Druk op Zuma om soldate terug te bring

Versoeke is aan die toeneem dat die oorblywende Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek na Suid-Afrika terugkeer. Die hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi, sê soldate behoort ontplooi te word as deel van ‘n Afrika Unie-mandaat en hulle het ‘n president beskerm wat uit die land gevlug het.

Die Vryheidsfront Plus en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie het saamgestem dat die soldate behoort terug te kom. President Jacob Zuma het in Januarie vanjaar die ontplooiing van soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek gemagtig as deel van ‘n militêre samewerkingsooreenkoms tussen die twee lande.

Slegs 200 van die soldate was ten tyde van die aanval in die land ontplooi. Hulle was in gevegte met tot tweeduisend rebelle betrokke waartydens 13 Suid-Afrikaners dood en 27 gewond is. Die Weermag sê die rebelle het egter groot lewensverliese gehad.

Intussen is onthul dat die afgesette president van die Sentraal Afrikaanse Republiek, Francois Bozize, Suid-Afrika om hulp gevra het nadat hy president Zuma verlede Vrydag ingelig het dat die rebelle hom gewaarsku het om die land te verlaat of ‘n militêre aanval te verwag.

Die Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê Bozize het Zuma ingelig dat die rebelle sy regering 72 uur tyd gegee het om die land te verlaat. Die nuus kom te midde van kritiek teen Suid-Afrika omdat hy nie sy soldate betyds aan die land onttrek het nie. Bozize bevind hom intussen in Kameroen.

Die DA het gevra dat die Speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu, ‘n veelparty adhoc-komitee op die been bring om die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal Afrikaanse Republiek te ondersoek.

Die DA-woordvoerder oor Verdediging, David Meynier, sê hy het ‘n brief aan Sisulu gestuur en gevra dat so ‘n komitee aangestel word. Maynier sê die Weermag moes nooit troepe na die Sentraal Afrikaanse Republiek gestuur het nie

SAR-rebelle vra om verskoning vir aanval op SA’ners

Al die Suid-Afrikaanse soldate wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gewond is, is na die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria geneem, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gesê.

Die soldate wat slegs geringe beserings opgedoen het, is op die toneel behandel en kan aangaan met hul verpligtinge.

Die weermaghoof, genl. Solly Shoke, het gesê die res van die soldate ontvang die nodige ondersteuning wat hulle benodig.

“Ons soldate is steeds daar tot daar ‘n politieke ooreenkoms is. Ons sal in kennis gestel word. Ons regering sal besluit om te onttrek of nie. Om weg te hardloop is nie ‘n opsie nie.”

Ná die skietgeveg het rebelle ‘n wit vlag gehys en om ‘n skietstaking gevra.

“Die rebelle het met ‘n wit vlag gekom. As iemand ‘n wit vlag het mag jy nie skiet nie,” het Shoke gesê.

Shoke het gesê die skietstilstand word al vir die afgelope 24 uur gehandhaaf.

“Dit is die moeite werd om te noem dat die rebelle om verskoning gevra het vir die skietgeveg met lede van die SANW en het aangedui dat hulle spyt is oor wat gebeur het.”

Altesaam 13 soldate is dood en 27 is gewond in ‘n skietgeveg met die rebelle. Een soldaat word vermis.

Regering skuldig aan dood van soldate in die SAR

Die Suid-Afrikaanse regering moet volle verantwoordelik aanvaar vir die doodskiet van dertien van sy soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR). Nog 27 soldate is gewond terwyl een vermis word.

Mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor verdediging, sê die regering het die SA Nasionale Weermag oor die afgelope dekade ‘toenemend verwaarloos’ deur nie genoeg fondse beskikbaar te stel wat nodig sou wees vir ‘n professionele en effektiewe weermag nie.

“Die situasie is weens ‘n tekort aan logistieke- en lugsteun wat nou blootgestel is, so benard dat ons glo alle soldate moet onmiddellik uit die gebied onttrek word om verdere lewensverlies te voorkom.

“Dit wil voorkom of pres. Jacob Zuma sonder behoorlike oorweging besluit het om weermaglede in die SAR te ontplooi sonder behoorlike logistieke- en lugsteun vir sulke operasies.

“Militêre kenners het lank reeds gewaarsku dat die weermag nie behoorlike vredesoperasies kan uitvoer sonder hierdie tipe ondersteuning nie.

“Dit is daarom nie verrassend dat die treurspel plaasgevind het nie en dit kan hom herhaal indien die regering nie drasties ingryp en die land se verdedigingsbegroting sodanig aanpas dat sy soldate hul plig behoorlik kan uitvoer nie,” sê mnr. Groenewald.

Hy sê daar word lank reeds gewaarsku dat daar nie voldoende fondse is vir die behoorlike opleiding van soldate en vlieëniers nie.

“Dit is wel strategies belangrik vir Suid-Afrika om betrokke te wees in die streek, maar dan moet ons oor die nodige kundigheid en vermoë beskik, anders word Suid-Afrika voor die hele wêreld in die verleentheid gestel en verneder soos nou gebeur het.

“Die VF Plus betreur die voorval en betuig sy diepgaande simpatie met familie en vriende van die gesneuwelde soldate,” sê mnr. Groenewald.

Agang mik vir wit boere

By die opening van die Land Divided 2013-konferensie by die Universiteit van Kaapstad (UK) Sondag, het Mamphela Ramphele gesê die land is armer want Suid-Afrika verloor kommerwekkend baie van sy kommersiële boere na lande na die noorde van ons.

Vyftien jaar gelede was daar 100 000 kommersiële boere in Suid-Afrika, vandag was daar 36 000.

“Dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika sy kommersiële boere verloor aan ander lande na die noorde. Ons word vertel dat 50% van die kommersiële boere in Zambië Suid-Afrikaners is. Daar is 800 van hulle in Mosambiek.”

Kommersiële boere is wat nodig is om die opkoms van klein boere aan te moedig en te ondersteun, het Ramphele gesê.

Die vier-dag-konferensie is 100 jaar ná die aanvaarding van die 1913-segregasiewet gehou. Dié wet het swart eienaarskap van grond in Suid-Afrika omskryf.

Die konferensie-organiseerders – die Universiteit van Kaapstad, Stellenbosch en Wes-Kaap – sê dit bied ‘n groot geleentheid vir navorsers, die burgerlike samelewing en die staat om te besin oor die betekenis van “die grondvraag ‘in die Suid-Afrikaanse samelewing”.

Ramphele het gesê dat 19 jaar na demokrasie, die grondvraagstuk steeds “historiese, emosionele en simboliese betekenis” in Suid-Afrika inhou.

Sy het gesê dit beliggaam ‘n “verlore geleentheid”, wat gebruik kan word om die land se ekonomiese groei te verbeter.

“As ons regtig ‘n kreatiewe benadering tot grondhervorming volg, sal ons groei [ekonomies] met dubbelsyfers.”

Ramphele het gesê ongelykheid in Suid-Afrika is struktureel geskep, en daarom “moet dit struktureel reggestel word”.

Sy het ook kritiek gelewer op die ANC se verskansing van stamowerhede.

“Ons moet strukturele ekonomiese ongelykhede aanspreek […] en verseker dat landelike mense burgerregte geniet, eerder as … om onder die gebruiklike gesag van hoofmanne te staan.”

Onder die apartheidsregering, is mag oor grond gekonsentreer in die hande van hoofmanne.

“Die ANC-regering gaan voort om die outokratiese rol van die hoofmanne oor die grond te bestendig, en daardeur marginaliseer hulle gewone mense.”

“Ek kan nie glo dit word gedoen deur ons eie post-apartheid regering nie,” het Ramphele gesê.

Sy het haar gehoor vertel dat die gewillige koper, gewillige verkoper-model van die oordrag van grond aan swart eienaarskap nie gewerk het nie.

Medupi-kontrakteurs dalk uit

Die kragreus Eskom oorweeg om die hoofkontrakteurs by die Medupi- en Kusile-kragstasies af te dank oor substandaard werk en vertragings, het Brian Dames, uitvoerende hoof, aan Business Report gesê.

“Ek kan jou verseker dat ons oorweeg het om hul kontrakte te kanselleer,” het Dames gesê.

“Ek het my span 18 maande gelede – toe ons probleme gehad het met strukturele staal – gevra dat ons na ander opsies kyk. Nie een van die opsies word uitgesluit nie.”

Dames het gesê Eskom oorweeg al sy opsies oor die kontrakte van twee hoofkontrakteurs, Hitachi Power Africa en Alstom.

Die kansellering van hul kontrakte is ‘n moontlikheid wat Eskom oorweeg het indien hulle versuim om die werk te bespoedig en verseker dat dit aan die gehaltestandaarde voldoen en tydsraamwerke nagekom word.

Volgens die koerant het die twee maatskappye die grootste kontrakte by Medupi en was die middelpunt van vertragings in die projekte.

SANW bevestig onbekende aantal SAR-sterftes

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het Sondag gesê Suid-Afrikaanse soldate is dood en beseer in gevegte in die land.

Die weermag kon egter nie sê hoeveel mense dood en beseer is nie.

Brig. genl. Xolani Mabanga, woordvoerder van die SANW, het gesê die situasie in die land was Sondagmiddag kalm en dat die lewens van die Suid-Afrikaanse soldate nie bedreig word nie.

“Ons neem niks ligtelik op nie. Alle voorsorgmaatreëls is geneem.”

Mabanga het gesê gevegte tussen soldate en rebellemagte het Saterdag aan die buitewyke van die hoofstad, Bangui, plaasgevind.

Bozize het Sondag uit die hoofstad gevlug nadat honderde gewapende rebelle, wat gedreig het om hom omver te werp, te stad binnegedring het, berig AP.

Teen 12:00 Sondag het die rebelle Bangui oorgeneem.

‘n Vredesooreenkoms is op 11 Januarie onderteken, wat Bozize in staat stel om sy termyn, wat in 2016 verstryk, te voltooi, maar rebelle het die president daarvan beskuldig dat hy nie beloftes nagekom het wat gemaak is nie.

Rebelle eis dat Bozize Suid-Afrikaanse soldate huis toe stuur. Hulle wil ook 2 000 rebellevegters in die land se gewapende magte integreer.

Pres. Jacob Zuma moes Suid-Afrikaanse soldate uit die Sentraal-Afrikaanse Republiek onttrek het toe die land se president, Francois Bozize, versuim het om ‘n vredesooreekoms na te kom, het die weermagvakbond Sanwu gesê.

“Die president moes ons soldate onttrek het die oomblik toe Bozize sy verpligtinge in die verband verontagsaam het,” het adv. Pikkie Greeff, Sanwu se nasionale sekretaris

“Sy verontagsaming van daardie ooreekoms moes die groenlig wees vir die onttrekking van ons soldate uit daardie land.”

Greeff het ‘n beroep op Zuma gedoen om “al ons troepe met onmiddellike effek te onttrek, selfs al behels dit ‘n militêre ingryping om ons troepe in nood te help”.

NW-premier geskok oor hondeteler se moord

Die premier van Noordwes, Thandi Modise, het haar skok uitgespreek oor die moord op ‘n bekende hondeteler buite Rustenburg.

Eric Labuschane is Donderdag dood in sy huis aangetref.

Sy bejaarde ma, wat aan Alzheimer se siekte ly, is gevind waar sy in die badkamer toegesluit was.

Modise het ‘n beroep op die polisie gedoen om geen steen onaangeroer te laat om die moordenaars vas te trek nie.

Sy het ook gesê boere moet ‘n doeltreffende kommunikasienetwerk hê om plaas-aanvalle te help voorkom.

Merkel kook oor Ciprus

Volgens berigte is die Duitse kanselierAngela Merkel woedend oor die houding van Ciprus wat weier om met die EU te skakel en eerder stilweg planne bedink om die pensioenfondse van hul bewoners te plunder. Duitse regeringsamptenare het die Cipriote se houding as byna “outisties” beskryf.

Die Cipriese president, Nicos Anastasiades, en partyleiers sal Saterdag na Brussel reis vir samesprekings met die Europese Unie oor maatreëls om die eiland se dreigende bankrotskap af te weer, berig die staatsmedia.

Die afvaardiging sal omstreeks 12:00 vertrek en laat Saterdag of Sondag na Ciprus terugkeer. Dit is ‘n dag voor die sperdatum om maatreëls in werking te stel, wat daarop gemik is om €5,8 miljard (sowat R69 miljard) in te samel om ‘n reddingspakket te verseker, het die CNA-nuusagentskap berig.

Die Europese owerhede het verlede naweek ingestem om €10 miljard (sowat R119 miljard) aan Ciprus beskikbaar te stel, maar in ruil daarvoor is ‘n belasting van 10% op alle banksaldo’s gehef. Dit beteken dat spaarders 10% van hulle spaargeld aan die EU moes betaal. Dit het vrese gestook dat banke in ander lande getref word en dat verbruikers hul geld gaan onttrek.

Merkel het die eenmalige belasting op die spaargeld verdedig en gesê dit maak sin omdat die rentekoerse hoër is in Ciprus as elders in die EU.

SAR-president vermis na besoek aan SA

Familielede van pres. Francois Bozize van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) soek skuiling in die Demokratiese Republiek van die Kongo, het ‘n bron in Kinshasa gesê.

Dit is egter nie bekend waar Bozize hom bevind nie. Bozize word sedert Vrydag – ná ‘n vlugtige besoek aan Suid-Afrika – vermis.

Sowat 25 familielede bly in ‘n hotel of in kerke in die stad van Zongo, aan die ander kant van die Oubangui-rivier wat die SAR van die DRK begrens, het die bron gesê.

Die bron kon nie sê of die president saam met sy familie gevlug het nadat rebelle Sondag beheer oor die hoofstad, Bangui, geneem het nie.

Lambert Mende, regeringswoordvoerder, het Sondag aan AFP gesê Bozize “het nie gevra om na die DRK te kom nie… Hy het nie hier aangekom nie”.

Mende het gesê hy het ook met die burgemeester van Zongo gepraat, wat gesê het ‘n groot aantal vlugtelinge van SAR het in die stad aangekom.

Exxaro-staking beëindig

Die staking by verskeie Exxaro-aanlegte beëindig toe die werkers ingestem het om volgende week terug te keer na hul poste, het OFM Saterdag berig.

“Kragtens die ooreenkoms sal stakende werknemers by die Matla, Arnot, Grootegeluk, Leeuwpan, Inyanda en Reductants-aanlegte Maandag terugkeer werk toe,” het Retha Piater, hoof van menslike hulpbronne, gesê.

Sy het gesê werknemers sal ‘n minimum van R2 800 ontvang vir die eerste kwartaal van die maatskappy se 2013 korttermynaansporingsbonus.

Die staking het op 5 Maart in Mpumalanga begin en na die res van die aanlegte in Limpopo uitgebrei.

Werknemers het onwettig gestaak oor prestasiebonusse wat nie betaal is nie. Die maatskappy het in 2012 nie sy prestasiedoelwitte bereik nie.