Arabiese opstande, persvryheid, inligting via die internet

Die ou politiek-wetenskaplike spreekwoord lui dat ‘n land geen vriende het nie, net belange.

In hierdie opsig is Suid-Afrika se post-1994-regering dikwels ‘n uitsondering, sodat ‘n politieke leier al opgemerk het die eregaste by Suid-Afrika se aanbieding van die Sokker-wêreldbeker het soos ‘n muishondgallery gelyk.

Soms kos die vestiging van belange ook ‘n bietjie deeglike navorsing. Onlangs het die SABC groot gewag gemaak van Suid-Afrika se hoëvlakbesoek aan Tunisië en verskerpte bande. Kort daarna het die diktator-president die bevolking se skoen onder die sitvlak gekry.

Suid-Afrika neig ook om die Soedannese president, Omar al Bashir, teen vervolging deur die internasionale geregshof op aanklagte van volksmoord te beskerm. Die Christian Science Monitor, bekend vir sy gewoonlik hoogstaande joernalistiek,berig egter dat die onrus in Egipte na Soedan oorgeloop het, en dat die Soedannese regering met onluste te kampe het. Minstens een betoger is dood.

Dié keer is dit nie die suide wat in opstand is nie, dis die Arabiere self. In die suide, berig die CSM, vier die mense fees na dit bekend geword het 99 % van die kiesers het ten gunste van afskeiding van die noorde gestem.

Vir die wêreld, en so ook Suid-Afrika, was vriendskap of minstens gesonde betrekkinge met die Moebarak-bewind in Egipte belangrik. Anders as baie Arabiese en Moslemstate het Egipte nie groot olierykdomme nie – of ten minste – groot olierykdomme is nog nie raakgeboor nie. Maar ongeveer die helfte van die wêreld se Arabiere is Egiptenare, en Egipte beheer die Seuz-kanaal. Die skerp styging in oliepryse sedert die Egiptiese onluste uitgebreek het toon hoe belangrik dit is. Oorspoelgeweld kan olieryke streke ook in gedrang bring.

Dit is moeilik om te bepaal hoe sterk enige Arabiese monarg of diktator nou staan. ‘n Momentum het ontstaan, wat eintlik al ongesiens in lande soos Tsjad en Niger ontstaan het. Intussen smeul die vergete oorlog – dié van die Polisario en Marokko oor Wes-Sahara nog, en saam met Moslemradikalisme, speel faktore soos Berber-opstandigheid, kommunistiese radikalisme en doodgewone strewe na meer genormaliseerde demokrasie ‘n allegaartjie wat nie meer maklik onder die knie gekry kan word nie.

‘n Goeie leidraad dat ‘n land sy mense onderdruk, en die potensiaal het om te ontplof, is om na die stand van persvryheid te kyk.

Die Arabiese lande wat die beste op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks vaar, is die Verenigde Arabiese Emirate en Koeweit op ‘n bedenklike 87ste plek. Jordanië is 120ste, gevolg deur ‘n paar klein Golfstate, dan Egipte op 127ste, Irak 130ste, Algerië 133ste, Marokko 135ste, Saoedi-Arabië 157de, Libië 160ste, Tunisië 164de, Soedan 172de. Nog ‘n Moslemstaat, maar nie ‘n Arabiese staat nie, Eritrea, beklee met sy 178ste posisie die laaste plek. In die geheel is Moslemstate aan die onderste helfte van die persvryheidsindeks, met waarskynlik Albanië met sy 80ste posisie die Moslemstaat wat die beste vaar. Turkye, wat graag by die Europese Unie wil aansluit, beklee die 138ste posisie.

Hoe gebeur dit dan, dat terwyl inligting so ooglopend deur die owerheid gesmoor word, dit tog so gou by die publiek uitkom? Die antwoord is blykbaar die internet. Toe die onluste na Egipte begin oorloop, het die Egiptiese owerhede ook dadelik die internet geblok.

Vroeër, met die omtstrede presidentsverkiesing in Iran, was die owerhede minder suksesvol om die Iranse bevolking – en die buitewêreld, in die duister te hou. Twitter het ‘n belangrike rol gespeel.

Die inligting loop, en die domino’s tuimel.

Die stand van persvryheid is egter nie al norm vir opstandigheid nie, anders sou ‘n land soos Saoedi-Arabië ‘n goeie kandidaat vir opstande wees. Soms is daar komplekse bindfaktore, soos historiese etniese inbinding en selfs onderdrukking wat bykans onaantasbaar geword het. Maar as die internet eers begin praat…

online free rouletteФільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae