SAR-rebelle vra om verskoning vir aanval op SA’ners

Al die Suid-Afrikaanse soldate wat in die Sentraal-Afrikaanse Republiek gewond is, is na die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria geneem, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gesê.

Die soldate wat slegs geringe beserings opgedoen het, is op die toneel behandel en kan aangaan met hul verpligtinge.

Die weermaghoof, genl. Solly Shoke, het gesê die res van die soldate ontvang die nodige ondersteuning wat hulle benodig.

“Ons soldate is steeds daar tot daar ‘n politieke ooreenkoms is. Ons sal in kennis gestel word. Ons regering sal besluit om te onttrek of nie. Om weg te hardloop is nie ‘n opsie nie.”

Ná die skietgeveg het rebelle ‘n wit vlag gehys en om ‘n skietstaking gevra.

“Die rebelle het met ‘n wit vlag gekom. As iemand ‘n wit vlag het mag jy nie skiet nie,” het Shoke gesê.

Shoke het gesê die skietstilstand word al vir die afgelope 24 uur gehandhaaf.

“Dit is die moeite werd om te noem dat die rebelle om verskoning gevra het vir die skietgeveg met lede van die SANW en het aangedui dat hulle spyt is oor wat gebeur het.”

Altesaam 13 soldate is dood en 27 is gewond in ‘n skietgeveg met die rebelle. Een soldaat word vermis.

Maak 'n opvolg-bydrae