Mbeki se brief op ANC Today van verlede Vrydag waarin hy herhaaldelik die woord “kaffer” besig, spreek van sy onbevoegdheid om ’n multi-etniese land soos Suid-Afrika te regeer. Pleks dat hy verdraagsaamheid en respek tussen gemeenskappe bevorder, is hy besig om op die donkerste rassegevoelens van veral die swart bevolking te speel.
Die rede vir Mbeki se patetiese vertoning as staatshoof is nie ver te soek nie: sy mislukkings op die misdaadfront en wat sy benadering teenoor Zimbabwe betref, skrei ten hemele. Pleks dat sy regering daadwerklike stappe doen om die geweldsmisdaad te bekamp wat die land verskeur, het hy aanvanklik die bohaai oor misdaad as ’n blote “persepsie” afgemaak. Toe dit nie werk nie, val hy nou weereens terug op die holruggeryde geteem oor rassisme.
