Die regering van Malawi beplan om aanhoudende oortreders te straf “wat die lug bevuil” in ‘n poging om verantwoordelike en gedissiplineerde burgers te kweek.
Maar inwoners vrees dat verantwoordelikheid vir die misdaad moeilik gaan wees om te bepaal en kan lei tot misplaasde geregtigheid indien die werklike misdadigers ander blameer vir hul oortredings.
Een Malawiese burger het aan die webwerf Africanews.com gesê: “My goeiste. Wat gebeur in ‘n openbare plek waar ‘n groep byeen is? Hulle sal die helfte van ‘n minibus moet toesluit!”
“En hoe gemaak by vergaderings waar dit moeilik is om vas te stel wie die ‘skuldiges’ is?”
“Kinders sal openlik ontken dat hulle slegte lug uitgelaat het en vingerwys na ‘n ouer persoon. Kultureel, is dit ‘n yslike verleentheid,” het sy gesê.
‘n Ander inwoner het gesê: “Ons het ernstige kwessies wat Malawiërs vandag raak. Ek weet nie hoe bevuiling van die lug prioriteit moet neem oor die regulering van Chinese beleggings wat nie plaaslike inwoners in diens neem nie, ernstige korrupsie, veral onder diegene in die regerende party, en nog vele meer nie. “
Die oortreding sal strafbaar wees in ‘n nuwe “Plaaslike Hof”-stelsel wat ook ‘n verskeidenheid van ander misdade sal straf. Dié wetsontwerp word tesame met ander tans deur die land se parlement bespreek.
Dit sluit die belediging van vroue, uitdagings tot tweegevegte en die betreding van grafte in.
Dit is ook ‘n misdaad om ‘n fortuinverteller te word, volgens die plaaslike pers in Malawi.
Opposisieleiers kla dat die nuwe howe “kangaroehowe” sal wees.
