Volgens berigte is die Duitse kanselierAngela Merkel woedend oor die houding van Ciprus wat weier om met die EU te skakel en eerder stilweg planne bedink om die pensioenfondse van hul bewoners te plunder. Duitse regeringsamptenare het die Cipriote se houding as byna “outisties” beskryf.
Die Cipriese president, Nicos Anastasiades, en partyleiers sal Saterdag na Brussel reis vir samesprekings met die Europese Unie oor maatreëls om die eiland se dreigende bankrotskap af te weer, berig die staatsmedia.
Die afvaardiging sal omstreeks 12:00 vertrek en laat Saterdag of Sondag na Ciprus terugkeer. Dit is ‘n dag voor die sperdatum om maatreëls in werking te stel, wat daarop gemik is om €5,8 miljard (sowat R69 miljard) in te samel om ‘n reddingspakket te verseker, het die CNA-nuusagentskap berig.
Die Europese owerhede het verlede naweek ingestem om €10 miljard (sowat R119 miljard) aan Ciprus beskikbaar te stel, maar in ruil daarvoor is ‘n belasting van 10% op alle banksaldo’s gehef. Dit beteken dat spaarders 10% van hulle spaargeld aan die EU moes betaal. Dit het vrese gestook dat banke in ander lande getref word en dat verbruikers hul geld gaan onttrek.
Merkel het die eenmalige belasting op die spaargeld verdedig en gesê dit maak sin omdat die rentekoerse hoër is in Ciprus as elders in die EU.
