Zimbabwe maak gereed vir staking

Image

2008 se kandidaat

Duisende Zimbabwiese werkers gaan na verwagting vandeesweek die tuig neerlê soos wat die druk op president Robert Mugabe toeneem vanweë sy bewind se gewelddadige onderdrukking van die opposisie en die ekonomiese ineenstorting van die land.

 
“Ons verwag dat almal gaan deelneem,” het ZCTU-segsman Kumbulani Ndlovu aan AFP gesê. Die oproep is aan almal gerig, van staatsamptenare tot winkeleienaars en bankpersoneel.

Mugabe word allerweë verkwalik vir die geweld en die ekonomiese krisis wat in die land heers, met die wêreld se hoogste inflasiekoers op 1730 persent en vier uit vyf mense wat werkloos is.

Werkers vra dat hul minimumloon opgestoot word na een miljoen Zimbabwiese dollar, wat gelykstaande is aan 4000 Amerikaanse dollar teen die snel veranderende wisselkoers, vanaf 90 000 Zim-dollar.

Die ZCTU het verklaar dat die algemene staking uitgeroep is omdat die owerhede in gebreke gebly het om die verslegtende ekonomiese krisis aan te spreek.

Maar die regering het werkers gemaan om nie op die stakingsoproep te reageer nie, omdat dit polities gemotiveer sou wees.

“Die regering het verneemd at individue in die ZCTU wat hulself met die opposisiepolitiek van die Beweging vir Demokratiese Verandering vereenselwig… wil gesien word dat hulle deelneem aan die huidige Westers geondersteunde geweld wat daarop gemik is om ’n bewindsverandering in Zimbabwe teweeg te bring,” het die minister van arbeid, Nicholas Goche, verklaar.

In September is vakunies gedwing om hul planne vir grootskaalse anti-regeringsbetogings te laat vaar nadat die organiseerders almal tydens ’n polisieklopjag opgesluit is.

Verlede maand is verskeie BDV-amptenare, waaronder die leier Morgan Tsvangirai, in hegtenis geneem en aangerand by ’n anti-regeringsvergadering – slae waarvoor sy mededinger “gevra het”, aldus Mugabe.

“Die regering van Zimbabwe behoort stappe te neem om die ekonomiese ineenstorting aan te spreek,” het die nasionale sambreelvakbonde van Nigerië, Ghana, Zambië, Malawi, Nederland, Finland en Denemarke in ’n gesamentelike standpunt verklaar wat in Zimbabwe se onafhanklike weekblad, The Standard, gepubliseer is.

Die Suid-Afrikaanse vakbondfederasie, COSATU, het gesê dat dit Dinsdag gaan betoog in solidariteit met Zimbabwiese werkers “en hul stryd teen ’n ekonomiese ramp en toenemend venynige aanvalle op hul lede en leiers”.

Die Sunday Times in Johannesburg het intussen berig dat ten minste 49 000 Zimbabwiërs elke maand onwettig na Suid-Afrika stroom.

Mugabe, wat Zimbabwe sedert onafhanklikheid van Brittanje in 1980 regeer, is Vrydag verkies om weereens as die regerende Zanu-PF-party se kandidaat in die presidensiële verkiesings aanstaande jaar te staan.

Die Britse minister van buitelandse sake, Margaret Beckett, het gister gesê dat Mugabe “verantwoordelik” gehou word vir die aanranding van nege opposisielede wat volgens haar ’n aanduiding was van die uiterstes waartoe hy in staat is om “aan mag vas te klou”. Volgens haar, “is dit verdere getuienis van hoe laag Mugabe sal daal ten einde aan die mag vas te hou”.

’n Regsverteenwoordiger van die opposisie-BDV het gesê dat die groep om 23.00 GMT uit die hospitaal deur staatsveiligheidsagente verwyder is. Hulle is Saterdag daarin opgeneem weens beserings wat hulle verlede week tydens die polisieklopjag in die hoofstad, Harare, opgedoen het.

“Hulle is uit die sale geneem sonder dat hulle deur die hospitaal ontslaan is,” het Alec Muchadehama gesê. Sommige het steeds druptoestelle aangehad toe hulle weggeneem is.

Volgens Muchadehama het hy die groep in die laatmiddag by Harare se sentrale gevangenis opgespoor nadat hy verskeie polisiestasies aangedoen het.

Hy het gehoop om Maandag hof toe te gaan vir ’n hofbevel wat die nege sou toelaat om sonder verdere polisie-inmenging hospitaal toe te gaan.

гидроизоляционная смесьФильчаков прокуратура харьков