Wat is tradisionele drag vir ‘n Afrikaner? Is dit ‘n opslaanhoed soos uit die Anglo-Boereoorlog met ‘n Volkspele-onderbaadjie of is dit dalk ‘n aandpak? In Etienne le Roux se roman Sewe dae by die Silbersteins wonder Henry van Eeden wat hy vir die partytjie, die “Ballet van die Boere”, moet aantrek en kom in ‘n safaripak aan. Maar daar staan al die Boere in aandpakke. Want, verseker die verteller ons, “die Boere is die aristokrasie van die land”.
Ek pypkan dus die kleredragdilemma deur ‘n neutrale donker broek, pienk hemp en swart kleurbaadjie aan te trek. Tot my verligting het Jacob Zuma ook nie opgedaag in luiperdvel met ‘n knopkierie en assegaai nie, eerder ‘n pastelkleurpak waarvan mens in die skemer moeilik die spesifieke skakering kan onderskei.
Mandela woon in Houghton en dis ook waar die braaivleis plaasvind, in die tuin van ‘n mooi ou huis in dié statige voorstad van Johannesburg. “De Kat se kantore is in die buurt,” verduidelik Elzilda. Soos ek reeds laat blyk het, is dit geen bier-in-die-hand-braaivleis nie, eerder ‘n soort tuinparty tussen bome wat met vrolike liggies gedrapeer is. Maar ons eet pap en wors en biefstuk en tjops en slaai.
Zuma se aankoms geskied met flitsende blou ligte in die parkeerruimte (darem geen sirenes nie) en sy twaalf lyfwagte vergesel hom. Elzilda verwelkom hom hartlik; Steve Hofmeyr groet hom soos ‘n ou vriend en Leon Schuster is ook byderhand vir ‘n grappie of twee. Ek en Zuma skud hand; dis ons tweede ontmoeting na die vorige keer aan sy huis in Forest Town, tussen Westcliff en Parktown.
Aanvanklik sit ek oorkant Zuma aan die lang tafel en raak oombliklik verstrengel in ‘n hewige politieke argument met my buurman, ene Rudi wie se van ek nie onthou nie. Hy is pessimisties oor Suid-Afrika se toekoms en het sy seun aangeraai om die land te verlaat. “Hierdie is ‘n geveg wat ons nie kan wen nie. Die getalle is teen ons,” meen hy. Die vreemdste ding is dat Rudi al die media-clichés oor apartheid en wit skuld gesluk het, maar hy voel magteloos weens geweldsmisdaad en regstellende aksie. Ek probeer hom oortuig dat die toekoms nie noodwendig soos die verlede lyk nie, dat die wêreld snel verander en dat die Afrikaner reeds besig is om plek-plek in die land homself te laat geld.
Gelukkig tree Liesl Göttert tussenbeide en dis my beurt om oorkant die tafel langs mnr. Z, soos Liesl in haar sms’e na hom verwys, te gaan sit. Die rooiwyn vloei saam met die braaivleis en nou kry die gesprek ‘n veel meer politieke kleur. Regstellende aksie en naamsveranderings word geopper. Kallie Kriel van Solidariteit sit ook oorkant die tafel en kla oor Pallo Jordan se arrogansie sover dit Pretoria se naamsverandering betref. Zuma bly diplomaties en verduidelik dat sekere individue besig is om die harmonie in Suid-Afrika te versteur.
Vroeër is daar ook na Marthinus van Schalkwyk se aanstelling in die kabinet verwys, wat niks gedoen het om Afrikanerontevredenheid te verlig nie. Trouens, die meeste van die partytjiegangers beaam dit dat Marthinus as ‘n verraaier beskou word.
“As ek u reg verstaan, mnr. Zuma, sal Pallo Jordan en Marthinus van Schalkwyk dus nie in u kabinet dien as u president sou word nie,” haak Kallie Kriel af. Zuma grinnik maar net en gee ‘n diplomatiese laggie.
Nietemin bied Zuma ‘n lang regverdiging vir regstellende aksie deur na werkresevering in die vorige bedeling te verwys. Ek gooi ‘n klip in die bos deur voor te stel dat ons ‘n prys moet stel op “benadeling in die verlede” en blankes ‘n eenmalige bedrag belasting daarvoor moet betaal. Dit kan ‘n interessante oefening wees om die bedrae belasting wat in die verlede op swart onderwys en gesondheidsdienste bestee is in berekening te bring as die skade van apartheid beraam word.
“Nee,” meen Zuma langs my. “Ek sal daarteen gekant wees.” Swartes moet in bestuursposisies aangestel word sodat daar groter balans in die land kan kom.
“Maar mnr. Zuma,” vra ek nou ‘n teenvraag, “die minister van arbeid, Mdlalana, het onlangs gesê daar sal altyd regstellende aksie wees. Stem u saam met hom of behoort daar ‘n afsnydatum te wees?”
“Nee, daar behoort ‘n afsnydatum te wees,” antwoord hy. “Die probleem met regstellende aksie is dat dit in Amerika ontwerp is vir ‘n minderheid. Hier in Suid-Afrika word dit toegepas op ‘n meerderheid mét politieke mag. Daarom kan ek verstaan as die Afrikaners en ander minderheidsgroepe ongelukkig daaroor voel.”
Dis sulke antwoorde wat verklaar waarom ‘n groepie Afrikaanse aktiviste en kunstenaars met Zuma braai en nie, soos prof. Willie Esterhuyse se Afrikanersake-elite, met Mbeki tee drink nie. Mbeki is ver heen sover dit Afrosentrisme en die hele ideologie van ingevoerde Amerikaanse rassenasionalisme betref. Hierteenoor is Zuma meer Zoeloe-nasionalis as Afrosentris, meer gemoedelike populis as Machiavelliaanse politieke skaakspeler soos Mbeki.
Nog iets: Zuma drink rooibos. Vandat ek nie meer koffie drink nie, is ek ook ‘n rooibosman. Trouens, ek het al begin eksperimenteer om espresso-rooibos tuis te maak. Dus het Zuma al dié Boeredrankie ook oorgeneem.
Leon Schuster het eers ‘n soort partytjiegrappie vir Zuma: hy maak asof hy ‘n vol teekoppie oor hom gaan uitstort, maar die koppie is leeg en hy het ‘n teelepel deur die koppie se oor gehaak om te sorg dat dit nie op die grond beland nie al val dit oënskynlik van die piering af. “Nog een van jou truuks!” lag Zuma.
Waarom stel Zuma in die Afrikaners se klagtes belang? Volgens hom is elke etniese groep in Suid-Afrika waarskynlik in mindere of meerdere mate ontevrede. Die Zoeloes kla byvoorbeeld by hom dat hulle deur die Xhosas oorheers word. “Maar as die Afrikaners ontevrede is, is dit ‘n ander saak as wat die Swazi’s of die Vendas ongelukkig is, sonder om nou enige van daardie groepe in die gesig te vat.”
Aan die einde van die aand sou Bok van Blerk se “De la Rey” gespeel word. Die huiseienaar is effens lugtig dat sy Joodse bure hier in Houghton aanstoot neem, maar watwou, dit word gespeel. Sean Else, die skrywer van die liedjie, is self teenwoordig en lewer allerlei insette as ‘n soort selfaangestelde verteenwoordiger van jong Afrikaners. Volgens hom wil jongmense hulself nie as slagoffers van regstellende aksie en ander onaangename aspekte van die nuwe bestel sien nie en eerder ‘n dinamiese bydrae tot die land en veral die Afrikaanse kultuur maak.
Driekwart deur die gesprek, vra ek ‘n ernstiger politieke vraag. “Suid-Afrika, of altans so verseker die politieke wetenskaplikes ons, is eintlik ‘n land van minderhede. Selfs die Zoeloes, wat die grootste groep is met hul tien miljoen mense, verteenwoordig ‘n minderheid teenoor die totale bevolking. Soos ons Afrikaners dit sien, het ‘n klomp van die ander groepe in die land as’t ware teen ons saamgespan in ‘n politieke alliansie om ons tans te oorheers. Dink u daar sal ‘n tyd kom wanneer Afrikaners ook deel sal kan wees van ‘n politieke alliansie, nie soseer om ander te oorheers nie, maar om ‘n bydrae tot die land te lewer met behulp van hul kundigheid, hul patriotisme en ervaring van regering?”
Op ‘n manier is dit ‘n strikvraag en ek kan sien Zuma skuif ongemaklik rond. Hy is immers nog besig om binne die ANC homself te posisioneer as die volgende leier van die Xhosa-alliansie. Maar hy gee egter toe dat so ‘n alliansie dalk in die toekoms moontlik is.
Ná Zuma se vertrek praat ek, Steve Hofmeyr, Kallie Kriel, Sean Else en ‘n Engelssprekende vriend van Elzilda en haar man nog tot na middernag politiek.
Dat hier egter ‘n interessante gesprek tussen Zuma en die Afrikaners aan die gang is, is gewis.
