Nadine Gordimer deur die Franse vereer

Image

Gordimer

Die Nobelpryswenner, Nadine Gordimer, het Saterdag die Legioen van Eer-toekenning van die Franse regering ontvang. Dit het plaasgevind tydens ’n funksie by die Pretoria-woning van Denis Pietton, die Franse ambassadeur in Suid-Afrika.

Volgens Pietton wou die Franse regering op hierdie manier ”’n groot skrywer vereer.“

”Deur u ’n Offisier van die Legioen van Eer te maak, wil ons ook hulde bring aan ’n simboliese figuur van die stryd teen apartheid, daardie absurde en verskriklike stelsel wat op ’n onrealistiese wyse gepoog het om rasse te skei.“ Volgens hom is Gordimer se werk ’n bewys van ”die triomf van menslike emosies oor wettige segregasie.“

Gordimer is tans 83 jaar oud. Sy het in 1991 die Nobelprys vir letterkunde ontvang. Verskeie van haar boeke is destyds deur die Nasionale Party-regering verban.

Volgens die skrywer is sy ”oorweldig“ deur die eer. Sy het oor haar voorliefde vir Franse letterkunde gepraat en Marcel Proust en Jean-Paul Sartre in hierdie verband uitgesonder. ”Ek ontvang die toekenning met dankbaarheid en nederigheid,“ het sy gesê.

André Brink, Miriam Makeba, Desmond Tutu en Kader Asmal is ander Suid-Afrikaners aan wie die Legioen van Eer al toegeken is.

Gordimer is bekend vir romans soos July’s People en The Conservationist. Haar jongste boek, Get a Life, is verlede jaar met gemengde reaksie begroet. Later vanjaar verskyn ’n kortverhaalbundel van haar getiteld Beethoven was One Sixteenth Black.

Sy was in Oktober 2006 in die nuus toe sy in haar Johannesburg-woning deur rowers oorval, beroof en in ’n besemkas toegesluit is.

free playданильченко юрій Харків

Maak 'n opvolg-bydrae