Familielede van pres. Francois Bozize van die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) soek skuiling in die Demokratiese Republiek van die Kongo, het ‘n bron in Kinshasa gesê.
Dit is egter nie bekend waar Bozize hom bevind nie. Bozize word sedert Vrydag – ná ‘n vlugtige besoek aan Suid-Afrika – vermis.
Sowat 25 familielede bly in ‘n hotel of in kerke in die stad van Zongo, aan die ander kant van die Oubangui-rivier wat die SAR van die DRK begrens, het die bron gesê.
Die bron kon nie sê of die president saam met sy familie gevlug het nadat rebelle Sondag beheer oor die hoofstad, Bangui, geneem het nie.
Lambert Mende, regeringswoordvoerder, het Sondag aan AFP gesê Bozize “het nie gevra om na die DRK te kom nie… Hy het nie hier aangekom nie”.
Mende het gesê hy het ook met die burgemeester van Zongo gepraat, wat gesê het ‘n groot aantal vlugtelinge van SAR het in die stad aangekom.
