Rommelvrye Suid-Afrika

Die regering se planne om binne ‘n jaar in die groter sentra, en binne twee jaar ook die kleiner munisipaliteite te dwing om rommelbestuur in die vorm van herwinning toe te pas, moet verwelkom word.

Soos gewoonlik, gaan die werkbaarheid van die plan in die wil en vermoë om dit uit te voer, geleë wees, en in hierdie opsig het Suid-Afrika nie ‘n besonder suksesvolle geskiedenis nie. Pas het dit byvoorbeeld geblyk dat die Mangaung-munisipalietit, wat die land se geregtelike hoofstad Bloemfontein insluit, die derde agtereenvolgende OG-verslag op die lyf geloop het waarin die ouditeur-generaal sy mening moes weerhou.

Om die doel van ‘n rommelvrye Suid-Afrika te bewerkstellig is een van wetstoepassing en van gesindheid. Mense moet van kindsbeen af geleer word om nie hul omgewing soos varkhokke te laat lyk nie. Dit beteken dat omgewingstudies weer behoorlik deel van leerplanne moet uitmaak. Dit is dekades sedert die Hou Suid-Afrika skoon, die Jiffiesak-projek en die Bambie-projek op deurlopende grondslag bedryf is.

Baie sake sal gesinchroniseer moet word. Een van die hoekstene van die nuwe beleid is dat mense wat erwe het, komposgate sal bedryf. Baie munisipaliteite verbied dit, of stel sulke streng vereistes dat net kundiges dit kan bedryf. ‘n Onbehoorlike bedryf van organiese afval kan inderdaad gesondheidsgevare skep wat in ‘n land met ‘n hoë vlak van vigsbesmetting katastrofies kan wees, soos swak rioolbestuur ook is. Vir woonstelbewoners kom die versekering dat hul afval van organiese aard elke week verwyder sal word – ‘n skrale troos in ‘n land wat bekend geword het vir vullissakke wat soms weke lank op sypaadjies lê en gis.

Die sukses hang ook daarvan af dat inwoners hul rommel sal skei, en dat munisipaliteite die rommel geskei sal hou sodat stortingsterreine nie meer sal bestaan nie, en alle rommel herwin word. Hieroor het die land nie veel van ‘n keuse nie, want geskikte stortingsterreine raak al hoe skaarser, en stede soos Kaapstad trek reeds noustrop met terreine wat geskik is, soos weens ‘n bodemgesteldheid wat verhinder dat besoedelde water na die ondergrondse watervlak deurdring. Hierdie vereiste veroorsaak dikwels dat stortingsterreine baie ver is, en dat mense neig om hul rommel, soos tuinrommel, op ongemagtigde plekke af te laai.

Die groot toets gaan egter kom by die algemene publiek – die leë sigaretpakkie of bierblik wat by motors, busse of taxi’s uitgegooi word, bushaltes met vullisdromme wat oorloop en die wêreld daaromheen wat gesaai lê met rommel. Plek-plek het stedelike bewareas ingespring, soos in die Bloemfonteinse woonbuurt Langenhovenpark, en ‘n baie groot verbetering bewerkstellig – ironies ten spyte daarvan dat die munisipaliteit vierkantig ‘n stok in die speke gesteek het van herwinningsplanne – ook tydens verlede jaar se wêreldbekersokkertoernooi toe gasheerstede formeel by herwinningsplanne ingebind was.

‘n Skoon en leefbare land hang van elkeen af – of dit ‘n fabriek met afval is, of ‘n bosslaper – net een stukkie papier wat in die strate rondwaai bederf die hele doel.

Of die regering die politieke wil het om op te voed en te wiks waar nodig, sal ongelukkig eers gesien moet word. Sommige mense gaan nie saamwerk sonder dat hulle vasgevat word nie.

авто androidДанильченко Юрий Брониславович компромат

Maak 'n opvolg-bydrae