Die Suid-Afrikaanse regering moet volle verantwoordelik aanvaar vir die doodskiet van dertien van sy soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR). Nog 27 soldate is gewond terwyl een vermis word.
Mnr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor verdediging, sê die regering het die SA Nasionale Weermag oor die afgelope dekade ‘toenemend verwaarloos’ deur nie genoeg fondse beskikbaar te stel wat nodig sou wees vir ‘n professionele en effektiewe weermag nie.
“Die situasie is weens ‘n tekort aan logistieke- en lugsteun wat nou blootgestel is, so benard dat ons glo alle soldate moet onmiddellik uit die gebied onttrek word om verdere lewensverlies te voorkom.
“Dit wil voorkom of pres. Jacob Zuma sonder behoorlike oorweging besluit het om weermaglede in die SAR te ontplooi sonder behoorlike logistieke- en lugsteun vir sulke operasies.
“Militêre kenners het lank reeds gewaarsku dat die weermag nie behoorlike vredesoperasies kan uitvoer sonder hierdie tipe ondersteuning nie.
“Dit is daarom nie verrassend dat die treurspel plaasgevind het nie en dit kan hom herhaal indien die regering nie drasties ingryp en die land se verdedigingsbegroting sodanig aanpas dat sy soldate hul plig behoorlik kan uitvoer nie,” sê mnr. Groenewald.
Hy sê daar word lank reeds gewaarsku dat daar nie voldoende fondse is vir die behoorlike opleiding van soldate en vlieëniers nie.
“Dit is wel strategies belangrik vir Suid-Afrika om betrokke te wees in die streek, maar dan moet ons oor die nodige kundigheid en vermoë beskik, anders word Suid-Afrika voor die hele wêreld in die verleentheid gestel en verneder soos nou gebeur het.
“Die VF Plus betreur die voorval en betuig sy diepgaande simpatie met familie en vriende van die gesneuwelde soldate,” sê mnr. Groenewald.
