal behandel vir beserings wat deur gebreekte glas as gevolg van die skietery veroorsaak is.
Een van die aanvallers was na bewering in ’n Coin-veiligheidsuniform geklee, het sy gesê.
Dis nie duidelik of die geldwa besig was om kontant op te laai of af te lewer nie, maar geen fondse is gesteel nie, het Engelbrecht gesê.
Volgens die polisie was ongeveer tien mense by die roofpoging betrokke.
Die Nobelpryswenner, Nadine Gordimer, het Saterdag die Legioen van Eer-toekenning van die Franse regering ontvang. Dit het plaasgevind tydens ’n funksie by die Pretoria-woning van Denis Pietton, die Franse ambassadeur in Suid-Afrika.
Volgens Pietton wou die Franse regering op hierdie manier ”’n groot skrywer vereer.“
”Deur u ’n Offisier van die Legioen van Eer te maak, wil ons ook hulde bring aan ’n simboliese figuur van die stryd teen apartheid, daardie absurde en verskriklike stelsel wat op ’n onrealistiese wyse gepoog het om rasse te skei.“ Volgens hom is Gordimer se werk ’n bewys van ”die triomf van menslike emosies oor wettige segregasie.“
Gordimer is tans 83 jaar oud. Sy het in 1991 die Nobelprys vir letterkunde ontvang. Verskeie van haar boeke is destyds deur die Nasionale Party-regering verban.
Volgens die skrywer is sy ”oorweldig“ deur die eer. Sy het oor haar voorliefde vir Franse letterkunde gepraat en Marcel Proust en Jean-Paul Sartre in hierdie verband uitgesonder. ”Ek ontvang die toekenning met dankbaarheid en nederigheid,“ het sy gesê.
André Brink, Miriam Makeba, Desmond Tutu en Kader Asmal is ander Suid-Afrikaners aan wie die Legioen van Eer al toegeken is.
Gordimer is bekend vir romans soos July’s People en The Conservationist. Haar jongste boek, Get a Life, is verlede jaar met gemengde reaksie begroet. Later vanjaar verskyn ’n kortverhaalbundel van haar getiteld Beethoven was One Sixteenth Black.
Sy was in Oktober 2006 in die nuus toe sy in haar Johannesburg-woning deur rowers oorval, beroof en in ’n besemkas toegesluit is.
Duisende Zimbabwiese werkers gaan na verwagting vandeesweek die tuig neerlê soos wat die druk op president Robert Mugabe toeneem vanweë sy bewind se gewelddadige onderdrukking van die opposisie en die ekonomiese ineenstorting van die land.
“Ons verwag dat almal gaan deelneem,” het ZCTU-segsman Kumbulani Ndlovu aan AFP gesê. Die oproep is aan almal gerig, van staatsamptenare tot winkeleienaars en bankpersoneel.
Mugabe word allerweë verkwalik vir die geweld en die ekonomiese krisis wat in die land heers, met die wêreld se hoogste inflasiekoers op 1730 persent en vier uit vyf mense wat werkloos is.
Werkers vra dat hul minimumloon opgestoot word na een miljoen Zimbabwiese dollar, wat gelykstaande is aan 4000 Amerikaanse dollar teen die snel veranderende wisselkoers, vanaf 90 000 Zim-dollar.
Die ZCTU het verklaar dat die algemene staking uitgeroep is omdat die owerhede in gebreke gebly het om die verslegtende ekonomiese krisis aan te spreek.
Maar die regering het werkers gemaan om nie op die stakingsoproep te reageer nie, omdat dit polities gemotiveer sou wees.
“Die regering het verneemd at individue in die ZCTU wat hulself met die opposisiepolitiek van die Beweging vir Demokratiese Verandering vereenselwig… wil gesien word dat hulle deelneem aan die huidige Westers geondersteunde geweld wat daarop gemik is om ’n bewindsverandering in Zimbabwe teweeg te bring,” het die minister van arbeid, Nicholas Goche, verklaar.
In September is vakunies gedwing om hul planne vir grootskaalse anti-regeringsbetogings te laat vaar nadat die organiseerders almal tydens ’n polisieklopjag opgesluit is.
Verlede maand is verskeie BDV-amptenare, waaronder die leier Morgan Tsvangirai, in hegtenis geneem en aangerand by ’n anti-regeringsvergadering – slae waarvoor sy mededinger “gevra het”, aldus Mugabe.
“Die regering van Zimbabwe behoort stappe te neem om die ekonomiese ineenstorting aan te spreek,” het die nasionale sambreelvakbonde van Nigerië, Ghana, Zambië, Malawi, Nederland, Finland en Denemarke in ’n gesamentelike standpunt verklaar wat in Zimbabwe se onafhanklike weekblad, The Standard, gepubliseer is.
Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, COSATU, het gesê dat dit Dinsdag gaan betoog in solidariteit met Zimbabwiese werkers “en hul stryd teen ’n ekonomiese ramp en toenemend venynige aanvalle op hul lede en leiers”.
Die Sunday Times in Johannesburg het intussen berig dat ten minste 49 000 Zimbabwiërs elke maand onwettig na Suid-Afrika stroom.
Mugabe, wat Zimbabwe sedert onafhanklikheid van Brittanje in 1980 regeer, is Vrydag verkies om weereens as die regerende Zanu-PF-party se kandidaat in die presidensiële verkiesings aanstaande jaar te staan.
Die Britse minister van buitelandse sake, Margaret Beckett, het gister gesê dat Mugabe “verantwoordelik” gehou word vir die aanranding van nege opposisielede wat volgens haar ’n aanduiding was van die uiterstes waartoe hy in staat is om “aan mag vas te klou”. Volgens haar, “is dit verdere getuienis van hoe laag Mugabe sal daal ten einde aan die mag vas te hou”.
’n Regsverteenwoordiger van die opposisie-BDV het gesê dat die groep om 23.00 GMT uit die hospitaal deur staatsveiligheidsagente verwyder is. Hulle is Saterdag daarin opgeneem weens beserings wat hulle verlede week tydens die polisieklopjag in die hoofstad, Harare, opgedoen het.
“Hulle is uit die sale geneem sonder dat hulle deur die hospitaal ontslaan is,” het Alec Muchadehama gesê. Sommige het steeds druptoestelle aangehad toe hulle weggeneem is.
Volgens Muchadehama het hy die groep in die laatmiddag by Harare se sentrale gevangenis opgespoor nadat hy verskeie polisiestasies aangedoen het.
Hy het gehoop om Maandag hof toe te gaan vir ’n hofbevel wat die nege sou toelaat om sonder verdere polisie-inmenging hospitaal toe te gaan.
Die bekende Paryse filosoof en meningsvormer, Alain Finkelkraut, was verlede week in Israel om die Hebreeuse vertaling van sy boek L’avenir d’une négation (Die toekoms van ‘n ontkenning, 1982) bekend te stel. In Woensdag 28 Maart se uitgawe van die Israelse dagblad Haaretz word daar verslag gedoen oor sy betoog voor ‘n uitgesoekte groep plaaslike politici en intellektuele wat deur die Instituut vir politieke beplanning vir die Joodse volk (IPBJV) gereël is.
“Die Franse Jode (waarvan daar 700 000 is – redakteur) het slegs ‘n toekoms indien Frankryk ‘n nasie bly; daar is geen moontlike toekoms vir Jode in ‘n multikulturele samelewing nie, want die mag van die anti-Joodse groepe sal moontlik groter wees,” het hy volgens die Israelse koerant gesê.
“In Frankryk heers daar ‘n stryd tussen die bourgeoisie en die immigrante, en wie ook al enigiets teen die immigrante sê, word as ‘n rassis beskou,” het Finkelkraut voortgegaan. “Die Christendom word aanmekaar aangeval, maar dis verbode om enigietys negatiefs oor Islam kwyt te raak, want dis ‘n godsdiens van onderdruktes en indien u dit sou kritiseer, is dit omdat u ‘n rassis is.”
Volgens Haaretz, wou Alain Finkielkraut nie onthul vir wie hy in die komende Franse presidentsverkiesing gaan stem nie. Die sukses van mnr. Sarkozy, het hy beklemtoon, “vloei daaruit dat hy geen sin vir politieke korrektheid het nie”, ‘n begrip wat die filosoof as “die weiering om die feite te aanvaar” definieer. Die probleem is egter dat “hy deur Links, en nou deur die sentriste, as ‘n fascis beskryf word. Hy sal hetsy as gevolg daarvan verkies word, hetsy om dieselfde rede verslaan word,” meen hy.
In November 2005 het ‘n lang onderhoud met Alain Finkielkraut wat insgelyks in die sentrum-linkse Israelse dagblad gepubliseer is, ‘n storm ontketen weens uitlatings wat op dié stadium as “rassisties” beskou is. “Hulle vertel ons dat die Franse sokkerspan ‘n reënboog is… Trouens, die hele span is vandag net swart, iets wat die hele Europa laat grinnik,” het hy in 2005 gesê.
Maar dis sy ontleding van die onluste in die Paryse voorstede wat opspraak verwek het: “Daar is gesê dat die onluste te wyte was aan hul maatskaplike omstandighede en dat ons daarin ‘n opstand van jongmense teen diskriminasie en werkloosheid moes sien. Die probleem is dat die meeste swart of Arabies is, met ‘n Moslem-identiteit… Dis duidelik dat ons hier met ‘n opstand van ‘n etnies-religieuse aard te make het.”
Hy het destyds die “koel mense” kwalik geneem vir hul verdraagsaamheid en engelagtigheid jeens die “nuwe verworpenes van die aarde”, soos die swart nasionalis Frantz Fanon se beroemde boek heet. Volgens Finkielkraut in 2005, “is daar hartstogtelike haatspraak teen die hele Frankryk. Al hierdie haat en geweld kom in die onluste na vore. Om die onluste as ‘n reaksie jeens Franse rassisme te beskou, is om jouself blind te hou vir ‘n veel groter haat: die haat vir die Weste, die Weste wat beskou word as enigste skuldige aan alle misdaad.”
“Verbeel u dat dit Blankes was soos in Rostock in Duitsland,” het die filosoof vervolg. “Onmiddellik sou elkeen sê: fascisme sal nie toegelaat word nie! As ‘n Arabier ‘n skool afbrand, is dit protes. As ‘n Blanke dit doen, is dit fascisme. Ek is kleurblind. Boosheid is boosheid, ongeag kleur. En dié boosheid is, vir die Jood wat ek is, geheel en al ontoelaatbaar.”
Na die storm wat sy woorde veroorsaak het, het die filosoof om verskoning gevra en gemeen dat hy “die slagoffer van ‘n enorme misverstand” was en beklemtoon dat dié verklarings “’n sameflansing was wat nie eie aan hom was nie”.
Onluste het vandeesweek in die gebou en gange van ’n stasie in die Franse hoofstad uitgebreek toe ongeveer 50 polisiebeamptes met ’n skare van 300 jeugdiges, hoofsaaklik swartes en Arabiere, slaags geraak het. Winkelvensters is gebreek, asblikke is aan die brand gesteek en sporadiese gevegte het tot eenuur in die oggend op 29 Maart geduur.
Die aanleiding tot die onluste het geskied toe ’n kondukteur ’n jong Kongolees, Angelo Hoekelet, om sy treinkaartjie op die platform van die Gare du Nord gevra het. Hierdie stasie bedien sowel noordelike Europese state soos België en Nederland as die noordelike voorstede van Parys waar groot getalle Arabiese en swart immigrante saamgetrek is. Hoekelet het beweer dat hy wel oor ’n kaartjie beskik het, maar dat hy dit laat val het, ’n verskoning wat nie vir die kondukteur aanvaarbaar was nie.
Hier is ‘n flash-video van die onluste wat by die Gare du Nord in Parys uitgebreek het (die video is ongeveer 3 Mg groot en sal binne u blaaier soos Internet-Explorer of Firefox speel):
Gewoonlik word ’n boete in so ’n geval uitgeskryf, maar dit gebeur ook dat ’n identiteitskontrole uitgevoer word om seker te maak dat die oortreder nie ’n onwettige immigrant is nie. Die Kongolees het hom teëgesit, waarna ander immigrante-jeugdiges begin het om die polisie te tart en om die winkels en ’n foto-outomaat aan te val. Volgens berigte was daar geen vooraf beplanning aan die onluste nie en het dit spontaan begin plaasvind. Volgens die vrouepolisie-offisier wat duidelik op die videomateriaal te siene is, maak die groot aantal gange van die moltreingedeelte van die stasie dit baie moeilik om oortreders vas te vat en om “behoorlik te kan werk”.
Wat ook opval, is die dissipline van die Franse polisie en hul goeie toerusting. In weerwil van die gewelddadige optrede van die onlusmakers, is niemand beseer nie.
Sedert 2005 toe grootskaalse oproer onder immigrante in die Paryse voorstede uitgebreek en duisende motors uitgebrand is, heers ’n groot debat in Frankryk oor die toekoms van die land met sy toenemende aantal swart en veral Arabiese immigrante wat nie met Frankryk identifiseer nie, swak op skool presteer en ook oor ’n hoë werkloosheidsyfer beskik. Die voorval by die Gare du Nord het reeds die verbeelding van die hele land aangegryp en mag selfs die huidige presidentsverkiesing beïnvloed waarin immigrasie en rasseverhoudings die belangrikste enkele kwessie uitmaak met die gunsteling-konserwatiewe kandidaat, Nicolas Sarkozy, wat staan vir strenger maatreëls teen onwettige immigrasie en hardhandiger polisie-optrede teen die “skorriemorrie” soos hy in 2005 na immigrantejeugdiges verwys het.
Intussen het aanrandings volgens die jongste statistieke met 14% gestyg.
Die 83 jarige Peter Scholl-Latour is een van die bekendste joernaliste in Duitsland. Hy praat Arabies vlot en het ’n kennis oor die wêreld wat sy kollegas dikwels in die skadu stel. Hierdie onderhoud is eksklusief met die Duitse politieke tydskrif Cicero gevoer.
Duitse buitelandse politiek bestaan net so min as ’n Duitse strategiese konsep. En die skuld daarvoor is nie voor die deur van Berlyn of enige aantal partye of politici te lê nie. Die verdere uitbreiding van die Europese Unie na 27 lede waarvan die belange uiters uiteenlopend blyk te wees, het nie net die kontinent nie maar ook Duitsland se optrede drasties ingeperk. Militêr gesproke is die Atlantiese verdragslede van ’n vyand ontneem deur die val van die Sowjetunie. Sedertdien is NAVO sogenaamd “out of area” met ’n tydlose en ruimtelik onbegrensde spokejag op internasionale terroriste bedrywig.
Diegene wat hier dinge op hul naam noem, word deur die Duitse media onvermydelik as anti-Amerikaans gebrandmerk. Dan is daar andersyds prominente Amerikaanse politici wat George W. Bush as die mees onheilsame politikus in die geskiedenis van die VSA beskou. Die kans op ’n pax americana wat ná die einde van die Koue Oorlog sonder twyfel bestaan het, is deur die blinde oorlogsugtigheid van die Bush-administrasie verspeel. Vandag behoort Duitsers uiteindelik die verskil tussen Europa se Noord-Atlantiese verbintenis met Amerika wat sy eksistensiële behoeftes asook kulturele nabyheid behels en die konkrete struktuur van die Verdrag – NAVO – te erken. Sedert die Oos-Wes-konflik bygelê is, het NAVO oorbodig geword en werk dit toenemend negatief vir Europese vennote.
As flagrante voorbeeld van hierdie mistasting is die voorneme van Washington – sonder inligting en konsultasie – om in Pole en Tsjetsjnië ’n missielafweerskerm, dus ’n hoogs ingewikkelde radarstelsel, op te rig. Dat die doel van hierdie herontplooiing aan die oewers van die Weichsel en Moldau kwansuis veronderstel is om uitsluitlik die grondgebied van die VSA te beskerm teen die ballistiese kapasiteit van ’n Islamitiese Republiek van Iran of ’n Noord-Korea, klink absurd en weerspreek die gees van Atlantiese solidariteit.
Europese state sal veel eerder sodoende in die reikwydte van kernkoppe wat eventueel uit die Ooste afgevuur word, kom as die veraf Amerika wat deur oseane beskerm word.
Duitsers behoort teen dié tyd te begryp dat die perfeksionistiese afweersisteem in ’n ekstreme geval nie geloofwaardige beskerming teen ’n blindewoedekernbedreiging van ’n vyandelike staat sal bied nie – in die afwesigheid van kontinentale konsensus – maar wel die beskikbaarheid van ’n eie nasionale kernafweervermoë. Frankryk dra deur hierdie insig met die skepping van sy Force de dissuasion al lank reeds die gevolge van sy besluit.
In die Duitse Bundestag, waar die burgerlike aanwending van kernenergie al soveel kere verwerp is, sal die voorstel van só ’n projek ’n storm van verontwaardiging veroorsaak.
Die tye onder Kohl en Mitterand – in alle lojaliteit teenoor Washington – toe daar nog oor militêre simbiose tussen Duitsland en Frankryk bespiegel is, behoort ooglopend tot die verlede. Van ’n Bondskanselier uit die Uckermark [arm, sanderige gebied in die noord-ooste van Duitsland], kan ’n mens kwalik “Karolingiese” visies verwag. In Parys daarenteen het die sin vir die grandeur van die Aandland de Gaulle se epigone handig te pas gekom.
Sedert George W. Bush en sy neo-konserwatiewe raadgewers, wat ten spyte van opportunistiese versoenende gebare aan Europa steeds bly vasklou aan ’n unilaterale VSA-politiek en die werklik relevante state soos Nietzsche dit stel as “kälteste aller Ungeheuer” behandel, bly die plegtige versekeringe van getrouheid soos dit uit die Berlynse Bundestag oor die Atlantiese oseaan weerklink, naïef en ongevraag.
Wie kan origens vir Vladimir Putin kwalik neem as hy die opstel van nuwe afweerstellings op sy land se westelike grens oorweeg? Die Warskou-aangevuurde “drang-na-die-Ooste”-uitbreiding van NAVO en die EU word as provokasie ervaar, en hy neem bloot genoegsame teenmaatreëls. Het enige van die gepatenteerde Kremlin-kritici ooit gedink hoe die Amerikaanse openbare mening sal reageer as Russiese ingenieurs hul missielsisteem – onder watter voorwendsel ook al – in Venezuela, Nicaragua of Kuba ontplooi?
`n Groep jongmense wat na hulself verwys as “huidig benadeelde studente” het `n ruiker wat beet, knoffel, suurlemoene en Afrika-aartappels bevat by die minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang gaan afgee. `n Verpleegster het dit namens die minister in ontvangs geneem. Sy sterk tans aan in die Folateng-kliniek in die Johannesburg Algemene Hospitaal na `n leweroorplanting. Volgens een van die studente, François Coetzee, is humor al wat in die parlement na 1994 oorgebly het. Dit was grootliks te danke aan die minister van gesondheid en haar afwesigheid laat dus `n groot leemte. Hulle hoop sy sterk gou aan dat sy weer haar posisie kan volstaan.
In ’n polisiestudie wat in die Noorweegse hoofstad gedoen is, is bevind dat twee uit drie verkragtings deur nie-Westerse immigrante gepleeg word. Die aantal verkragtings toon ook ’n konstante toename. Dit is die eerste studie van sy soort waar misdaadstatistiek aan die hand van etniese oorsprong oorweeg word.
Van die 111 gevalle wat verlede jaar in Oslo aangekla is van verkragting, was 72 van nie-Westerse oorprong, 25 was Noorweegs of Westers en 14 onbekend.
Verkragtingsake in die hoofstad is besig om die hoogte in te klim. Tussen 1999 en 2000 het dit met 40% gestyg en dit is reeds hierdie jaar met 13% hoër.
Nege uit tien gevalle wat aangemeld word, lei nie tot vervolging nie omdat die polisie nie glo dat daar genoeg getuienis bestaan om ’n skuldigbevinding te regverdig nie.
Polisie-inspekteur Gunnar Larsen van Oslo se Moord-en-roof-afdeling sê die syfers is verbasend: Die groeiende aantal verkragtings en skakel met etniese herkoms verteenwoordig ’n duidelike neiging. Larsen wou egter nie spekuleer oor die redes wat daartoe aanleiding gee nie.
Terwyl 65% van die aangeklaagdes vir verkragting van nie-Westerse afkoms is, maak die nie-Westerse bevolking van Oslo slegs 14,3% van die algehele stadsbevolking uit. In 80% van die gevalle is die slagoffers Noorweegse vroue en 20% van immigrante-afkoms.
Larsen meen dat daar geen konteks bestaan om die resultate teen te meet nie omdat hierdie die eerste studie is waarin etniese data van nader betrag word.
"Al wat ek kan sê, is dit in ons ervaring ’n stygende tendens is. Ons sien dit aan die aantal kere wat ons tolke moet gebruik tydens die ondersoeke”, het Larsen bygevoeg.
Die Noord-Transvaalse dorp Louis Trichardt, wat reeds drie jaar lank met ’n hofstryd teen ’n naamsverandering besig is, het so pas in die Appèlhof in Bloemfontein gewen, met koste. Die ANC-distrikstadsraad gaan daarom genoodsaak wees om alle borde met die naam "Makhado" op eie koste te verwyder en "Louis Trichardt" te herstel.
’n Volbank van vyf regters het oor die saak gesit wat deur die Louis Trichardt-voorsittersvereniging teen die minister van kultuur, Pallo Jordan, en ander aanhangig gemaak is. Volgens die vereniging op die dorp, is minder as een persent van munisipale inwoners oor die naamsverandering geraadpleeg.
Inwoners op die dorp is verheug oor die beslissing, wat as ’n deurbraak in die stryd teen provinsiaal afgedwonge naamsveranderings beskou word. "Ons is so bly," het een inwoner gesê, en bygevoeg dat sy ook wil sien dat die winkelsentrum wat onlangs opgerig is, "Makhado Crossing" sy naam na "Louis Trichardt-kruising" moet verander.
Advokaat Sam Maritz, S.C., vir die staat, het in Bloemfontein aangevoer dat inwoners wel geraadpleeg is, hoewel daar net een vergadering gehou is wat sleg bygewoon is en boonop ’n dag voor die aangekondigde datum plaasgevind het. Maritz het ook gemeen dat minister Pallo Jordan heeltemal korrek opgetree het in terme van “transformasie” en dat raadpleging met inwoners eintlik nie nodig is nie.
By die vorige hofsitting in die Transvaalse Hooggeregshof in Pretoria, het die hof die staat se argument dat daar geen wet was wat die minister verplig het om enigeen oor die naamsverandering van ’n dorp te raadpleeg nie, aanvaar. Daardie bevinding is nou vewerp en die besonderhede van vanmôre se uitspraak word afgewag.
Volgens ’n lid van die voorsittersvereniging, is “die stryd egter nog nie gewonne nie want die arme ANC wat nog nooit geleer het om met waardigheid te verloor nie, sal weer die proses aan die gang sit. Maar ons is reg vir hulle”.
Die inwoners van Louis Trichardt is bekend vir hul strydvaardigheid en gemeenskapsin. Oor die afgelope jaar het die buurtwag in die dorp misdaad met 95% laat daal, ’n prestasie wat in misdaadgesteisterde Suid-Afrika ongehoord is.
In opspraakwekkende getuienis op die eerste dag van ’n oorlogsmisdadeverhoor in Kanada, het ’n oorlewende van die Rwandese volksmoord in 1994 die weke lange geweld beskryf, asook herhaalde verkragtings wat sy in die vroeë dae van die konflik in dié Afrikaland ondergaan het.
Die getuienis is gelewer in die verhoor van Desiré Munyaneza, 40, wat in terme van Kanadese reg verhoor word op twee klagtes van volksmoord, twee klagtes van misdade teen die mensdom en drie klagtes van oorlogsmisdade vir sy rol in die 100 dae van geweld waarin meer as 800 000 mense, meesal Tutsi’s en gematigde Hutu’s, omgekom het.
Munyaneza is die seun van ’n ryk sakeman wat in 1996 na Kanada gevlug het maar wie se vlugtelingstatus geweier is. Hy het sedertdien in Toronto agtergebly tot sy inhegtenisname in Oktober 1995 nadat hy deur lede van die plaaslike Rwandese gemeenskap herken is en by die polisie aangegee is.
Die baanbrekerhofsaak in Kanada is die eerste vervolging onder die Misdade teen die mensdom en oorlogsmisdadewet wat in 2000 gepromulgeer is ten einde beweerde oorlogsmisdadigers plaaslik te vervolg.
In haar inleidende betoog het die aanklaagster Pascale Ledoux die hofsitting in Montreal vertel dat Munyaneza “hetsy deelgeneem het, gehelp het, hetsy moorde, seksuele geweld en pludering aangemoedig het met die doel en gemoedstoestand om die Tutsi-bevolking in ’n gewapende konflik te vernietig.
Munyaneza, wat deur familie en vriende in die hof ondersteun word, pleit onskuldig.
Indien hy skuldig bevind sou word, kan dié vader van twee kinders lewenslange tronkstraf in ’n Kanadese gevangenis in die gesig staar.
Die eerste getuie in die verhoor, ’n Tutsi-vrou waarna slegs verwys is as getuie C15 om haar identiteit te beskerm, het die hof vertel dat sy op die ouderdom van 17 saam met haar suster geforseer is om van hul huis na ’n skool in die dorpie Butare te gaan, 135 kilometer suid van die hoofstad Kigale, waar hulle deur die Hoetoes se Interhamwe-milisie aangeval is.
Toe sy probeer het om te ontsnap, is sy bewusteloos gelaat nadat haar voorkop met ’n panga oopgekap is, het die vrou getuig. Toe sy wakker word, het sy vir drie dae gemaak asof sy dood is deur haar dooie suster se bloed aan haar te smeer. Sy moes oor lyke klim toe sy die skool verlaat want die hele vloer was met dooie liggame bedek.
Slegs twee uit die 3 000 mense wat na die skool gevlug het, het oorleef.
Sy het vertel dat sy later vanuit ’n kantoor op die dorp waarheen sy gevlug het, ontvoer is en in ’n plaaslike huis opgesluit is waar sy herhaaldelik deur verskeie mans verkrag is.
Munyaneza het haar nie verkrag nie, maar sy het beweer dat hy haar vriendin verkrag het. Hy het ook daaraan deelgeneem om mense na vragmotors aan te lok waarna hulle weggeneem en vermoor is, volgens haar.
Sy het vertel dat Munyaneza ’n padblokkade in die dorpie beman het waar hy vir identiteitskaarte gevra het en sy het gesien hoe hy ’n seun uit die skare trek en hom doodslaan.
Die verhoor is onderbreek toe die getuie, wat agter ’n getinte glasskerm getuig het om haar van die volgepakte hofsaal af te sluit terwyl sy steeds vir die beskuldigde sigbaar was, siek geword het waarna die regter die verhoor uitgestel het. Dit sou weer gisteraand Suid-Afrikaanse tyd hervat.
Ek was toe gisteraand by die Zuma-Afrikaner-braaivleis, maar het niks gebraai nie. Ons gasvrou, Elzilda Becker van De Kat, het vooraf aangedui dat die drag “tradisioneel” sou wees. Dit stel mens altyd voor ‘n dilemma.
Zuma, Steve en Leon Schuster by die braaivleis
Wat is tradisionele drag vir ‘n Afrikaner? Is dit ‘n opslaanhoed soos uit die Anglo-Boereoorlog met ‘n Volkspele-onderbaadjie of is dit dalk ‘n aandpak? In Etienne le Roux se roman Sewe dae by die Silbersteins wonder Henry van Eeden wat hy vir die partytjie, die “Ballet van die Boere”, moet aantrek en kom in ‘n safaripak aan. Maar daar staan al die Boere in aandpakke. Want, verseker die verteller ons, “die Boere is die aristokrasie van die land”.
Ek pypkan dus die kleredragdilemma deur ‘n neutrale donker broek, pienk hemp en swart kleurbaadjie aan te trek. Tot my verligting het Jacob Zuma ook nie opgedaag in luiperdvel met ‘n knopkierie en assegaai nie, eerder ‘n pastelkleurpak waarvan mens in die skemer moeilik die spesifieke skakering kan onderskei.
Mandela woon in Houghton en dis ook waar die braaivleis plaasvind, in die tuin van ‘n mooi ou huis in dié statige voorstad van Johannesburg. “De Kat se kantore is in die buurt,” verduidelik Elzilda. Soos ek reeds laat blyk het, is dit geen bier-in-die-hand-braaivleis nie, eerder ‘n soort tuinparty tussen bome wat met vrolike liggies gedrapeer is. Maar ons eet pap en wors en biefstuk en tjops en slaai.
Zuma se aankoms geskied met flitsende blou ligte in die parkeerruimte (darem geen sirenes nie) en sy twaalf lyfwagte vergesel hom. Elzilda verwelkom hom hartlik; Steve Hofmeyr groet hom soos ‘n ou vriend en Leon Schuster is ook byderhand vir ‘n grappie of twee. Ek en Zuma skud hand; dis ons tweede ontmoeting na die vorige keer aan sy huis in Forest Town, tussen Westcliff en Parktown.
Aanvanklik sit ek oorkant Zuma aan die lang tafel en raak oombliklik verstrengel in ‘n hewige politieke argument met my buurman, ene Rudi wie se van ek nie onthou nie. Hy is pessimisties oor Suid-Afrika se toekoms en het sy seun aangeraai om die land te verlaat. “Hierdie is ‘n geveg wat ons nie kan wen nie. Die getalle is teen ons,” meen hy. Die vreemdste ding is dat Rudi al die media-clichés oor apartheid en wit skuld gesluk het, maar hy voel magteloos weens geweldsmisdaad en regstellende aksie. Ek probeer hom oortuig dat die toekoms nie noodwendig soos die verlede lyk nie, dat die wêreld snel verander en dat die Afrikaner reeds besig is om plek-plek in die land homself te laat geld.
Roodt en Zuma by kerslig
Gelukkig tree Liesl Göttert tussenbeide en dis my beurt om oorkant die tafel langs mnr. Z, soos Liesl in haar sms’e na hom verwys, te gaan sit. Die rooiwyn vloei saam met die braaivleis en nou kry die gesprek ‘n veel meer politieke kleur. Regstellende aksie en naamsveranderings word geopper. Kallie Kriel van Solidariteit sit ook oorkant die tafel en kla oor Pallo Jordan se arrogansie sover dit Pretoria se naamsverandering betref. Zuma bly diplomaties en verduidelik dat sekere individue besig is om die harmonie in Suid-Afrika te versteur.
Vroeër is daar ook na Marthinus van Schalkwyk se aanstelling in die kabinet verwys, wat niks gedoen het om Afrikanerontevredenheid te verlig nie. Trouens, die meeste van die partytjiegangers beaam dit dat Marthinus as ‘n verraaier beskou word.
“As ek u reg verstaan, mnr. Zuma, sal Pallo Jordan en Marthinus van Schalkwyk dus nie in u kabinet dien as u president sou word nie,” haak Kallie Kriel af. Zuma grinnik maar net en gee ‘n diplomatiese laggie.
Nietemin bied Zuma ‘n lang regverdiging vir regstellende aksie deur na werkresevering in die vorige bedeling te verwys. Ek gooi ‘n klip in die bos deur voor te stel dat ons ‘n prys moet stel op “benadeling in die verlede” en blankes ‘n eenmalige bedrag belasting daarvoor moet betaal. Dit kan ‘n interessante oefening wees om die bedrae belasting wat in die verlede op swart onderwys en gesondheidsdienste bestee is in berekening te bring as die skade van apartheid beraam word.
“Nee,” meen Zuma langs my. “Ek sal daarteen gekant wees.” Swartes moet in bestuursposisies aangestel word sodat daar groter balans in die land kan kom.
“Maar mnr. Zuma,” vra ek nou ‘n teenvraag, “die minister van arbeid, Mdlalana, het onlangs gesê daar sal altyd regstellende aksie wees. Stem u saam met hom of behoort daar ‘n afsnydatum te wees?”
“Nee, daar behoort ‘n afsnydatum te wees,” antwoord hy. “Die probleem met regstellende aksie is dat dit in Amerika ontwerp is vir ‘n minderheid. Hier in Suid-Afrika word dit toegepas op ‘n meerderheid mét politieke mag. Daarom kan ek verstaan as die Afrikaners en ander minderheidsgroepe ongelukkig daaroor voel.”
Dis sulke antwoorde wat verklaar waarom ‘n groepie Afrikaanse aktiviste en kunstenaars met Zuma braai en nie, soos prof. Willie Esterhuyse se Afrikanersake-elite, met Mbeki tee drink nie. Mbeki is ver heen sover dit Afrosentrisme en die hele ideologie van ingevoerde Amerikaanse rassenasionalisme betref. Hierteenoor is Zuma meer Zoeloe-nasionalis as Afrosentris, meer gemoedelike populis as Machiavelliaanse politieke skaakspeler soos Mbeki.
Nog iets: Zuma drink rooibos. Vandat ek nie meer koffie drink nie, is ek ook ‘n rooibosman. Trouens, ek het al begin eksperimenteer om espresso-rooibos tuis te maak. Dus het Zuma al dié Boeredrankie ook oorgeneem.
Leon Schuster het eers ‘n soort partytjiegrappie vir Zuma: hy maak asof hy ‘n vol teekoppie oor hom gaan uitstort, maar die koppie is leeg en hy het ‘n teelepel deur die koppie se oor gehaak om te sorg dat dit nie op die grond beland nie al val dit oënskynlik van die piering af. “Nog een van jou truuks!” lag Zuma.
Waarom stel Zuma in die Afrikaners se klagtes belang? Volgens hom is elke etniese groep in Suid-Afrika waarskynlik in mindere of meerdere mate ontevrede. Die Zoeloes kla byvoorbeeld by hom dat hulle deur die Xhosas oorheers word. “Maar as die Afrikaners ontevrede is, is dit ‘n ander saak as wat die Swazi’s of die Vendas ongelukkig is, sonder om nou enige van daardie groepe in die gesig te vat.”
Aan die einde van die aand sou Bok van Blerk se “De la Rey” gespeel word. Die huiseienaar is effens lugtig dat sy Joodse bure hier in Houghton aanstoot neem, maar watwou, dit word gespeel. Sean Else, die skrywer van die liedjie, is self teenwoordig en lewer allerlei insette as ‘n soort selfaangestelde verteenwoordiger van jong Afrikaners. Volgens hom wil jongmense hulself nie as slagoffers van regstellende aksie en ander onaangename aspekte van die nuwe bestel sien nie en eerder ‘n dinamiese bydrae tot die land en veral die Afrikaanse kultuur maak.
Driekwart deur die gesprek, vra ek ‘n ernstiger politieke vraag. “Suid-Afrika, of altans so verseker die politieke wetenskaplikes ons, is eintlik ‘n land van minderhede. Selfs die Zoeloes, wat die grootste groep is met hul tien miljoen mense, verteenwoordig ‘n minderheid teenoor die totale bevolking. Soos ons Afrikaners dit sien, het ‘n klomp van die ander groepe in die land as’t ware teen ons saamgespan in ‘n politieke alliansie om ons tans te oorheers. Dink u daar sal ‘n tyd kom wanneer Afrikaners ook deel sal kan wees van ‘n politieke alliansie, nie soseer om ander te oorheers nie, maar om ‘n bydrae tot die land te lewer met behulp van hul kundigheid, hul patriotisme en ervaring van regering?”
Op ‘n manier is dit ‘n strikvraag en ek kan sien Zuma skuif ongemaklik rond. Hy is immers nog besig om binne die ANC homself te posisioneer as die volgende leier van die Xhosa-alliansie. Maar hy gee egter toe dat so ‘n alliansie dalk in die toekoms moontlik is.
Ná Zuma se vertrek praat ek, Steve Hofmeyr, Kallie Kriel, Sean Else en ‘n Engelssprekende vriend van Elzilda en haar man nog tot na middernag politiek.
Dat hier egter ‘n interessante gesprek tussen Zuma en die Afrikaners aan die gang is, is gewis.
The Daily News het Maandag berig dat die IVP dreig om deur Umlazi te marsjeer in protes indien daar met Durban se straatname gepeuter word.
Die twispunt is die Mangosuthu Hoofweg wat gedurende die NP-bewind só vernoem is na IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi.
Die koerant het die ANC se eThekwini raadslid, Zandile Gumede, aangehaal wat bevestig het dat ‘n “behoorlike proses” nie gevolg is in die benaming van die hoofweg nie en dat dit reggestel gaan word.
Gumede het nie aan SAPA gesê wat die nuwe naam sal wees en ook geen aanduiding gegee van wanneer die nuwe proses van stapel gestuur gaan word nie.
IVP-raadslid, Theresa Nzuza, se kommentaar oor die plan was: "Ons sal betoog teen die ANC se outokrasie."
Sy het ook aangedui dat die IVP besonder ongelukkig voel oor die ANC se beoogde naamsverandering vir die nuwe sokkerstadion wat in aanbou is vir die Wêreldtoernooi in 2010.
Toe Sbu Ndebele, die KwaZulu-Natalse premier, aanvanklik die planne vir die nuwe stadion bekend gestel het, sou dit die Koning Senzangakhona-stadion genoem word.
Die stad het egter besluit dat die stadion voortaan die Moses Mabhida-stadion sal heet, vernoem na die eertydse sekretaris-generaal van die SAKP wat in ballingskap oorlede is.
Terwyl die IVP optogte in die vooruitsig stel, het die besluit deur die stadsvaders om Pointweg – die rooiliggebied waar kroeggevegte deur besoekende matrose die botoon voer – se naam na die vader van die Indiese volk te vernoem, behoorlik die debat in Suid-Afrika sowel as Indië aan die gang gesit.
"Mahatma se naam vir ‘n straat van losse sedes!" is die hoofopskrif van The Hindu, 28 Februarie, een van Indie se grootste dagblaaie.
In die Times of India se opskrif is in dieselfde trant: "SA se prostitusiekern na Gandhi vernoem".
Politieke aktivis, Fatima Meer, mag dalk erg beswaard voel oor die nuwe naam, maar die Times of India van 28 Februarie dink die besluit is geneem om “die berugte buurt ‘n morele ontrimpeling te gee”.
Plaaslike aktivis en akademikus, Ashwin Desai, meen dat "dit hoogtyd is dat ons van koloniale en apartheidsname afstand doen” en hy steun die naamsveranderingplan ten volle.
"Maar ek het ‘n problem as Gandhi se naam vir Pointweg gebruik word. Gandhi was ‘n prokureur in Weststraat en daarom meer as enige iets, dink ek die naam moet na Gandhi herbenoem word." eThekwini se adjunk-burgermeester Logie Naidoo, het egter gesê dat “die naamsveranderinge van die nege strate wat in die vooruitsig gestel word met groot besinning en navorsing gepaard gegaan het. Pointweg is na Mahatma Gandhi verander want dit was die eerste plek waar die Indiërs voet aan wal gesit het in Suid-Afrika en ingeburger geraak het. Ek dink nie mense moet enige iets onvanpas in die voorstel sien nie.”