Die staking by verskeie Exxaro-aanlegte beëindig toe die werkers ingestem het om volgende week terug te keer na hul poste, het OFM Saterdag berig.
“Kragtens die ooreenkoms sal stakende werknemers by die Matla, Arnot, Grootegeluk, Leeuwpan, Inyanda en Reductants-aanlegte Maandag terugkeer werk toe,” het Retha Piater, hoof van menslike hulpbronne, gesê.
Sy het gesê werknemers sal ‘n minimum van R2 800 ontvang vir die eerste kwartaal van die maatskappy se 2013 korttermynaansporingsbonus.
Die staking het op 5 Maart in Mpumalanga begin en na die res van die aanlegte in Limpopo uitgebrei.
Werknemers het onwettig gestaak oor prestasiebonusse wat nie betaal is nie. Die maatskappy het in 2012 nie sy prestasiedoelwitte bereik nie.
