Hiermee saam het die verwoestende sleureffek van die wêreldwye finansiële krisis en die gevolglike ekonomiese resessie ʼn nadelige uitwerking op die landboubedryf gehad. Dié situasie is verder deur ʼn oorproduksie aan graan vererger, terwyl die aanvanklike hoë insetkoste van produsente opgevolg is deur ‘n skerp daling in die pryse van produkte.
Dit volg uit PricewaterhouseCoopers (PwC) se sesde Landboubesighede Prestasiemetingsopname vir die tydperk tot November 2010. Die opname toon dat landboubesighede se winsgewendheid in die tydperk onder oorsig met 19% gedaal het.
Die handelsomset het met 4% gedaal teenoor ʼn styging van 11% in die vorige tydperk, terwyl die omset in onderdele met net 6% toegeneem het. Die omset in implemente het met 19% gedaal teenoor die vorige jaar en graantransaksies het ook met 11% afgeneem.
Die resultate van landboubesighede in die tydperk onder oorsig is ook negatief geraak deur die daling in kommoditeitspryse, wat voorraadafskrywings en dalende omset meegebring het. Weens die afname in produsente se koopkrag is hulle gedwing om hul kapitaalbestedingsprogramme in te kort, wat trekker en implemente verkope aansienlik laat daal het.
Die graanafdelings het egter onder uiters mededingende omstandighede meer inkomste verdien as gevolg van die surplus graan wat gestoor moes word. Weens die afplatting in graanpryse kon die wins uit graanverhandelingstransaksies, soos in die vorige tydperk, egter nie herhaal word nie.
Volgens die samesteller van die opname, Kobie Bekker van PwC en nasionale leier van die Agri Industriegroep, word daar gehoop dat die Suid-Afrikaanse regering die strategiese waarde van ‘n stabiele landbousektor sal besef en maatreëls sal instel om ongelykhede reg te stel.
Die belangrikste enkele boodskap in die opname was die groei in landboubesighede se debiteureboek en die finansiering daarvan. Dit is uiters kommerwekkend dat landboubesighede weens die groei in landbouers se skuld gedwing was om bykomende verpligtinge aan te gaan en dit selfs in langtermynskuld te konsolideer.
“Langtermynfasiliteite word dus gebruik om korttermynskuld van produsente te finansier. Die groot omvang van oorlaatskuld, dit wil sê oesopbrengste wat nie insetkoste kon vereffen nie, het ook meegebring dat landboubesighede kredietaansoeke nou streng op meriete hanteer, terwyl groter voorsienings vir twyfelagtige skuld geskep word.”
“Daar is aanduidings dat landboubesighede vanjaar minder krediet gaan toestaan. Dié situasie het meegebring dat die aandag nou eerder op risikobestuur val en sekere nuwe projekte uitgestel word. Daar word ook meer op die behoud van welvaart gefokus deur strenger kostebestuur toe te pas en markaandeel te behou,” sê Bekker.
Nota
Hierdie prestasiemetingsopname deur PricewaterhouseCoopers bied ‘n vergelyking van die resultate van landboumaatskappye van 1 Maart 2009 tot 30 September 2010. Die inligting vir die samestelling van die prestasiemetingsprofiel is uit vraelyste verkry wat deur deelnemers self voltooi is, asook hul finansiële state. Die inligting is gedurende November 2010 versamel.
Kontak:
Kobie Bekker
Tel: +27 23 346 5500
E-pos: kobie.bekker@za.pwc.com
