SA-sending in SAR loop ‘verskriklik’ verkeerd

Minstens nege Suid-Afrikaanse soldate is gedood in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in die botsings met die rebelle.

‘n Suid-Afrikaanse militêre kenner het gesê “niemand kon dink dat die operasie só verskriklik sou skeefloop nie”.

Rebelle het Sondag die hoofstad Bangui ingeneem en die bewind van President Francois Bozize omvergewerp, het ‘n ooggetuie aan Reuters gesê.

Hy het eers ses lyke en later drie liggame van Suid-Afrikaanse soldat by die uitgebrande voertuie gesien.

“Ek het die liggame van ses Suid-Afrikaanse soldate gesien. Hulle is almal geskiet. Hul voertuie is ook vernietig. Ander Suid-Afrikaanse soldate het gekom om die liggame te kom haal,” het een ooggetuie gesê.

Sowat 600 Suid-Afrikaanse soldate is sonder lugsteun in die land ontplooi. SANW het intussen bevestig dat van sy soldate dood en gewond is, maar kon nie besonderhede oor die aantal dooies en gewondes verstrek nie.

Volgens gerugte kan daar tot 40 gewondes wees. Dit is nie seker of van die soldate vermis of gevange geneem is nie.

Twee Suid-Afrikaanse Hercules C-130-vragvliegtuie is na Entebbe, Uganda, onderweg om die gewondes en dooies na Suid-Afrika terug te bring.

Die SAR is ‘n mineraalryke land met neerslae van uraan, goud en diamante

Frankryk het aansienlike ekonomiese belange in die onstuimige land. Die Franse kernreus Areva het sy Bakouma uraanprojek vir twee jaar in 2011 egter opgeskort as gevolg van ‘n daling in uraanpryse na die Fukushima-ramp.

Die aanval op die Suid-Afrikaners is ‘n terugslag vir die land se pogings om deur vredesendings groter invloed op die kontinent te verkry. Frankryk het 250 soldate reeds in die SAR en het inderhaas 300 uit Gaboen ingevlieg.

Die AU het die aanval veroordeel.

“Die plundery is sleg. Beide die bevolking en Seleka [die rebelle-alliansie] is betrokke,” sê ‘n senior VN-amptenaar in die hoofstad Bangui. “Ons is nie seker wie in beheer is nie, ek dink nie dit is al duidelik nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae