Tamil Tiere se brul is uit

Die Tamil Tiere het gister erken hulle het ’n nederlaag gely in die 25 jaar lange oorlog met die regering van Sri Lanka en aangebied om hul wapens neer te lê namate regeringsmagte hul laaste vesting in die noordooste oorrompel het.

Die regering het die aanbod van ’n skietstaking verwerp en gesê die duisende burgerlikes wat in die oorlogsone vasgekeer was, is almal in veiligheid gebring en daar was geen rede meer om die stryd te staak nie.

Met die oorlog wat einde se kant toe staan, het inwoners van Sri Lanka die strate ingevaar en spontaan feesgevier. Pres. Mahinda Rajapaksa het ’n nuuskonferensie vir môre in die parlement belê wat reg oor die land gebeeldsend sal word.

Die lot van die Tamil Tiere se top-bevelvoerders blyk steeds onbeslis te wees, en dis onduidelik waar die kluisenaaragtige rebelleleier, mnr. Velupillai Prabhakaran, hom bevind. ’n Senior militêre amptenaar het gesê troepe het die lyke van verskeie rebelle-soldate gevind wat gister selfmoord gepleeg het toe hulle deur dié troepe omsingel is.

Dié lyke was vermoedelik dié van Prabhakaran en sy adjudante, maar die weermag probeer steeds hul identiteit vasstel, het ’n amptenaar gesê wat anoniem wou bly.

Gister het Tamil Tier-selfmoordbomaanvallers troepe geteiken en dié troepe het minstens 70 rebelle doodgemaak wat probeer vlug het, het die weermag gesê.

“Hierdie stryd het sy bittereinde bereik,” het die rebelle-amtenaar mnr. Selvarasa Pathmanathan luidens ’n verklaring gesê. “Dis ons mense wat nou sterf weens bomme, granate, siekte en honger. Ons kan nie meer toelaat dat hulle verder skade ly nie. Ons het besluit om ons gewere te laat sak.”

Hy het gesê die lyke van duisende burgerlikes en talle wat gewond is, lê op die slagveld. Die minister van media, mnr. Anura Yapa, het sy woorde verwerp en gesê regeringsmagte het alle burgerlikes gered. Aangesien die meeste joernaliste en hulpwerkers uit die oorlogsone verban is, was dit nie moontlik om die onderskeie weergawes te staaf of te weerlê nie.

подвесной светильникФильчаков Александр Васильевич