Hierteenoor is die prys van renosterhoring op die swartmark nou R400 000 per kilogram, maar die koste om dit te oes deur wildstropery is oneindig laer.
In die proses lag iemand bank toe.
Verlede jaar het renosterstropery in Suid-Afrika meer as verdubbel en is altesaam 333 van hierdie taamlik bedreigde dier gestroop. Altesaam 162 mense is in verband met moontlike renosterstropery in hegtenis geneem. Veral die swartrenoster se voortbestaan word bedreig, terwyl dit onseker is of sekere Asiatiese spesies se voortbestaan nog hoegenaamd moontlik is.
In die VSA het kommersiële boerdery met die amper uitgestorwe bison grootliks daartoe bygedra dat die bison, veral die vlaktebison, se voortbestaan nie meer bedreig word nie.
Dit maak weinig sin dat Suid-Afrikaanse wildboere swaar in renosterbewaring belê, groot geld betaal aan die uitruil van geskikte genetiese materiaal, peperduur wildwerende heinings aanbring en uiteindelik veel, veel minder vir ‘n lewende renoster in die handel kan kry as wat die stroper, wat nie die kostes aangaan nie, net vir die horing kry. Uit vrees vir wildstropers word die ligging van sommige renosterteelplase effektief geheim gehou, en broodnodige toerisme-inkomstes verbeur.
Van die renosterboere meen die oplossing is daarin geleë om die handel in renosterhoring te wettig, sodat die boer jaarliks meer as ‘n kilogram se horing per renoster kan oes. In baie gevalle word die horings in ieder geval deur die boer afgesaag om die renoster minder aantreklik vir wilddiewe te maak, maar selfs die oorblywende stompie bring bykans ‘n halfmiljoen rand vir die stroper-netwerk in as die renoster se horing in die been afgesaag word. Dit beteken dan ook die einde van die renoster, selfs renosterkalfie wat al ‘n knoppie het.
Die gedagte is voorts dat as die oes en bemarking van renosterhoring gewettig word, die swartmarkprys erg sal daal en stropery onlonend sal word. In daardie geval sal van die bedreigde Asiatiese renosters ook makliker kan asemhaal, by wyse van spreke.
Die oplossing is klaarblyklik nie heeltemal so eenvoudig nie, maar ander alternatiewe om die slagting te stuit bied ook nie veel oplossings nie. Vanjaar is reeds 21 renosters gestroop, en dit lyk nie of die opruim van vermeende sindikate veel bydra tot die welvaart van die renosterbevolking nie.
Baie ure is al aan strategieë spandeer, en dit wil al hoe meer lyk of daar uiteindelik noodwendig buite die kassie gedink sal moet word.
Tot tyd en wyl ‘n oplossing gevind word, sal lewens van mens en dier op die spel bly.
