Die storms wat dit ontketen het sou, as ‘n mens in ‘n ander land die saak beoordeel het, die spreker tot meer omsigtige woordkeuse lei.
Maar dit het klaarblyklik nie op Suid-Afrika en Zuma betrekking nie. Die jongste storm is aan die ontvou nadat Zuma in Zoeloe in die Oos-Kaap iets gesê het tot dien effekte dat die ANC-kaartdraers ‘n vrypas na die hemel kry, en die wat nie vir die ANC stem nie, se reis na die man met die lang vurk bespreek is.
Die redakteur van die Oudtshoorn Online beskryf Zuma sonder meer as gek hieroor.
So lank as wat politieke korrektheid dikteer dat die saak nie antropologies ontleed kan word nie, so lank sal hierdie soort uitsprake sekere gehore ontstem, en sal diegene wat hierdie soort uitsprake maak, die media blameer.
In die tradisionele verband is dit as goeie hoofmanskap beskou dat ‘n hoofman saans van die een familie- en gesinsvuurtjie na die ander beweeg, en by elke vuurtjie vertel wat die mense daar graag wil hoor. So is almal gelukkig, al is hulle die vreeslikste velle oor die oë getrek.
Nou trek die media saam. Wat by een vuurtjie gesê is, kom die mense by ander vuurtjies uit, en hulle hou nie altyd van wat hulle hoor nie. As Zuma by die bekkige Julius Malema se tuisdorp Julius tot kroonsprins verklaar, was dit duidelik nie vir oom Jan op sy plaas by Ventesrdorp se ore bedoel nie. Maar danksy die media weet hy daarvan, en sy bloeddruk slaan duike teen die plafon.
Presies hoe ‘n groot impak hierdie lastigheid in die uitleef van kultuur daarmee te make het dat die ANC kort-kort die media onder die duim probeer vasdruk, is moeilik om te bepaal. Verslaggewers sonder Grense het nietemin dié soort handelinge, en Julius se uitbarsting teenoor ‘n BBC-joernalis op sy lysie gevoeg van hoekom Suid-Afrika op die jongste persvryheidsindeks ‘n slaggat getref het.
Dit sny verder. By Kovsies is ‘n duidelike protokol ingestel waaraan joernaliste moet voldoen sodat verseker kan word die boodskap wat die ringkoppe wil hê moet uitgaan, die enigste boodskap is wat uitgaan. Dit word “strategiese kommunikasie” genoem hoewel die term “strategiese kommunikasie” hierdeur verkrag word. Ongeag die doel, stap die strategiese kommunikator nooit opsigtelik af van die beginsel: “Die kliënt is altyd reg” nie, en hier is die media die skakelafdeling se kliënte, die publiek weer die media s’n. En die publiek soek nie ‘n weergawe dat alles rustig is oor die “Deo” wat weggelaat is nie, want dit is nie, en die arme media wat daardie boodskap probeer oordra, boet self in geloofwaardigheid in. Strategiese kommunikasie maak nooit van leuens gebruik nie, hoewel tydens sielkundige oorlogvoering soms gekyk word hoe ver die waarheid gebuig kan word.
Fris advertensies van Kovsies help skynbaar darem om die medisyne minder galsterig te maak.
Sonder die media sou die publiek nie van Zuma se jongste juweeltjie geweet het nie. Noudat dit in die oopte is, kan besin word of hy nie die grondbeginsels van demokrasie, en veral grondwetlike demokrasie verkrag nie. Is hy nie dalk met verkiesingsintimidasie besig nie? Indien wel, is dit nie ‘n oortreding van die grondwetlike bepaling dat vryheid van meningsuitdrukking beperk word deur uitsprake, onder meer met ‘n godsdienstige grondslag, wat bedoel is om onderlinge haat te bevorder nie?
