Grond: stuur SA op burgeroorlog af?

ImageDie voorspelbaar radikale voorstelle oor grondonteiening wat die direkteur-generaal van grondsake, Glen Thomas, nou maak, is genoeg om enige redelike mens te laat sidder. Dit het my ook weer oortuig van my mees pessimistiese tese wat ek reeds in 2000 in ’n ongepubliseerde bydrae aan Die Burger gestel het: dat die 1994-skikking Suid-Afrika se eensydige Versailles-ooreenkoms was wat noodwendig tot ’n nuwe rondte konflik sou lei.

Wat die ANC-bewind nou beoog, is om blanke boere à la Mugabe van hul plase te verdryf. Maar daar sal nie oorlogsveterane ingestuur word nie, nee. Dit sal geskied deur kwasi-wettige onteienings en deur die instel van ’n sogenaamde “grondbelasting”. Almal weet dat boerdery ’n marginale bedryf is met baie lae winsgrense en wisselende landboupryse. Die grondbelasting is dus bedoel om so ’n finansiële las op boere te plaas dat hulle bankrot speel. Daar word selfs daarvan gepraat dat dié belasting op ’n rassegrondslag ingestel gaan word en dat swart boere daarvan kwytgeskeld sal wees.

Die begrip “grondhervorming” wat Zimbabwe op sy knieë gebring het, gaan dus meedoënloos in Suid-Afrika toegepas word. Die ooreenkoms eindig egter daar. Want terwyl die blanke kommersiële boere van Zimbabwe mekaar op tweerigtingradio’s gebel het om seker te maak dat niemand hom teen die grondonteienings in daardie land verset het nie, gaan dieselfde vir seker nie in Suid-Afrika gebeur nie.

Wat die ANC nie besef nie, asook die Engelstalige joernaliste wat koel en kalm oor hierdie kwessie berig asof oor iemand se ingroeitoonnaels, is dat die Afrikaner en Afrikanerboere geen ander heenkome het nie. Zimbabwiese boere kon hul grond verlaat en teruggaan Engeland toe of na Suid-Afrika vlug. Ons boere het geen ander land waarheen hulle kan gaan nie; baie van hulle leef reeds geslagte lank op hul plase en het ’n diep emosionele band met hul familie-erfenis gevorm.

Soos mnr. Willie Lewies van die Transvaalse Landbou-unie al in die openbaar gesê het, “Hulle gaan my nie lewendig van my grond afhaal nie”, kan ons verwag dat ’n aantal boere – al is dit net ’n minderheid – nie sonder geweld van die staat hul onteiende plase gaan verlaat nie. Ook stedelike Afrikaners waarvan familielede steeds boer gaan voor die netelige vraag geplaas word of hulle gaan toesien hoe hul mede-Afrikaners met geweld van plase verwyder word en of hulle betrokke gaan raak by een of ander versetaksie teen die staat.

Daar bestaan ’n teorie dat Mbeki en sy ministers doelbewus besig is om die Afrikaner deur naamsveranderinge, taaldiskriminasie en nou grootskaalse grondonteiening te provokeer sodat hulle hul fameuse tweede revolusie met geweld van stapel kan stuur. Mbeki, wat nie verniet die Sfinks genoem word nie, se weë is duister.

Dat die ANC dus hier met een of ander Machiavelliaanse spel besig is, is ’n moontlikheid. Na my mening spruit die uiters onverantwoordelike magspel waarmee die fanatiese minister van grondsake, Lulu Xingwana, en haar amptenare besig is egter uit presies die soort mistasting dat Afrikaners “setlaars en kolonialiste” is. In die propaganda wat daar tans gemaak word om boere van hul plase te verdryf, word daar herhaaldelik beweer dat die huidige plase iewers in die verre verlede van “swart boere” (wat waar geboer het, sonder boorgate, damme en moderne besproeiingstegnieke?) afgevat is “weens kolonialisme en apartheid”. Indien enigiets, het apartheid juis swart grondbesit verhoog, want sedert genl. Hertzog se tyd as eerste minister in die twintigerjare is daar begin om grond op te koop om die stamgebiede te vergroot. Ook onder die tuislandkonsolidasiebeleid is groot stukke grond van blanke boere aangekoop om by die destydse tuislande gevoeg te word.

Een van die grootste mites wat elke dag in veral die buitelandse pers gelees kan word, is dat “blankes 90% van Suid-Afrikaanse grond besit”. As ons praat van landbougrond moet die droë woestyngebiede uitgesluit word. Die Karoo, waar swartes weens ’n gebrek aan water en hout nog nooit in die verlede kon woon nie, beslaan 70% van ons landoppervlak. In die onlangse geskiedenis het swartes ten minste die helfte van die oorblywende 30% beheer, onder andere watterryke gebiede in Natal, die Oos-Kaap, asook die hoëpotensiaallandbougrond in Venda naas Levubu.

Dat daar weinig kommersiële landbouproduksie in swart gebiede plaasgevind het, is maar een van die paradokse van dit waarmee die departement van grondsake nou besig is. Waarom nie swart boere help om daardie tradisionele swart gebiede wat tans braak lê of slegs bestaansboerdery huisves, te ontwikkel in die lushowe waarvan apartheid en kolonialisme hulle kwansuis weerhou het nie?

Die huidige konflik rondom grond word ook uit die buiteland aangeblaas. Linkse en radikale NGO’s soos Nkuzi Development in die Noord-Transvaal wat rojaal van oorsee af befonds word, is besig om haat teen ons inheemse boere aan te blaas. Hierdie organisasies was ook verantwoordelik vir die registrasie van duisende onbillike en onredelike grondeise wat in geen hof staande sou gebly het nie, maar wat tans deur die departement van grondsake hanteer word asof hulle op feite berus.

Voeg hierby die mal-linkse en soms openlik Marxistiese akademici aan die Universiteit van Wes-Kaapland en ander Engelse kampusse wat besig is met drome van kolgosse op die platteland en ’n beheerde eiendomsmark waar die staat eerste opsie gaan hê om alle eiendom op te koop, en ons het ’n resep vir vervreemding, rassehaat en konflik. Deur die hele twintigste eeu het radikale sosialisme en kommunisme slegs ellende gebring, met volksmoord, verdrukking en menseregteskendings wat tot die dood van ten minste 100 miljoen mense gelei het.

Op ’n manier het die Berlynse muur nog nie in Suid-Afrika geval nie. Die linkse Engelse intellektuele wat die departement van grondsake in sy kwaad sterk, meen dat sosialisme hier by ons op landbougebied met groter welslae as in die ou Sowjet-unie toegepas kan word.

Raymond Aron het in sy boek, Die opium van die intellektuele, daarop gewys hoe geweld deel van die romantiek van sosialisme vorm. Dit sou nie vergesog wees om te beweer dat daar ’n bepaalde frustrasie by Suid-Afrikaanse linkses heers dat daar nog nie grootskaalse revolusionêre geweld plaasgevind het om die vorige heersersklas “op sy plek te sit nie”. Die triomfantelike manier waarop daar gewoonlik na Afrikanerweerstand verwys word as drie patetiese AWB’s wat in die stof deur ’n Bophutatswana-polisieman tereggestel word, het bygedra tot die linkse hubris in die land. Die spotprentkunstenaar Zapiro, byvoorbeeld, verlustig hom in Afrikanervernedering en -magteloosheid en druk waarskynlik ’n algemene gevoel in linkse kringe uit dat daar nou maar op die Afrikaner getrap kan word.

Ook die ANC straal ’n gevoel van almag uit wat besig is om hom te verlei om soos Mugabe eenvoudig teen die wette van die ekonomie, van billikheid en van regverdigheid te handel.

As ek dus sê dat ons op burgeroorlog afstuur, is dit geen hiperbool nie. Suid-Afrika betree tans ’n gevaarlike en onvoorspelbare tydvak in sy geskiedenis.

{mos_mb_discuss:13}

сауна в жулебиноФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae