SA kort meer kernkundiges

Image

Rob Adam

Suid-Afrika behoort meer mense op te lei in die veld van kernenergie, aldus Mosibudi Mangena, minister van wetenskap en tegnologie. Hy het gister ’n konferensie oor die vreedsame aanwending van kernenergie by Gallagher Estate in Midrand geopen.

Hy het gesê dat nuwe projekte gekompromitteer kan word as “menslike kapitaal ontwikkelingsinisiatiewe” nie prioriteit geniet nie. Die huidige kernkundiges is ouer mense en jonger persone móét opgelei word.

Van die projekte waarna die minister verwys het, sluit die Modulêre Korrelbedreaktor (MKBR) in, asook kerngebaseerde diagnoseringstegnieke om tuberkulose in ’n vroeë fase op te spoor en die bekamping van tsetsevlieë en vrugtevlieë deur middel van steriele-insektegnologie.

Sowat 1 400 mense is tans by die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika, Necsa, (die voormalige Atoomenergiekorporasie) werksaam.  Hulle bedryf chemiese, elektroniese en fisika-ingenieurswese aanlegte.  SAFARI 1, die navorsingsreaktor, is die mees gekommersialiseerde reaktor van sy soort ter wêreld waarmee Suid-Afrika miljoene Rande aan buitelandse inkomste verdien.

Die “ouerwordende” werkers na wie die minister verwys het, is nog steeds verantwoordelik vir feitlik al die navorsing wat by Necsa verrig word. Baie van die kundiges het egter intussen afgetree of is poste by die Internasionale Atoomenergie-agentskap in Wene, Oostenryk, aangebied.

Rob Adam, gewese direkteur-generaal van die Departement van mineraal-en-energiesake, het in Februarie verlede jaar die pos van besturende direkteur van Necsa aanvaar. Adam het in die tagtigerjare tronkstraf uitgedien as ANC-lid. Gedurende hierdie tyd in die gevangenis het hy sy honneursgraad en meestersgraad in teoretiese kernfisika aan Unisa behaal. Nadat hy sy doktersgraad behaal het, het hy ’n ruk lank by die Vrije Universiteit van Amsterdam gewerk. Sy hoofoogmerk by Necsa is om ’n oorhoofse strategie vir Suid-Afrika se kernenergiesektor te bepaal.

раскрутка сайтаданильченко юрій броніславович компромат

Maak 'n opvolg-bydrae