VN voorspel grootskaalse migrasie

Luidens ‘n berig in die Britse dagblad, The Telegraph, raam die VN dat die ryk Noorde elke jaar tot en met 2050 deur ‘n konstante stroom van 2,2 miljoen  immigrante aangevul gaan word. Die VK se bevolking sal in dié tydperk van 60 miljoen na 69 miljoen toeneem uitsluitlik te danke aan nuwe aankomelinge.

Dit volg uit die jongste verslag wat die VN se bevolkingsafdeling gister bekend gestel het oor die volgende vier dekades se migrasiestrome en hoe die globale prentjie vir altyd daardeur geraak en verander gaan word.

Daar sal in Afrika, Asië en die Midde-Ooste miljarde mense meer as in Europa en Amerika wees, terwyl inheemse bevolkings in ryk lande sal afneem of stagneer.

Die wêreldbevolking sal met 2,5 miljard toeneem en teen 2050 sal daar 9,2 miljard mense op aarde wees. Net die toename self is reeds gelykstaande aan die wêreldbevolkingtal soos dit in 1950 daar uitgesien het.

Sommige lande gaan sodoende eksponesieel groei en ander gaan dramaties krimp. Die VN voorspel dat die oostelike dele van Europa en die eertydse kommunistiese wêreld danksy emigrasie en knaend lae geboortesyfers gaan ontvolk.

‘n Land soos Bulgarye sal teen 2050 meer as ‘n derde van sy bevolking afstaan, terwyl die Oekraïene ook met nagenoeg ‘n derde sal krimp. Rusland se inwoners sal met 25% verminder en Pole met 20%. In Duitsland word 10% minder Duitsers vir die toekoms voorsien en in Italië 7%.

Die vloei van immigrante sal egter veroorsaak dat ontwikkelde lande se bevolkings deur vreemde besetting sal groei soos nog nooit tevore in die gekiedenis nie. Die bevolkingstal van die ontwikkelde wêreld word geraam op ‘n stabiele 1,2 miljard indien netto-immigrasie nie ‘n ingereken word nie.

Tussen 1970 en 1980 het ryk lande ongeveer ‘n miljoen immigrante ingeneem, maar vir die komende 43 jaar gaan daardie getal verdubbel.

‘n Halfmiljoen van die nuwe burgers sal uit Afrika kom en 1,2 miljoen uit Asië. Verskille in rykdom sal die vernaamste aantrekkingskrag wees. Die druk wat groeiende bevolkings egter binne hulle eie lande sal uitoefen, sal ook ‘n rol speel om die massaverskuiwing teweeg te bring.

Teen 2050 sal Indië die grootste bevolking op aarde hê met 1,7 miljard mense in totaal. Lande soos Pakistan en Nigerië sal net duskant 300 miljoen te staan kom. Oeganda sal styg tot 93 miljoen, groter as sy bure Kenia en Tanzanië.

Waterskaarste en arm landbougrond sal van die gevolge van hoë bevolkingsdruk wees. Tans sukkel Malawi byvoorbeeld om 13 miljoen mense te voed omdat die grond toenemend uitgeput raak en minder drakrag bevat.

Malawi sal, volgens die VN se vooruitsig, teen 2050 met ‘n bevolking van 32 miljoen opgesaal wees, meer as dubbel soveel mense wat water en voedsel vra. Om te kan oorleef sal Malawiërs dan ongetwyfeld op internasionale voedselhulp aangewese wees.

registration noлобановский александр дети

Maak 'n opvolg-bydrae