“Hierdie aanstelling van mnr. Manyi is ‘n duidelike en onteenseglike bewys dat die ANC se beleid van kaderontplooiing die doodsteek vir dienslewering beteken. Kaders wat fouteer word bloot verplaas en nie gestraf nie,” het adv. Alberts bygevoeg.
Jimmy Manyi is ook bekend daarvoor dat hy ‘n obsessie het oor die toepassing van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging tot uitsluiting van wit mense. Hierdie bevooroordeelde houding neem hy saam met hom na sy nuwe amp as kabinetswoordvoerder. Manyi sal moet kan onderskei tussen sy eie opinies en die beleid wat die kabinet volg. Manyi het telkens bewys dat hy nie tevrede is met die regering se beleid nie en het eerder sy eie opinies verkoop as regeringsbeleid. Die vraag kan met reg gevra word of Manyi die vermoë het om binne die beleidsraamwerk van die regering sy taak as woordvoerder na te kom.
Die VF Plus is van voorneme om die optrede van Jimmy Manyi as kabinetswoordvoerder noukeurig te monitor. Manyi moet die mondstuk van die kabinet wees en nie die instrument waarvolgens die kabinet sy beleid gaan maak nie.
