Mbeki se ‘kaffer’-brief

ImageMbeki se brief op ANC Today van verlede Vrydag waarin hy herhaaldelik die woord “kaffer” besig, spreek van sy onbevoegdheid om ’n multi-etniese land soos Suid-Afrika te regeer. Pleks dat hy verdraagsaamheid en respek tussen gemeenskappe bevorder, is hy besig om op die donkerste rassegevoelens van veral die swart bevolking te speel.

Die rede vir Mbeki se patetiese vertoning as staatshoof is nie ver te soek nie: sy mislukkings op die misdaadfront en wat sy benadering teenoor Zimbabwe betref, skrei ten hemele. Pleks dat sy regering daadwerklike stappe doen om die geweldsmisdaad te bekamp wat die land verskeur, het hy aanvanklik die bohaai oor misdaad as ’n blote “persepsie” afgemaak. Toe dit nie werk nie, val hy nou weereens terug op die holruggeryde geteem oor rassisme.

Hoewel Mbeki kennelik raadop is sover dit die hantering van sy eie presidentskap betref, bespeur mens tog ’n politieke logika aan sy jongste uitbarsting wat spesifiek teen blankes en waarskynlik Afrikaners gerig is. Ons weet dat sy regering so pas hierdie naweek radikale grondhervormingsplanne bespreek het. Sulke planne gaan, in die lig van die Zimbabwiese ineenstorting, vir seker plaaslike en internasionale kritiek ontlok. Deur die blankes weereens as bose rassiste te tipeer, hoop Mbeki dat hy met sy voorgestelde grondroofprogram gaan wegkom.

Meer in die algemeen voel Mbeki en ander swart nasionaliste waarskynlik dat hul morele kapitaal besig is om op te raak. Hoewel die ANC-leier en van sy ministers herhaaldelik spog dat hulle veral die Afrikaner deur hul glorieryke “stryd” oorwin het, weet hy net so goed soos ons dat dit nie die geval is nie en dat De Klerk en Roelf Meyer eenvoudig in hul onbesonnenheid alle staatsmag aan ’n twyfelagtige, radikale terroristegroep oftewel “bevrydingsbeweging” oorhandig het. Van ’n militêre oorwinning was daar nooit sprake nie.

Nietemin was daar ’n morele en propaganda-oorwinning wat deels aan die destydse naïwiteit van Westerse joernaliste oor die ware toestande in Afrika en deels aan die onbekwaamheid van die De Klerk-bewind toegeskryf kan word. Post-Zimbabwe en –Darfoer, met Rwanda nog vars in die geheue, is die beeld van die onskuldige swartman wat onder kolonialisme, rassisme en apartheid ly, ietwat aangetas, om die minste te sê.

Mbeki, hoewel sonder enige werklike insig in die pligte van ’n staatshoof of wat dit behels om ’n nywerheidsmaatskappy soos Suid-Afrika te regeer, is egter nie so dom dat hy nie besef dat die negatiewe publisiteit wat geweldsmisdaad ook in die internasionale media ontlok, stadig maar seker besig is om die gerieflike beeld van “die swartman as slagoffer” af te takel nie.

Die ANC se mag, anders as wat hy so dikwels spog met sy praatjies van ’n militêre oorwinning oor Afrikaners, is juis gebou op die swartman-as-slagoffer. Noudat dieselfde swartman hom onthul as ’n dikwels korrupte potentaat met ’n sibaritiese lewenstyl, maar ook as wreedaardige geweldenaar wat moor, verkrag en roof, word hierdie magsbasis wesentlik bedreig.

Vandaar dus die skuim-om-die-mond-aanklagte van rassisme wat Mbeki nou teen die blanke bevolking slinger, met die rojale gebruik van etniese skeltaal. Al het die meeste blankes lankal reeds aangepas by die pynlik politieke korrektheid van die ANC-bewind met sy Menseregtekommissie en ideologiese kommissaars wat ons taalgebruik polisieer, word hulle steeds daarvan beskuldig dat iemand, iewers nog die woord “kaffer” teenoor sy werkers besig.

Terwyl enige morele basis wat die ANC mag hê om verder hierdie land te regeer, besig is om sienderoë rondom ons te verkrummel, mag die woord “kaffer” nou die nuwe steierwerk verskaf om die wankelende bouwerk staande te hou. As dit maar al was, kon ons net weer vir Mbeki gelag het wat soos met sy onortodokse vigsmenings weereens ’n gek van homself maak.

Ongelukkig is daar ’n meer sinistere sy aan Mbeki se jongste uitbarsting. Deur sy gebruik van die woord “kaffer” beoefen Mbeki die “rassisme van anti-rassisme”. Eintlik wil Mbeki die vinger na alle blankes wys deur hulle as die vyand  te tipeer wat steeds – in weerwil van hul minderheidstatus, magteloosheid en toenemend ontwapende, reddelose toestand – die swart mag bedreig.

Op ’n indirekte manier is Mbeki besig met etniese aanhitsing. “Dáár is julle vyand,” sê hy vir sy mede-rasgenote. “Dáár is die rassiste wat julle almal as ‘kaffers’ en as minderwaardig beskou.”

Enigeen wat bekend is met die dinamiek van etniese konflikte, sal besef dat minderwaardigheidsgevoelens by meerderhede teenoor welvarende en gesofistikeerde minderhede deur die geskiedenis vir meer volksmoorde as enigiets anders gesorg het. Deur sulke gevoelens aan te blaas met verwysing na fiktiewe rassiste wat swartes as “kaffers” uitskel, is Mbeki besig om met vuur te speel.

Ek het voorheen al geskryf dat die weë van hierdie Xhosa-president duister is. Die raaisel van waarheen hy met die land op pad is, is besig om by die dag te verdiep.

как подобрать расширительный бак для системы отопленияФільчаков Олександр Васильович