Om ‘n flater met nog ‘n flater te probeer toesmeer

Afriforum het pas ‘n peiling op die UV se kampus gedoen oor die universiteitsowerhede se besluit om God uit die leuse weg te laat. Sowat 93 % van die studente, wit en swart, wat aan die peiling deelgeneem het, het aangedui dat hulle teen die besluit gekant is.

Dit plaas ‘n vraagteken oor die UV-bestuur se aansprake dat wyd oor die besluit gekonsulteer is, ook met die studente. Presies hoe met die studente gekonsulteer is, is nie duidelik nie omdat Kovsies oor dié kwessie die kaarte styf teen die bors speel. Studentepolitiek op partypolitieke grondslag op die kampus is verbied, en daar is geen behoorlike verteenwoordigende studenteliggaam nie.

Ongeveer al wat bekend is, is dat dit deel van die transformasieproses uitmaak. Hoe by daardie sommetjie uitgekom word, is ook nie bekend nie. Ongelukkig is dit ook nie die eerste keer dat die UV-owerhede aanspraak maak dat ‘n besluit na oorleg met die studente geneem is, maar selfs studenteleiers aandui dat hulle nie van enige raadpleging bewus was nie.

Met eier in die gesig reageer die UV-bestuur nou deur onder meer met hofstappe te dreig, en aan te voer dat Afriforum se optrede rassespanning op die kampus kan laat ontbrand. Gegewe die uitslag van die peiling is dit ook ‘n bisarre gevolgtrekking.

Boonop het baie studente gister, toe die referendum volgens berigte by die UV se hekke sou plaasvind, opgeruk om te gaan stem. Deur dié misverstand het talle wat moeite gedoen het om teen die UV-besluit te stem, onverrigtersake teruggekeer.

Die regte manier sou wees om nie vooraf te besluit hoe watter rassegroep standpunt oor sake sal inneem nie. Bykans die helfte van die deelnemers aan Afriforum se peiling was swart, en met die hoë persentasie wat teen die weglating van God uit die leuse gestem het, beteken dit verreweg die meeste swart deelnemers is teen die weglating gekant. In hierdie geval sou ‘n referendum – en Afriforum het gewys hoe maklik so iets aangepak kan word – die vrae laat opklaar het. Dan weet almal waar hulle staan.

Sou die meerderheid vir die behoud stem, dan het die UV-bestuur ‘n kort skande as hulle dit as skande wil beskou. Deur die kwessie in die transformasie-doofpot te wil druk, is ‘n lang ongelukkigheid die voorland.

Kovsies se bestuur weet nou wat die pad is om geloofwaardigheid en respek te herwin. Los die dreigpraatjies, en toets op ‘n aanvaarbare manier die menings van studente en dosente.

Moenie van die universiteit se afdeling strategiese kommunikasie ‘n propaganda-liggaam maak nie, want as dit eers geloofwaardigheid verloor het, gaan die UV sukkel om sy beeld te herstel.

Dan het die debat oor die beginselkwessie van die weglating van God uit die leuse nog nie eens begin nie. Om die weglatingbesluit uit die leuse aan transformasie te koppel is bisar, in die lig daarvan dat die eerste deel van die post-1994 SA se volkslied ‘n gebed is, en dit weer deel van die grondwet is. Is die behoud hiervan dan nie ook logies ‘n struikelblok vir transformasie nie.

Die ironie is dat transformasie, anders as groepe se godsdiensregte, nie in die grondwet voorkom nie.

‘n Opvoedkundige instelling wat in effek deelneem aan die vertrapping van die grondbeginsels wat die grondwet onderlê, moet hard gaan dink.

оборудования для шиномонтажапрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae