Meer moeilikheid in Mogadisjoe (met videogreep)

Image

Rook oor Mogadisjoe

Honderde Ethiopiese soldate het gister Mogadisjoe, hoofstad van Somalië, binnegestroom. Dit volg op vier dae van hewige gevegte met Moslem-rebelle waarin honderde mense dood is en duisende ander gevlug het. Water- en kostekorte dra tot die burgerlike bevolking se ellende by.

Die afgelope paar dae se konflik was die ergste wat Mogadisjoe die afgelope vyftien jaar beleef het. ’n Ethiopiese aanslag verlede week teen vegters van die Moslem-beweging (wat in Desember verdryf is) het tot die hernieude geweld aanleiding gegee.

Volgens ooggetuies is die strate in die Somaliese hoofstad vol ontbindende lyke en baie inwoners het hulle huise inderhaas ontruim. Die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap meen dat sowat 10 000 mense Mogadisjoe die afgelope paar dae verlaat het, wat die aantal vlugtelinge sedert Februarie vanjaar op 100 000 te staan bring.

Ethiopiese troepe staan die Somaliese regering tans by om van Moslem-vegters uit die suide en sentrale gedeeltes van Somalië ontslae te raak. Daar word vermoed dat die Moslem-rebelle bande met Al-Kaida het. Die Ethiopiese soldate is veronderstel om met ’n vredesmag van die Afrika-unie (AU)vervang te word. Tot dusver het die AU egter net daarin geslaag om sowat 1 500 Oegandese soldate na Somalië te stuur. Suid-Afrika het aangekondig dat die land weens beperkte kapasiteit nie tot die vredesmag kan bydra nie.

Ethiopië se aartsvyand, Eritrea, het Oeganda intussen gewaarsku om sy vredestroepe aan Somalië te onttrek en gewaarsku dat daar ”ernstige gevolge“ gaan wees as Oegandese soldate nie onmiddellik die land verlaat nie.

построить сауну втопкарго