Annan
Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, hoop dat ’n nuwe prys van vyf miljoen dollar vir goeie leierskap Afrika-staatshoofde sal aanspoor om hulle lande beter te regeer. Annan sal aan die hoof staan van die komitee wat die toekenning gaan maak.
Die toekenning staan bekend as die Mo Ibrahim-prys en is veronderstel om Afrika-leiers meer bewus te maak van menseregte en demokrasie. Die ses lede van die komitee het die afgelope naweek vir die eerste keer in Genève vergader. Hulle is, benewens Annan, Mary Robinson, voormalige president van Ierland, Salim Salim, gewese eerste minister van Tanzanië, Ngozi Okonjo-Iweala, voormalige minister van finansies van Nigerië, Martti Ahtisaari, voormalige president van Finland en Aicha Bah Diallo, gewese minister van onderwys van Guinee.
Annan meen swak regering is ’n probleem in die grootste deel van Afrika. Die vasteland is ook die armste streek in die wêreld met ’n hoë voorkoms van allerlei siektes.
Annan het geen Afrika-leier by die naam genoem nie. Hy het verder geweier om vrae oor Zimbabwe te beantwoord. Hy het wel die rol van die burgerlike samelewing in Afrika geprys en meen dat hierdie burgerlike bewegings staatshoofde deesdae dwing om meer aandag aan menseregtekwessies te gee. ”Daar is ’n jonger generasie van slim, geskoolde Afrikane wat hopelik ook die politiek sal betree en hierdie druk sal volhou.“
Die jaarlikse toekenning word deur die Soedanese sakeman, Mo Ibrahim, geborg. Die prys sal gaan aan oudpresidente en gewese eerste ministers van Afrikalande suid van die Sahara wat in die drie jaar wat die toekenning voorafgaan, uitgetree het en bewys van bekwame leierskap gelewer het terwyl hulle nog aan bewind was. Wenners sal vyf miljoen dollar oor ’n periode van tien jaar ontvang en daarna 200 000 dollar per jaar vir die res van hulle lewens, met ’n verder 200 000 dollar per jaar aan die liefdadigheidsorganisasie van hul keuse. In vergelyking hiermee beloop die Nobelvredesprys maar 1,5 miljoen dollar.
Die naam van die eerste wenner sal in Oktober vanjaar bekendgemaak word.
free money mobile casino no deposittopcargo