Soos al telkemale skynbaar die geval was, het Zuma nie daarop gereken dat dit wat hy vir die ore van een juigende gehoor se ore bedoel het, in klank en druk tot die oë en ore van ander sal kom nie. Hy het in die Oos-Kaap Zoeloe met ‘n groep Xhosas gepraat, maar kort voor lank weet die hele land: Zuma het ‘n stem vir die ANC met ‘n plekkie gereserveer in die hemel vergelyk. En behoede diegene wat teen die ANC stem. Vir hulle wag die man met die lang vurk en die groot vuur.
Binne ‘n ommesientjie het ‘n groot groep kerke en ‘n groot aantal politieke partye al weer die president oor sy roekelose politiek-godsdienstige brousels aangespreek. In die media en ook op die internet gons dit.
Soos verwag kan word, het die ANC self die president tot hulp gekom en sê dit was metafories bedoel. Om verskeie redes haal dié argument gewoon nie die paal nie:
– Die president het ‘n lang geskiedenis dat hy godsdiens gebruik om kiesers velle oor die oë te trek. Hy is al gestriem omdat hy gesê het die ANC sal tot die wederkoms regeer, hy het slae gekry oor hy aan ‘n groep ongeskooldes gesê het die voorvadergeeste sal hulle teister as hulle nie vir die ANC stem nie, en een van sy voorste ondersteuners, premier Ace Magashule van die Vrystaat moes ook al slae verduur nadat hy gesê het mense moet Zuma volg soos die mense Jesus volg. Dit is onmoontlik dat Zuma nie kon kennis neem daarvan dat sy en sy ondersteuners se opmerkings hewige aanstoot gee nie.
– Selfs al word ‘n stem vir die ANC metafories met die hemel vergelyk, is dit ‘n besonder treurige beeld wat van die hemel voorgehou word. Soos een internetskrywer dit opgesom het – hy wil nie hemel toe gaan as dit ‘n plek vol slaggate en korrupsie is nie. Die minister wat vir plaaslike regering verantwoordelik is se eie munisipale rekening is aan die vooraand van die landswye munisipale verkiesing met honderde duisende in die rooi, omdat hy onverklaarbare rekenings kry waarvoor hy vrugteloos op antwoorde aandring. Die munisipaliteit wat sulke foutiewe rekenings uitstuur is nie enige munisipaliteit nie, dis die land se grootste stad en dit huisves die ANC se hoofkantoor. Dit is boonop onder ANC-beheer.
– Word bykans enige koerant oopgeslaan, wemel dit van ANC-goggas. Die vraestelle van die landswye asseseringstoetse word deur skoolhoofde as pateties beskryf, en is vol foute. Uit die Vrystaat word berig ‘n staatsamptenaar wat help met die ANC se eeufeesvieringe, kry ‘n stewige staatstoelae hiervoor. Intussen word nog dawerrend geswyg oor wie opgedok het vir ANC-ampsrears, wat nie regeringsposte beklee nie, se kostes om ‘n ANC-seminaar in Ethiopië by te woon.
– Die afgelope jaar is Suid-Afrika se media deur Freedom House van vry tot slegs gedeeltelik vry geherklassifiseer, en het die land op Verslaggewers sonder Grense se persvryheidsindeks teruggesak.
– Onder die land – die regering – se voorste vriende tel van die wêreld se voorste muishondlande soos Kuba. Kort na Suid-Afrika met groot SABC-dekking hegter vriendskapsbande met die korrupte Tunisiese regering gesmee het, is dié bewind deur ‘n populêre volksopstand omvergewerp.
– Die ANC is in alliansie met die kommuniste.
‘n Christen se woord is sy woord. Word aan die vooraand van die president se staatsrede na die ellelange lys van beloftes uit die vorige staatsrede gekyk wat nie gerealiseer het nie, is dit doodgewoon beledigend teenoor Christene om ‘n ANC-bewind, hoe metafories ook al, met die hemel te gaan vergelyk.
Pastoor Zuma moet hom liefs hou by sy lees. Wat dit ook al mag wees.
