Nostalgie as ‘n turksvy vir verloopte Afrikaners (en Jacob Zuma)

Deel op

‘Elke keer as ek ‘n rubriek van Wilhelm Jordaan, ‘n oud-joernalis en sielkunde-dosent, sien, wonder ek: Waarom voltooi hy nie eerder sy doktorale proefskrif nie?’ – Leon Lemmer

Deel op

In Hennie Aucamp (1934-2014) se boek, Kommerkrale (Kaapstad: Tafelberg, 1983), vertel hy van ‘n droom wat telkens by hom opkom. Hy is “oud en verlate” en kom op ‘n winternag by sy ouers se plaas in die Stormberg aan. “Van die opstal het net ‘n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar ‘n lig in die kamer brand. Ma sit en wag voor die swart stofie met sy krom pote. Die tafel staan gedek, en by my ou sitplek is daar ‘n netjiese stapeltjie pos met buitelandse seëls. Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek dit nooit gedoen het toe sy nog gelewe het nie” (Aangehaal deur Abraham H de Vries, “Die kwessie van Hennie se kierie,” Rapport, Weekliks, 28 Desember, p 11).

Dit is vir my van die treffendste prosa wat Aucamp geskryf het. Hy gee uitdrukking aan sy intense heimwee na sy jeug en sorgsame moeder. Dit is positiewe, eerbiedwaardige verlange. In die nuwe Suid-Afrika moet blankes en veral Afrikaners telkens aanhoor dat hulle nie na die verlede mag verlang nie, al is dit duidelik dat die ou Suid-Afrika in talle opsigte beter was as wat die nuwe Suid-Afrika is. Verskillende benaderings tot nostalgie is moontlik. Koos Kombuis, Julian Müller en Wilhelm Jordaan het onlangs hieroor geskryf.

In die nuwe Suid-Afrika word die indruk gewek dat die kombuis na die sitkamer gekom het. Dít is kenmerkend van ‘n omgedopte land waarin ‘n waardetransformasie plaasgevind het. Byvoorbeeld, mense wat nooit op hoërskool was nie, doen deesdae, asof dit so hoort, kantoorwerk by lessenaars. In tradisionele huishoudings in Europa word dit algemeen aanvaar dat (wit) bediendes hulle eie eetgerei het en nie saam met die huisgenote eet of in die sitkamer sit en gesels nie. In die nuwe Suid-Afrika word ons wysgemaak dat sodanige leefwyse nie die blote erkenning van ekonomiese, kulturele of standverskille nie maar die uitdrukking van naakte rassisme is. Dat soort soort soek en verkies, was eeue lank ‘n evangeliese waarheid, maar word deesdae heftig in progressiewe kringe ontken.

Koos Kombuis het ook in ons voorkamers beland. Ek skryf na aanleiding van twee van sy jongste artikels. Julian Müller gebruik Kombuis se eerste artikel, “Wanneer ‘n volk skeur” (Beeld, 3 Desember; “Die nuwe Groot Trek – ‘n Bybelse verwarring,” Netwerk24) as aanleiding vir sy artikel, “Verlede gevaarlik verbeel” (Netwerk24, 5 deser). Kombuis het ‘n deel van die Afrikaners soos volg beskryf: “Hulle verlang terug na die eenvoudige wit-en-swart waardes van die ou Suid-Afrika op dieselfde manier as wat ek as kleuter soms terugverlang het na die simplistiese boodskap van die Kinderbybel.” Wat ons myns insiens gerus as die waarheid kan aanvaar, is dat ons geneig is om dinge skoner of eenvoudiger te bedink as wat hulle in werklikheid was of is. Uit die verlede onthou ons net sekere dinge, bv gebeure wat ons as goed of sleg beskou, en ons vestig ons hoop selektief op sekere kenmerke in die toekoms.

Kombuis se verwysing na politiek en religie pas Müller, ‘n afgetrede teoloog van die Universiteit Pretoria. Hy erken dat ons “verlang na soveel kosbaarhede wat skynbaar onherroeplik verlore is”. Wat religie betref, kan ons nostalgies wees oor die tyd toe ons soos kinders kon glo en aanvaar het dat die Kerk die waarheid verkondig. Sy algemene karakterisering van nostalgie is: “Dreaming the past and telling a future.”

Volgens Müller is nostalgie egter “nie die vertelling van die verlede nie. Eerder ‘n obsessie met die verlede. ‘n Verheerliking van ‘n era wat in elk geval nooit presies so bestaan het soos in die drome wat gedroom word nie.” Dit word hierbo deur die Aucamp-droom onderskryf. “Die verbeeldingshuis waarna gehunker word, word uiters selektief saamgestel.” Müller onderskei tussen restourerende/herstellende en reflekterende/oordinkte nostalgie. “Die eerste behels daardie onrealistiese geloof dat die verlede soos dit in ons verbeelding bly voortleef, weer net so in al sy glorie herstel kan word. Daarteenoor behels reflekterende nostalgie ‘n omhelsing van, maar ook ‘n kritiese omgang met herinneringe van die verlede.”

Müller is besig om ‘n strooipop op te stel. Met daardie “verheerliking van ‘n era” het hy klaarblyklik die apartheidsera in gedagte: “Die verlede bevat … skandes en skaamte.” In werklikheid is daar min Afrikaners wat apartheid “in al sy glorie” wil herstel. By nie-verloopte Afrikaners is daar sekere kenmerke van die verlede wat hulle graag sou wou terugbring. Byvoorbeeld om geborge in jou vaderland te voel, erkenning te ervaar vir wat jou voorgeslagte vermag het, volwaardige landsburgers te wees, selfbeskikkend hede en toekoms te bepaal, ongehinderd in en deur Afrikaans te lewe, ens. Om die goeie in die verlede uit te soek, verg onderskeidingsvermoë, dus daardie “kritiese omgang met herinneringe van die verlede” wat Müller bepleit. Hy val dus eintlik uit die minibus met hierdie stelling: “Wat ons vandag aan baie fronte sien en ervaar, is gevaarlike en sieklike nostalgie.”

Müller se onderrok hang al hoe meer onder sy toga uit wanneer hy voorts beweer:

“Soos wat ons selektief is oor politiek en landsomstandighede wanneer ons rondom ons braaivleisvure vertel van die goeie dinge van die ou Suid-Afrika, so is ons ook selektief oor die kerk van vroeër … Die gevolg van sulke nostalgie is dat ons weerstand bied teen vernuwende idees en dat die kerk vasgevang word in ou strukture en formulerings van geloof. Nuwe belydenisse, soos Belhar, word verwerp.”

‘n Geweeklaag oor die spraakvryheid van Afrikaners tydens vleisbraaiery is gewoonlik die uiting van frustrasie by verloopte Afrikaners. Kombuis verwys ook na braaivleisvure maar erken darem: “Die Beloofde Land is deesdae nogal ‘n moeilike plek om in te woon.” Myns insiens is dit Afrikaners se goeie reg om oor “die goeie dinge van die ou Suid-Afrika” te praat en krities oor “vernuwende idees” soos politieke korrektheid en die Belhar-belydenis te wees.

Om Müller se uitlatings in perspektief te plaas, is dit nodig dat ons let op sy geskiedenis. Ek het dit (nog) nie die moeite werd geag om sy jongste boek, Geloof anderkant Sondag (2014), te lees nie. Ek bepaal my aandag dus by sy vorige boek, Om te mag twyfel: ‘n gelowige se reis (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 194p). Müller kom uit ‘n bloedsapfamilie, maar hy het tot in die Afrikaner Broederbond gevorder. Hy het christelike nasionalisme onderskryf, maar dink deesdae dat dit van hom ‘n rassis gemaak het (p 46). Polities het hy saam met die tyd beweeg en die nuwe Suid-Afrika verwelkom. Hy reken nou dat ons nie die verdedigende aksies van 1838 as Geloftedag moet vier nie (p 59). Met die Soweto-skoolopstand het hy deesdae groot simpatie (p 55-57) en hy opper geen beswaar daarteen dat hierdie destruktiewe gebeurtenis jaarliks herdenk word nie. Hy het die Waarheids- en Versoeningskommissie omarm (p 51) en onderskryf die Belhar-belydenis (p 63).

Müller is tans eerder ‘n nuwe Suid-Afrikaner as ‘n tradisionele of konserwatiewe Afrikaner. Hy formuleer sy verlooptheid soos volg: “Ek kon deur ‘n proses van losmaking gaan wat kerk en volk betref” (p 38). Dit is vir my altyd moeilik om te besluit in hoe ‘n mate so ‘n radikale frontverandering op oortuiging of opportunisme dui. Müller het eers kort voor sy aftrede as teologie-dosent openlik met sy skeptisisme oor die christelike religie vorendag gekom; dus toe dit nie meer sy salaris en pensioen nadelig kon beïnvloed nie. Om krities of skepties oor die verlede, hede en toekoms, of oor enige onderwerp, insluitende religie, te wees, is myns insiens nie verkeerd nie. Dit is ‘n beter opsie as fundamentalisme of dogmatisme. Maar ‘n mens moet nie dermate deur modestrome meegevoer word dat jy (net) die slegte in jou kultuurgenote (wittes, Afrikaners) raaksien maar by voorkeur (net) die goeie in die ander nie.

Soos by die bevrydingsteoloë noem Müller een van die moontlike karakteriserings van God “die Gemarginaliseerde”. Maar anders as wat sy onderskrywing van die Belhar-belydenis impliseer, skryf hy dat God nie vir sommige mense (bv die armes, verdruktes, benadeeldes) meer omgee as vir ander nie (p 162). Dalk het daar ‘n sprankie van die Afrikaner/Boer in Müller behoue gebly en kan hy simpatie vir die nuwe gemarginaliseerdes/benadeeldes, die blankes, opdiep, al is daar geen teken hiervan in sy artikel nie.

Koos Kombuis se ander skrywe, “Halwe waarhede van ‘n pampoenkenner” (Die Burger, 7 deser, p 13), is eintlik ‘n aanval op Steve Hofmeyr. In sy vorige artikel het Kombuis geskryf: “Dink hulle [Afrikaners] alles gaan regkom as hulle net op aandag staan, hul oë styf toeknyp en ‘Die Stem’ sing?” Kombuis wil hê dat ons die verlede presies soos hy moet onthou en die hede net soos hy moet sien. Hy wil dus ons nostalgie rig en daarmee saam ook ons siening van die hede en ons verwagtinge vir die toekoms. In hierdie konteks is selektiwiteit onvermydelik, maar daar sal verskille wees oor wat uitgekies word. Iemand soos Kombuis, wat nie ‘n Afrikaner wil wees nie en dink sy verhoogoptredes het gehelp om apartheid te vernietig, se aandag sal op ander dinge toegespits wees as dié wat vir nie-verloopte Afrikaners saak maak.

Kombuis begin met ‘n pleidooi vir gelykheid, dus die ontkenning van ‘n hiërargie by mense. Hy ontken “dat swart mense ‘n ‘agterstand’ het by wit mense.” In die koerant lui die onderskrif van Kombuis se artikel, dus die stelling wat Die Burger wil invryf, soos volg: “Die idee dat swart mense ‘n agterstand by wit mense het, is gevaarlik – nie omdat dit ‘n leuen is nie, maar omdat dit ‘n halwe waarheid is.”

Ons word vervolgens teruggeneem na die 17de eeu aan die Kaap, die tyd van Jan van Riebeeck. “Dis … moontlik dat die Khoi-San, toe hulle die eerste keer met die wit setlaars in aanraking gekom het, gewonder het hoekom laasgenoemde te dom was om ‘n pyl en boog te maak of spoor te sny. Dis moontlik dat hulle die wit mense om hierdie rede as agtergeblewenes gesien het. Want die wit mense het geen benul gehad van die dinge wat vir die Khoi-San van die allergrootste waarde was nie. Dis hoekom die stelling ‘swart mense het ‘n agterstand’ slegs ‘n halwe waarheid is.”

Wat Kombuis uitwys, is dat daar kulturele verskille tussen die Europeërs en die inheemses was. Dié twee groepe het in vermoëns verskil. Polities korrek wil hy hê dat die een groep nie hoër of beter as die ander groep geag word nie. Maar dit is tog sekerlik moontlik dat die kundigheid van die Europeërs belangriker vir landsontwikkeling was as die veeboervermoëns van die Khoi en die jagbedrewenheid van die San. In die kultuur (maniere van dink en doen) van die Khoi-San is daar (feitlik) niks wat daarop dui dat hulle Suid-Afrika kon ontwikkel tot die vooruitstrewendste land in Afrika nie. Ten minste in hierdie opsig was die Europeërs beter as die inheemses, maar oorverligtes beskou so ‘n stelling as heiligskennis. Weens die euwel van politieke korrektheid mag daar deesdae nie positiewe stellings oor wittes en negatiewe stellings oor nie-wittes gemaak word nie.

Die dwaasheid van Kombuis se ingesteldheid blyk uit die geskiedenis. Na ‘n besoek aan die Kaap in 1605 skryf John Davis:

“A goodly Countrey, inhabited by the most savage and beastly people as ever I thinke God Created” (Harry Booyens, AmaBhulu, Vancouver, Cliffwood Fogge, 2013; Amazon Kindle 463; AmaBhulu = the White Tribe of Africa = Afrikaners). “Historically, the Khoekhoe [Khoi] were viewed by the Europeans as the most outrageously primitive people on Earth and best not engaged unless really necessary. Their peculiar customs of removing one testicle from every male, covering themselves and their hair in reeking soot-saturated animal fat, eating raw animal intestines still bearing some contents, wearing dried intestines around their necks or legs as adornment and covering newborn babies in cow dung, as reported by Van Riebeeck, did not sit well at all with Dutch Calvinistic sensibilities. At least thirteen contemporary reports describe them enjoying their own body lice as a delicacy. These they extracted with much zeal from the untanned animal skins they wore. Visitors were also taken aback by the practice of the married Khoekhoe women of throwing their exceedingly pendulous breasts over their shoulders to thereby suckle the babies borne in animal skins on their backs. It is difficult to imagine a greater cultural separation than between the 17th century Khoekhoe and the Europeans of that century. In 1616 Edward Terry described the Khoekhoe as ‘beasts in the skins of men, rather than men in the skins of beasts.’ On 14 April 1653, one year and one week after the landing at the Cape, Van Riebeeck wrote the Lords XVII and pleaded for a transfer to India away from the ‘dull, stupid, lazy, stinking people'” (714).

In ‘n tydvak wat oorversadig met liberaal-humanistiese ideologie/propaganda is, sal seker beweer word dat hierdie waarnemings oordrewe en bevooroordeeld is. Maar wat kwalik ontken kan word, is dat daar in die 17de eeu werklik groot kulturele verskille tussen die Europeërs en die inheemse Khoi-San was. ‘n Mens moet darem uiters entoesiasties oor jou politieke korrektheid wees om soos Kombuis te beweer dat hier geen gronde vir hiërargie is nie; dat die een groep ingevolge (Europese) beskawing nie beter of hoër of meer ontwikkeld was en die ander groep ‘n agterstand gehad het nie. In sy deeglik nagevorste boek toon Booyens aan dat daar tydens die Groot Trek in die 19de eeu steeds ‘n groot kulturele gaping tussen die wittes en die swartes was. Die Trekkers het bv by talle geleenthede tekens van kannibalisme/mensetery waargeneem.

Kombuis erken ruiterlik dat alles nie wel in die nuwe Suid-Afrika is nie. Maar hy vind dit nodig om te bly hoop dat dit in die toekoms beter sal gaan. “Ek herinner myself gedurig daaraan … om telkens wanneer ek my aan Afro-pessimisme wil skuldig maak, te onthou dat ons Westerse beskawing (ja, die einste beskawing wat nou die ganse ekwilibrium van die natuur bedreig) eers die afgelope honderd jaar of meer sy grootste ontdekkings gemaak het.” Let op die skeefheid van sy siening. Die Westerse beskawing word van natuurbedreiging beskuldig, maar die uitroeiing van die plantegroei vir vuurmaakhout deur die Khoi en die uitdunning van wilde diere deur die San word nie genoem nie. Die prestasies van die Westerse beskawing (bv in vergelyking met Afrika suid van die Sahara) strek veel verder terug as “eers die afgelope honderd jaar of meer,” tot by die klassieke Grieke, eeue voor Christus.

Aan die einde van sy artikel bly Kombuis selektief hamer op wat hy as tekortkominge van blankes beskou terwyl positiewe aspekte verswyg word. “Onthou: Tot ‘n paar eeue gelede was daar nog heksejagte in Europa. Onthou: Ons het eers die afgelope tien jaar begin ontdek dat gays oukei is. Ons wit mense het werklik geen rede om te glo ons is generies soveel [!] beter as ander Suid-Afrikaners nie. Ons is almal net mense. En ons het mekaar nodig. Nou meer as ooit tevore.” Let op die invoeging van die woord “soveel”. Dalk toon die ontnugterings van die nuwe Suid-Afrika tog dat ‘n wit politieke bewind beter as een oorheers deur swartes is.

Al is etniese groepe geneties (feitlik) eenders, weerspieël daardie eendersheid glad nie die groot verskille in kultuur en ontwikkeling nie. Met “ons is almal net mense” probeer Kombuis daardie verskille ontken en verklaar hy almal wesenlik eenders of gelyk. Met “ons het mekaar nodig” systap hy een van die groot werklikhede van sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika en tewens van die wêreld: Party (etniese) groepe het ander meer nodig as wat omgekeerd die geval is omdat party groepe meer ontwikkeld, kundig, ens, en beter aangepas by bv die ekonomiese en tegnologiese werklikhede is. Blankes bly die norm waaraan ander groepe hulle meet, al word dit nie openlik en sekerlik nooit amptelik erken nie.

Elke keer as ek ‘n rubriek van Wilhelm Jordaan, ‘n oud-joernalis en sielkunde-dosent, sien, wonder ek: Waarom voltooi hy nie eerder sy doktorale proefskrif nie? Hy skryf meesal goedig oor onskadelike ditjies en datjies. Sy rubrieke voldoen altyd aan die ononderhandelbare vereiste wat Naspers se koerante vir publikasie stel, naamlik politieke korrektheid. Na aanleiding van die skrywes wat hierbo bespreek is, het Jordaan sy eiertjie gelê: “‘n Kragveld wat die deur toe hou vir jonges” (Beeld/Netwerk24, 7 deser). “Nostalgie, as ‘n verheerliking van die verlede, is besig om ‘n breedlopende negativisme oor Suid-Afrika te voed. Dit is veral ouer mense wat hulle daaraan skuldig maak. En jongmense … is moeg daarvoor. Hulle is sat vir ouer mense se volgehoue skeptisisme.” Jordaan borduur dan voort deur te beweer dat ‘n “vrugbare teelaarde vir epidemies van swartgalligheid” geskep word en dat ons hier met “slordige, koerslose emosies” te maak het, bv “selfbejammering en verlekkering in eie slagofferskap.” In hierdie proses word jongmense glo “ontneem van ‘n ander soort geboortereg – die reg om ‘n eie toekoms te bedink en te bou.”

Jordaan het met sy eensydigheid heeltemal oorboord gegaan. Nostalgie is nie noodwendig ‘n “verheerliking van die verlede” nie; in hierdie politieke konteks sekerlik nie in die meeste gevalle nie. Ouer mense het die werklikhede van die ou Suid-Afrika beleef en weet dus dat ‘n drogbeeld van wat was in bv ANC-propaganda aan mense voorgehou word. Soos Paul Kruger wil nie-verloopte Afrikaners wat goed en mooi in die verlede was, gebruik om ‘n leefbare toekoms in hierdie land te bou. Soos DF Malan wil nie-verloopte Afrikaners mense wat deur innerlike oortuiging of kultuur bymekaar hoort, bymekaar bring. Dit is verregaande om te beweer dat hierdie Afrikaners jongmense van hulle geboortereg, naamlik ‘n “eie toekoms,” ontneem. Blankes is deur FW de Klerk en sy meelopers van hierdie geboortereg beroof.

Dit is aan die kant van sulke verloopte Afrikaners dat Jordaan en ook Kombuis en Müller hulle skaar. Realisme oor die verlede, hede en toekoms moet liefs nie as negativisme geëtiketteer word nie. Realistiese, kritiese nostalgie kan as ‘n waardevolle bron en springplank vir ‘n beter toekoms dien.

Dit bring my by twee swart “bevrydingsbewegings”, die Mau Mau en die ANC. Die Mau Mau word beskryf as: “Kenyan secret guerrilla movement 1952-60 … Its aim was to end British colonial rule. This was achieved in 1960 with the granting of Kenyan independence and the election of Jomo Kenyatta as Kenya’s first prime minister” (Collins world encyclopedia, Glasgow: HarperCollins, 2003, p 589).

Op Saterdag, 10 deser, het Jacob Zuma ‘n ANC-byeenkoms in die Groenpunt-stadion toegespreek. ‘n Khoi-geestelike het, voordat hy gebid het, dit nodig gevind om Jan van Riebeeck se gees te verdryf (Die Burger, 12 deser, p 2). Eers twee dae later en bykans vyf dae na die gewraakte byeenkoms het Die Burger (14 deser, p 3) berig dat Zuma die vorige Vrydagaand, die 9de, hom soos volg by die ANC se galadinee in Kaapstad uitgelaat het: “‘n Man met die naam van Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 in die Kaap aangekom. En dit was die begin van al [!] die land se probleme. Wat daarop gevolg het, was talle stryde en oorloë en sterftes en die gryp van grond en die ontneming van die inheemse mense se politieke en ekonomiese mag.”

Die Vryheidsfront Plus het hieroor ‘n klag van haatspraak teen Zuma by die Menseregtekommissie gelê; uiteraard nie die Demokratiese Aliansie nie. Zuma het die blankes immers as misdadigers, bv as gronddiewe en moontlik selfs as moordenaars, voorgestel. Hy het uitdrukking aan sy anti-blanke sentiment gegee en sekerlik nie versoening bevorder nie. By Zuma, met sy beperkte formele skoolonderrig, is daar geen nostalgie oor Van Riebeeck se koms en die voortreflikhede van drie en ‘n halwe eeue (1652-1989) se blanke bewind nie. Daardie tydperk word deur Zuma as ‘n distopie voorgestel; as die teenoorgestelde van wat regmatig nostalgie kan wek.

Dit het my laat dink aan ‘n opmerking wat as teenvoeter vir hierdie Zuma-uitlating kan dien. In 1952, drie eeue na Van Riebeeck se volksplanting, het die Britse koloniale sekretaris, Oliver Lyttelton, met verwysing na die Mau Mau-opstand in Kenia, die volgende in die Britse parlement gesê:

“Mau Mau is a secret society and feeds, not upon economic discontent, but is something far more sinister. It is the enemy of both white and Asian. It is the enemy of the law-abiding African. It is anti-Christ and it feeds, not upon economic discontent, but upon perverted nationalism and on a sort of nostalgia for barbarism” (Booyens, 12555).

Booyens se gevolgtrekking is:

“These words may be taken as they stand and repeated for every single rising by indigenous African people in Sub-Saharan Africa since then. All that has varied is the degree of barbarism and the degree to which the West has selectively closed its eyes to the horrors committed” (12555).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.