Soos gebruiklik, tussen die hand en die mond, val die pap op die grond. Tussen voorneme en uitvoering, lê daar te dikwels ‘n groot gaping. Die deel van kader-ontplooiing word deeglik geïmplementeer – omtrent al van die regeringsbeleid wat konsekwent tot uitvoering gebring word. Die bekwaamheid-gedeelte bly te dikwels in die slag.
In die proses, blyk dit, dat die land se geregtelike hoofstad, Bloemfontein, aan die vooraand van die verwerwing van metro-status, sy derde agtereenvolgende verslag van die ouditeur-generaal op die lyf geloop het waarin die OG ‘n ouditmening weerhou het. Dit blyk dat die stad een van die voorbokke met agterstallige skulde by Eskom is, met sowat ‘n R100 miljoen in die rooi.
In ‘n poging om sake bietjie te beredder is die betaaldatum van munisipale rekenings van die 15de tot die 7de van die maand vervroeg, maar terselfdertyd het die rekinge-afdeling skynnbaar die kluts twytgeraak. Benewens absurde rekenings wat gereeld opduik, ondervind baie inwoners dat hulle teen betaaldatum nog nie rekenings gekry het nie. Dit verhinder die munisipaliteit egter nie om kragtoevoer af te sny nie. Van sommiges.
Met die aanstelling van die omstrede Jimmy Manyi as die regering se woordvoerder is dit nou ‘n speletjie van die media en die publiek om te kyk wie die langste lysie kan maak van amptelike regeringsbeleid of –voornemens wat in die proses in die slag gebly het.
Streng gesproke is daar ‘n verskil tussen dit wat die ANC se woordvoerder, en dit wat die regering se woordvoerder verteenwoordig, maar in ‘n land waar die regering skynbaar moeilik die onderskeid kan of wil trek, is die praktyk en simboliek van Manyi se aanstelling nog nouer verweef.
Terwyl die regering blykbaar voel dat hy bekwaam genoeg is – al het hy voorheen as DG die trekpas gekry, is dit moeilik om te verstaan hoe nog geargumenteer kan word dat sy aanstelling nie-rassigheid in die land bevorder. Manyi het dwarsdeur die storm om sy kop aangebly as hoof van die Black Management Forum, en sy uitsprake het self min ruimte gelaat vir twyfel dat hy ‘n baie sterk ras-gesentreerde persoon is.
Sy aanstelling as woordvoerder – dus die persoon wat die simbool dra van verkoopsman van regeringsbeleid – stuur ‘n baie dwars sein die wêreld in, en veral aan Suid-Afrikaanse minderhede. Tensy hy hom van die Black Management Forum of enige ander rasgebaseerde instelling losmaak, sal hy as simbool bly staan van ‘n regering wat amptelik nie-rassigheid voorstaan (weliswaar al stiller), maar nie net die teenoorgestelde uitvoer nie, dit in werklikheid predik ook.
Manyi en Bloemfontein staan nie alleen waar regeringsvoornemens sneuwel nie.
Oral ter wêreld is plaaslike regeringsverkiesings vir die regerings belangrike toetse van hoe doeltreffend hul oorhoofse beleid op die brood-en-bottervlak neerslag vind. Terwyl die regering skynbaar sy eie grootste vyand is om sake op grondvlak – en eintlik verskeie ander vlakke – te laat slaag, is die kiesers – juis hulle wat as barometer moet dien omdat hulle aan die ontvangkant is – die regering se grootste bate. Sommige waarnemers meen die ANC gaan tot 70 % van die stemme kry in die komende landswye munisipale verkiesing, wat beteken die land se kiesers is nie veel meer as blote stemvee nie.
